DIE “MARTELLO”-TORING, FORT BEAUFORT

Fort Beaufort, geleë in ’n hoefdraai van die Katrivier, dank sy ontstaan aan ’n militêre pos wat alhier in 1822 deur kol. Scott opgerig is om veral te waak teen die voortdurende plundertogte van Makomo. Van die begin het die pos ’n baie belangrike rol in die verdediging van die oosgrens gespeel. Teen die einde van die jare twintig in die 19de eeu is hier twee keer agtereenvolgens konferensies met Xhosahoofde gehou en gedurende die Sesde Xhosa-oorlog van 1834/35 was die omgewing van Fort Beaufort aanvanklik die stormsentrum.

Na afloop van die oorlog is ook hier in opdrag van sir Benjamin D’Urban begin met die oprigting van stewige vestingwerke. Die oorblyfsels van hierdie geboue is tans nog te sien in Bellstraat op die terrein van die Toring-hospitaal vir Sielsiekes. Die belangrikste en skilderagtigste van hierdie ou geboue is die sogenaamde “Martello”-toring. Oor die oorsprong van hierdie naam bestaan daar meningsverskil, maar dit kan aangeneem word dat dit ’n verbastering is van Mortella, en dat dit verband hou met ’n Britse vlootaanval op Kaap Mortella in Korsika in 1794. Daar was die verdedigers van ’n toring van hierdie tipe in staat om geruime tyd teen ’n baie groot oormag met voortrefliker wapens weerstand te bied. Aangesien hul sukses aan die aard van die toring toegeskryf is, is soortgelyke torings in Engeland vir kusverdediging opgerig en is hulle ook vir koloniale toestande geskik geag.

Hierdie ronde toring is ’n stewige gebou van groot bewerkte klippe. Die koepel van baksteen is besonder mooi. Die houtwerk wat enkele jare gelede uitgebrand het, is tans weer herstel sodat die besoeker na die oop ruimte bo-op kan opklim. Hier op ’n houtstellasie staan nog ’n ou kanonnetjie wat in die rondte kan draai.

Hierdie Fort is tot 1869 deur ’n garnisoen beman en het gedurende al hierdie jare vir die inwoners van die dorpie en distrik as ’n vesting gedien. Noemenswaardig is veral die aanval van die Hottentotte onder Hermanus in 1851.

(Geproklameer 1938)

Foto: Die Martello-toring • S.A. Spoorweë en Hawens

Bron: Oberholster, J.J. 1972. Die Historiese Monumente van Suid-Afrika. Kaapstad: Die Kultuurstigting Rembrandt van Rijn, p. 155.