
DIE PELLISSIER-HUIS, BETHULIE
In 1829 het die Paryse Sendinggenootskap sy eerste drie sendelinge na Suid-Afrika gestuur. In 1831 is hulle geledere versterk deur die koms van Jean Pierre Pellissier. Saam met Rolland en Lemue het hy na Betsjoeanaland gegaan en op Motito, naby Kuruman, ’n sendingstasie onder die Bahurutsi te stig. In 1833 verhuis Pellissier egter na Bethulie in die Suid-Vrystaat waar hy die reste van ’n Ba’Thlapingstam onder opperhoof Lepui verenig om sendingwerk onder hulle te doen.
Een van Pellissier se eerste take was om vir hom en sy vrou ’n onderdak te voorsien. Met die hulp van C. Gosselin, ’n sendeling-ambagsman, het Pellissier in 1834 met die bou van sy huis begin. Die werk het baie stadig gevorder, want die boumateriaal moes van ver af aangekarwei word, maar dit was ’n stewige gebou. Die twee gewelmure was 90 cm dik en die dak van strooi. Dit was ruim met ’n voorhuis en etlike slaapkamers. Eers in Augustus 1835 kon Pellissier sy nuwe huis betrek.
Die Pellissier-gesin het vinnig aangewas en eerw. Pellissier was verplig om by die huis aan te bou. In 1853 het hy twee platdakkamers aan die een kant en in 1856 twee kamers aan die ander kant aangebou.
Gedurende die 32 jaar van sy onbaatsugtige en toegewyde arbeid onder die Ba’Thlaping te Bethulie het Jean P. Pellissier in hierdie huis gewoon. Dit was jare van uiterste inspanning en spanning en gedurende die Basoeto-oorloë was die lewe van die gesin dikwels in gevaar. Na die dood van Jean Pellissier het sy enigste seun, Samuel, in besit van die huis gekom en hy het daar tot 1889 gewoon.
Die ou huis, wat tans as museum dien, is een van die oudste huise noord van die Oranjerivier. Dit staan daar as ’n monument ter herdenking aan die vroegste sendingarbeid onder die nie-blanke volke.
(Bronsplaat 1958)
Foto: Bethulie met kerk en sendinghuis op voorgrond • E. Casalis: The Basutos
Bron: Oberholster, J.J. 1972. Die Historiese Monumente van Suid-Afrika. Kaapstad: Die Kultuurstigting Rembrandt van Rijn, pp. 216-217.