DIE RETIEFKLIP, KERKENBERG, DIST. HARRISMITH
Dertig km suid van Harrismith loop die pad na Bergville in Natal met die steil Oliviershoekpas die Drakensberge oor. Byna bo-op die pas draai ’n paadjie links weg, gaan deur die Oudebergspruit en dan teen ’n steil, klipperige helling uit tot op ’n klein plato reg onder die rotsstapel van die Binghamberg. Hier is die Retiefklip geleë, een van die bekendste bakens op die roetes van die Voortrekkers.
Piet Retief se trekgeselskap het uit die omgewing van Bethlehem gekom en op 2 Oktober 1837 aan die voet van hierdie berg uitgespan. Hier was uiteindelik 54 waens byeen. Op 5 Oktober het Retief met 14 man op sy eerste besoek aan Dingane vertrek. Veertien dae later, op 19 Oktober, het die trek stuksgewys die berg begin uitgaan. Die hooflaer, wat uit 23 waens bestaan het, was in die afwesigheid van Piet Retief onder bevel van sy stiefseun, Abraham Greyling. Hierdie geselskap het links van die Oudebergspruit teen die berghelling uitgetrek en uiteindelik hoog teen die berg ’n fontein bereik naby die huidige Retiefklip waar hulle “in ’n aangename landouwe” uitgespan het.
Hierdie “legerplaats” aan die bergrand is deur Erasmus Smit, die penvoerder van die Voortrekkers, Kerkenberg genoem. Hy skryf: “Hier sagen we op ’n bergheuvel weer ’n wonder der natuur—namelijk een of twee losse bergen op of aan de hoge berg, waarvan de ene als ’n donker spelonk was”. Op ’n ander plek beskryf hy dit as volg: “Drie aaneengrensende ruimten, die … met weinig moeite tot ’n Kerk of plaats van Godsdienstige byeenkomste konden gemaakt zijn”.
Op Piet Retief se 57ste verjaardag, 12 November 1837, toe hy nog nie van Dingane terug was nie, het sy dogter, Debora, haar vader se naam en die datum hier teen die oorhangende rots met groen verf geskryf: P. Retief Den 12 Novr 1837. Tereg het Erasmus Smit voorspel “daar deze rots verwulfs-gewijze naar binnen overhelt, zal ’t niet licht uitregenen of uithale”. Die name op die rots wat vandag rondom Retief s’n te sien is, is dié van lede van die Bethlehemse kommando wat op 10 Oktober 1899 Oliviershoekpas beset het.
Hierdie standplaas getuig nie alleen van die bedrewenheid en die versigtigheid waarmee die Voortrekkers hulle standplase gekies het nie, maar ook van hul aanvoeling en liefde vir die natuurskoon. Die groot rotse het die Voortrekkers beskutting gebied aan die noordekant en verder kon hulle in alle ander rigtings ’n onbelemmerde uitsig oor die hele omgewing geniet.
Abraham Greyling het tot 13 November hier gestaan. Toe het hy sy laer opgebreek en reg oos getrek tot op die rand van die Drakensberge, waar die Voortrekkers ’n landskap van buitengewone skoonheid aanskou het. Met die kort, steil Retiefpas is die trek die berg af tot in Natal.
(Geproklameer 1939)
Bron: Oberholster, J.J. 1972. Die Historiese Monumente van Suid-Afrika. Kaapstad: Die Kultuurstigting Rembrandt van Rijn, pp. 226-227.