
DIE SLAGVELD VAN BOOMPLAATS, 1848, DIST. TROMPSBURG
Vanaf Trompsburg loop ’n gruispad byna reg wes na Jagersfontein. As ’n mens met hierdie pad ry, sien jy van vér af die hoë rante met die kenmerkende spitskop aan die voet waarvan Boomplaats geleë is. Ongeveer 24 km van Trompsburg draai weer ’n plaaspad skerp regs en loop in die kloof van die Kromellenboogspruit op na die historiese slagveld van Boomplaats.
Na die anneksasie van Natal deur Groot-Brittanje in 1842 het die Voortrekkerleier, genl. A.W.J. Pretorius, ’n tyd lank in die nuwe Britse kolonie agtergebly. Uiteindelik het hy egter ook besluit om dit te verlaat en na Transvaal te verhuis. Op die Drakensberge ontmoet hy die Kaapse goewerneur, sir Harry Smith, wat op reis deur die Transgariep na Natal was. Smith deel hom mee dat hy van voorneme is om die hele gebied van die Trekkers te annekseer omdat, volgens hom, die meerderheid ten gunste daarvan was. Omdat Pretorius laasgenoemde bewering sterk in twyfel getrek het, is ooreengekom dat Smith nie die gebied tussen die Oranje- en die Vaalrivier sou annekseer nie alvorens Pretorius die Trekkers se mening daaromtrent ingewin het. Pretorius was egter nog besig om oral byeenkomste te hou, toe Smith op 3 Februarie 1848 die gebied tot die Oranjerivier-Soewereiniteit proklameer.
Die republikeinsgesinde Trekkers in die omgewing van Winburg was woedend en hulle het die hulp van die teleurgestelde Pretorius, wat hom nou reeds in die Magaliesberge gevestig het, ingeroep om hulle van die “Britse juk” te bevry. Aan die hoof van ’n kommando het hy na die Oranjerivier opgeruk om aan Smith te demonstreer dat die oorgrote meerderheid van die Trekkers nie bereid was om hulle aan sy optrede te onderwerp nie en om met hom oor die onafhanklikheid van die Transgariep te onderhandel. Sir Harry Smith was egter nie in ’n luim om te onderhandel nie. Pretorius en die ander leiers is as rebelle voëlvry verklaar; troepe is na Colesberg gestuur en Smith het hom gehaas om oor hulle die bevel te voer.
Toe dit blyk dat alle pogings tot onderhandeling tevergeefs was, het Pretorius met die Boerekommando effens teruggeval. ’n Gedeelte van die kommando het hy by Velkraal gelaat en met ongeveer 500 man het hy in ’n halwe sirkel in die rantjies by Boomplaats stelling ingeneem om die opmars van Smith af te wag. Links op ’n hoë rant het 200 man onder bevel van komdt. Adriaan Stander hulle verskans. In die middel agter die rantjies, wat die pad reghoekig sny, het Pretorius met ’n afdeling gelê en na die weste het komdt. Jan Kock met sy manskappe stelling ingeneem.
Pretorius se voorneme was om Smith in ’n lokval te lei en hy het opdrag gegee dat niemand mag skiet nie voordat die vyand volkome onder skoot was. Smith was egter gewaarsku dat die Boere in die rantjies geskuil het en het die posisie met die grootste versigtigheid genader. Hy het Stander se linkervleuel gewaar en ’n afdeling Cape Mounted Rifles gestuur om hulle aan te val. ’n Senuagtige Boer kon die spanning nie langer verduur nie en het ’n skoot afgetrek. Toe het dit oor die ganse linie losgebrand. Die Boere se aanvalsplan is verraai. Die Britse kanonne is in aksie gebring en hoewel die Boere vanaf ’n koppie, uit die woonhuis en uit die klipkrale hardnekkig weerstand gebied het, moes hulle agter die rantjies oor die Kromellenboogspruit terugval.
Aan Boerekant het nege man gesneuwel o.a. N. Du Buisson, P. Erasmus, D. Lafnie, D. Steyn, Fourie en twee De Beers, terwyl daar ses gewond is. Die Engelse verliese was sestien man gedood en ’n veertigtal gewond. Op die slagveld tussen die lusernlande lê vandag nog die grafte van twee Engelse offisiere terwyl bo-op die koppie wat uitkyk oor die slagveld ’n gedenkteken ter ere van die gesneuwelde Boere opgerig is.
Van Boomplaats is sir Harry Smith na Bloemfontein, waar hy ’n droster, Michael Quigley, en ’n jong burger, Thomas Dreyer, Iaat fusilleer het. Die opstandelinge is ’n boete van R20 000 opgelê om die koste van die ekspedisie te delg.
(Bronsplaat 1966)
Foto: Boomplaats • J.H. Hofstede: Geskiedenis van den Oranje-Vrijstaat
Bron: Oberholster, J.J. 1972. Die Historiese Monumente van Suid-Afrika. Kaapstad: Die Kultuurstigting Rembrandt van Rijn, pp. 214.