DIE TWEETORINGKERK

In die hartjie van Bloemfontein, dwars in die weg in Kerkstraat, staan hierdie merkwaardige ou kerk wat baie dekades die simbool van die Afrikaanse kerklike lewe in hierdie stad was.

Die Ned. Geref. gemeente Bloemfontein is op 30 November 1848 gestig. Aanvanklik is die dienste in die Eerste Raadsaal in St. Georgesstraat gehou, maar op 6 Januarie 1849 het majoor Henry Warden, Britse Resident, die hoeksteen van die eerste kerkgebou gelê op die terrein waarop die Tweetoringkerk tans staan. By die geleentheid het hy ook ’n kerkklok aan die gemeente gegee. Met die bou van hierdie kerk het dit maar langsaam gevorder en die gemeente kon dit eers na vier jaar, op Saterdag 29 Mei 1852 in gebruik neem.

Die bevolking van die hoofstad het vinnig aangewas en die kerkgebou het spoedig te klein geword. In 1862 was daar reeds sprake van die bou van ’n nuwe kerk. Daartoe sou egter eers in 1874 oorgegaan word. Die boumeester A.W. Wocke, wat ook die kerk van Philippolis gebou het, het ’n plan ontwerp wat die gemeente R35 000 sou kos. Geld was skaars, maar die plan is op ’n gemeentevergadering aanvaar en daar is in die geloof tot die bou van die kerk oorgegaan. Die ou gebou is gesloop om vir die nuwe plek te maak en intussen moes die gemeente sy eredienste in die pakhuis van die firma G.A. Fichardt net oorkant die straat hou.

Op 10 Mei 1878 het president J.H. Brand in die teenwoordigheid van ’n reuseskare die hoeksteen gelê. Presies twee jaar daarna was dit voltooi gewees en op 7 Mei 1880 het die inwyding van die nou so alombekende Tweetoringkerk plaasgevind. Duisende mense het na die hoofstad gestroom en negentien predikante van die Ned. Geref., die Lutherse, en die Wesleyaanse Kerke het die verrigtinge bygewoon. By die geleentheid is ook die orrel wat deur die vroue geskenk is, en wat die gemeente sestig jaar sou dien, in gebruik geneem. Die preekstoel van mahoniehout is deur Ernst Schmidt, ’n seun van ’n Duitse sendeling, en ’n lidmaat van die gemeente, vir die geringe bedrag van R700 vervaardig. Dit is beskryf as “een der schoonste geschenken tevens … aan die gemeente.”

Die kerk het onveranderd bly staan tot 1935 toe een nag in April die westelike toring met horlosie en al ineengestort het. Omdat die gevaar bestaan het dat ook die ander toring kon inval, is dit omgetrek en is albei torings tot op die hoogte van die dak toegemaak. Nou eers was dit werklik duidelik wat ’n unieke karakter die twee torings aan die kerk verleen het. Onder die besielende leiding van ds. C.R. Kotzé is in die jare vóór en gedurende die Tweede Wêreldoorlog geld ingesamel nie alleen die herstel van die torings nie, maar ook vir die vergroting van die konsistorie en die aanbou van ’n doopkamer en ’n kantoor vir die scriba. Teen die einde van 1942 het altwee torings weer herrys en op 1 Mei 1943 is die vernieude kerk ingewy.

In 1952 is die ou kerk weer eens deur ’n groot ramp getref. Daar is by die gebou ingebreek en brand gestig. Die pragtige historiese kansel is deur brand verwoes en die orrelpype beskadig. Dit het baie groot verontwaardiging veroorsaak, en die gemeente het die spoedige herstel van die skade as ’n uitdaging aanvaar. Die kansel sowel as die orrel is baie gou herbou.

Die tradisie van hierdie ou kerkgebou is onafskeidbaar met die geskiedenis van Kerk en Staat in die Oranje-Vrystaat verweefd.

Onder die waardige kerkvaders wat daarin gepreek het, was di. G. van de Wall, G. Radloff, C. Morgan, T. Kriel, P.J.J. Boshoff, C.D. Murray, J.D. Kestell, C.R. Kotzé, en andere.

Die kerk het ’n belangrike rol vervul in die feesvieringe van staat en kerk. In hom is die laaste drie staatspresidente van die Republiek van die Oranje-Vrystaat – J.H. Brand, F.W. Reitz en M.T. Steyn – beëdig. Hier is wydingsdienste gehou by spesiale geleenthede soos die opening van die Gedenksaal in die nabyheid (1898), die onthulling van die Nasionale Vrouemonument (1913), die viering van die eeufeeste (1952 en 1954), die onthulling van die De Wet-monument ens. In 1930 het die gemeente sy vyftigjarige en in 1955 sy vyf-en-sewentigjarige bestaan gevier.

Maar die historiese ou kerk het ook die smarte van sy gemeenskap gedeel en gelenig. Uit hom is manne begrawe soos president M.T. Steyn, genl. C.R. de Wet en ds. J.D. Kestell.

(Geproklameer 1963)

Foto: Ian Traill • Die Tweetoringkerk

Bron: Oberholster, J.J. 1972. Die Historiese Monumente van Suid-Afrika. Kaapstad: Die Kultuurstigting Rembrandt van Rijn, pp. 212.