
OU NATALSE WETGEWENDE VERGADERINGS- EN RAADSGEBOU
Op die hoek van Commercial- en Langmarkstraat lê daar ’n kompleks van geboue en tuine wat aan die sentrale Pietermaritzburg grootliks sy unieke karakter verleen. Onder die geboue tel veral die ou koloniale raadsaal, die Hooggeregshof en die Presbiteriaanse kerk. Die behoud van hierdie ganse kompleks is die ideaal, maar tot dusver is nog slegs die ou koloniale raadsale tot die status van historiese monumente verhef.
In 1856 het Natal ’n afsonderlike kolonie geword en ’n stelsel van verteenwoordigende regering is aan hom gegee. Aan die hoof van die uitvoerende gesag het die goewerneur en ’n uitvoerende raad van benoemde amptenare gestaan, terwyl die wetgewende gesag behartig is deur ’n wetgewende raad bestaande uit twaalf verkose koloniste en vier benoemde amptenare.
In Pietermaritzburg was daar ’n groot behoefte aan ’n vergadersaal vir die Hooggeregshof sowel as vir die nuwe hoogste wetgewende liggaam van die kolonie. Die Hooggeregshof het sy sittings in die ou Voortrekker-raadsaal gehou wat egter al hoe meer na ’n verlate koeistal begin lyk het. In 1864 is daar planne vir ’n nuwe Hooggeregshofgebou op die groot erf teenoor die marksaal deur Peter Paterson opgestel. ’n Jaar later is die hoeksteen van die gebou met groot seremonie deur kol. J.J. Bisset, luitenant-goewerneur van Natal, gelê. Met die bouwerk is uiters stadig gevorder en in een stadium was daar slegs één werksman op die terrein. Met die koms van Robert Keate as luitenant-goewerneur in 1867 is daar egter daadwerklik met die oprigting van die gebou begin en in 1871 kon die Hooggeregshof dit betrek. Die hofsaal met sy rooi draperings is nou ook deur die Wetgewende Raad vir sy sittings gebruik.
In die jare tagtig het die beweging vir verantwoordelike regering in Natal kragtig toegeneem en met die oog op die uiteindelike huisvesting van so ’n regering is besluit om ’n waardige raadsaal te bou. Om vir hierdie gebou plek te maak, is die St. Mariakerk wat nou reeds vir ’n geslag as sendingkerk gedien het, klip vir klip afgebreek en op die hoek van Commercial- en Burgerstraat herbou. Die hoeksteen van die nuwe gebou is deur die goewerneur, sir A.E. Havelock, gelê op 21 Junie 1887 ter herdenking van die jubileum van koningin Victoria. Twee jaar daarna is die gebou in gebruik geneem.
In 1893 het Natal verantwoordelike regering gekry. Die nuwe konstitusie het voorsiening gemaak vir ’n parlement van twee huise—’n wetgewende raad van elf benoemde lede en ’n wetgewende vergadering van 37 lede. Laasgenoemde het sy intrek in die reeds voltooide raadsaal geneem en dit het bekend geword as die Gebou van die Wetgewende Vergadering. Daar moes egter nou vir ’n tuiste vir die Wetgewende Raad voorsiening gemaak word. Planne vir so ’n gebou, wat net langs die Gebou van die Wetgewende Vergadering opgerig sou word, is deur A.E. Dainton, argitek van Openbare Werke, opgestel en die koste is op R50 000 bereken. Op 12 September 1898 het die goewerneur, sir Walter Hely-Hutchinson, die hoeksteen gelê. Die kontrak vir die oprigting van hierdie Gebou van die Wetgewende Raad is aan F. Turner toegesê.
Met Uniewording het die Gebou van die Wetgewende Vergadering die tuiste van die Provinsiale Raad geword en dit vervul tans nog hierdie funksie. Die Gebou van die Wetgewende Raad is agtereenvolgens vir ander doeleindes gebruik, o.a. het dit ’n tyd lank die Departement van Onderwys gehuisves, waarna dit die hoofkwartier van hospitaaldienste geword het.
Hierdie geboue staan nie slegs daar as die simbole van die grondwetlike ontwikkeling van Natal nie, maar as voorbeelde van die argitektuur van openbare geboue van die tyd.
(Geproklameer 1968)

Foto: Wetgewende Raad- en Wetgewende Vergaderinggebou • A.V. Farren
Bron: Oberholster, J.J. 1972. Die Historiese Monumente van Suid-Afrika. Kaapstad: Die Kultuurstigting Rembrandt van Rijn, pp. 242-244.
