DIE VIERDE RAADSAAL

Geskiedenis

Die vierde en laaste Raadsaal van die Republiek van die Oranje-Vrystaat staan in President Brandstraat. Dit is trouens een van die geboue wat aan hierdie straat sy besondere waardigheid verleen.

Die geskiedenis van die raadsale van die Volksraad van die ou gewese Republiek van die Oranje-Vrystaat is die verhaal van die groei van ’n trekkergemeenskap tot ’n gevestigde, volwaardige en welvarende volk. Die eerste ou Raadsaaltjie met sy rietdak is in 1849 gebou. In 1856 het die Volksraad na die tweede Raadsaal verskuif, die winkel van Jordaan aan die Markplein waar die hoofposkantoor vandag geleë is. Eers twintig jaar daarna het die Goewerment aan die bo-end van Maitlandstraat sy eie gebou opgerig waarby die derde Raadsaal ingesluit was.

So vinnig het die staat gegroei en die administrasie uitgebrei, dat daar aan die begin van die jare tagtig al weer ’n gebrek aan kantoorruimte was. Nou is besluit om ’n nuwe presidensie en ’n nuwe raadsaal te bou en in opdrag van die Volksraad het die Uitvoerende Komitee ’n prysvraag vir die opstel van planne vir hierdie geboue uitgeskryf. In albei gevalle is die planne van Lennox Canning, ’n argitek van Johannesburg, met die prys bekroon.

Die Presidensie is in 1886 volgens die ontwerp van Canning voltooi. As gevolg van langdurige droogte en die gevolglike tekort aan geld kon daar egter eers in 1889 met die bou van die Raadsaal begin word nadat die huidige terrein vir R700 van die Stadsraad aangekoop is. ’n Tender vir R54 367 van T. R. Robertson van Johannesburg is aangeneem en op 27 Junie 1890 het president F. W. Reitz die hoeksteen gelê.

Dit sou egter ’n volle drie jaar duur alvorens die gebou voltooi sou wees, want die kontrakteur het skielik voor ’n tekort aan arbeid en geskikte klip te staan gekom. Laasgenoemde probleem het hom genoop om nuwe steengroewe oop te maak en die klip oor lang afstande te vervoer. Dit het sodanige groot en onvoorsiene uitgawes meegebring dat Robertson verplig was om kontrak te breek. Nadat sy borge, Heimann en Kie, ook nie die mas kon opkom nie, moes die regering nuwe tenders vir die voltooiing van die gebou vra en die tender van R25 000 van ’n sekere J. J. Kirkness is aanvaar.

Op 5 Junie 1893 kon die ingebruikneming plaasvind. Om 10 vm. het die Volksraad in die derde Raadsaal in die Goewermentsgebou vir die Iaaste maal byeengekom. Vandaar is in ’n optog na die nuwe Raadsaal gegaan. Die optog is gelei deur die balju van Bloemfontein met die Vrystaatse vlag te perd en bewaak deur berede artilleriste. Daarop het gevolg die artillerie-orkes, die serernoniemeester en die argitek met die sleutel van die gebou. Dan het gevolg drie-drie in gelid: president Reitz, J. G. Fraser, die Voorsitter van die Volksraad, ds. C. S. Morgan, die Volksraadslede, die hoofregter en regters, lede van die Uitvoerende Raad, konsuls en konsulêre agente, pastore van die verskillende denominasies, hoofamptenare en die rektor van die Grey-Kollege, burgemeester en die lede van die stadsraad, algemene bestuurder van die Nasionale Bank, voorsitter en lede van die Kamer van Koophandel en uiteindelik die burgers—altesame tussen 600 en 700 mense.

By die aankoms van die optog by die saal het die President dit met die versilwerde sleutel oopgesluit en die optog het die saal binnegegaan. Nadat die verrigtinge met Skriflesing en gebed geopen was, het pres. Reitz, John G. Fraser en ander kort redes gelewer en daarna het die gehoor met groot geesdrif die Vrystaatse Volkslied gesing.

Kort voor die inwyding is ’n spesiale Kommissie van Toesig oor die Raadsaalgebou, bestaande uit John Fraser, Cornelius Wessels en J. A. Venter, in die lewe geroep. Hierdie Kommissie het in die daaropvolgende paar jaar die pragtige gordyne en tapyte van D. Isaacs en Kie. van Kaapstad aangekoop, die kunstige traliewerk rondom die gebou van Koch-broers in Parys, Frankryk, bestel en teen ’n totale koste van R8 000 laat oprig, die akoestiek van die saal baie laat verbeter, en in 1896 die groot betonwapen van die Republiek op die voorgewel laat aanbring.

Lank sou dit die Republiek egter nie gegun word om die gerief en weelde van hierdie Raadsaal te smaak nie. In Maart 1900 is Bloemfontein deur die Britse magte beset en die Republikeinse regering het na die noorde uitgewyk. Die trotse saal is in ’n militêre hospitaal omgeskep. Die meubels is verwyder en baie het in private wonings beland. Die pragtige houtsnee-wapen is na Engeland as oorlogsbuit weggevoer. Na afloop van die oorlog is bokant die swaar kiaathout-voordeur die Britse wapen in klip aangebring. Dit is eers onlangs op besluit van die Provinsiale Raad verwyder.

In 1907 is na sewe jaar van Kroonkoloniebestuur aan die Oranjerivierkolonie selfregering verleen. Hierdie regering het uit twee kamers of huise bestaan, nl. ’n Wetgewende Raad en ’n Wetgewende Vergadering.

Vanselfsprekend sou die verkose Wetgewende Vergadering in die Raadsaal sitting neem, maar plek moes vir die sogenaamde hoërhuis ingeruim word. Nadat ’n spesiale komitee, bestaande uit Abraham Fischer, J.B.M. Hertzog en John Fraser, noukeurig ondersoek ingestel het, het hulle aanbeveel dat daar nie aan die bestaande gebou geraak word nie, maar dat ’n losstaande gebou met vooraansig na Aliwalstraat opgerig sal word. Hierdie gebou moes argitektonies met die ou gebou volkome harmonieer en moes deur middel van ’n ope suilegang met die Raadsaalgebou verbind wees. Hierdie aanbevelings is aanvaar, planne is opgestel, en die bekende oostelike blok is gebou.

Na Uniewording in 1910 het die ou Raadsaal die setel van die Provinsiale Raad geword, terwyl die saal van die Wetgewende Raad sowel as die meegaande kamers deur die Appèlhof betrek is. Die Appèlhof het dan ook hier vergader totdat die sierlike gebou teenoor die Raadsaal in 1929 voltooi is.

Die Raadsaal is in 1951 tot ’n historiese monument verklaar.

In 1954 is die pragtige standbeeld van genl. C. R. de Wet, werk van die Suid-Afrikaanse beeldhouer, Coert Steynberg, op die noordwestelike hoek van die Raadsaalterrein opgerig.

Foto: Lennox Canning • Argitekstekeninge van die Vierde Raadsaal • Staatsargief, Bloemfontein

Argitektonies

Die Vierde Raadsaal is die juweel in die Vrystaatse boukuns. Gebou in die Renaissance-boustyl, waarin die belangrikste kenmerke van die Griekse en die Romeinse boustyl weer kragtig na vore tree, vertoon dit as ’n ware monument. Dit is veral waar van die trotse en dominerende vooraansig. Grieks is die trappe, die portiek, die wye suilegange voor en aan weerskante van die saal, die gegroefde suile met hulle Ioniese kopstukke, die fries, die pediment en die kroonlys. Op die Griekse onderbou rus die Romeinse koepel met sy ag boogvormige openinge, die lantern-motief en vlagpaal.

Die interieur van die saal het daardie waardigheid, rustigheid en adel wat in die verlede onwillekeurig luister en status aan die hoogste vergadering van die ou Republiek en die huidige Provinsie verleen het. Dit is die resultaat van berekende en gevoelvolle beplanning. Die sirkelvormige voorhalle en aangrensende syportale verleen passende toegang tot die saal. Die koepelagtige, geboetseerde plafon, met versierde kroonlys en bolig van kleurglas, wek die indruk van ruimte en verhewendheid. Dit was ook die geval met die twee syportale met hulle versierde kroonlyste en kruisgewelf, maar ongelukkig het hul veel van hul karakter verloor toe albei die hoofhalle afgesluit en in kantore omgeskep is. Die vloere van die portale is van Devonshire-marmer en in die middel van die hoofportaal is die wapen van die O.V.S. in daardie marmer van verskillende kleure uitgelê.

Kunstig en interessant is ook die binnekant van die groot saal. Die groot vlakke van die lang, hoë mure word deur gegroefde pilasters met sierlike Korintiese kopstukke gebreek. Bokant hierdie kopstukke loop daar rondom die saal ’n pragtige tandlys met geblomde pateras asook ’n kroonlys en fries. Die vloer is van ligte Stettin-eikehout, die binnedeure, kosyne en galery-front van greinhout, bruin geverf met greinering om by die bruin okkerneuthout van die meubels aan te pas. Die ruite van die vensters is van kleurglas waarop afwisselend die wapen van die O.V.S., ’n roset en ’n lier voorkom. Lennox Canning, die argitek, het self die ameublement en die houtwerk in die saal ontwerp en wel so dat dit noukeurig by die argitektuur van die gebou aanpas. Die ameublement van die Raadsaal is die treffendste. Pragtig veral is die troonhemel, wat ’n inherente deel van die binne-argitektuur van die saal vorm. Dit bestaan uit die muurbeskot of paneelwand, ’n platform, drie lessenaars en drie stoele. Die beskot, ryklik versier, het terselfdertyd die agtergrond tot die wapen van die Oranje-Vrystaat uitgemaak. Die houtsneewapen in kleur wat tans daarop pryk, is in 1856 reeds deur die goewermentsekretaris, J. W. Spruijt, vervaardig en dit het dwarsdeur die republikeinse jare in die verskillende raadsale gehang. In 1900 is dit na Londen as buit weggevoer en dit is eers in 1938 teruggebring. Voor die paneelwand staan dan ’n drieledige tafel en daaragter drie stoele. Die groot stoel in die middel was vir die president bedoel en aan weerskante daarvan dié van die voorsitter van die Volksraad en die goewermentsekretaris.

Voor die troonhemel staan ’n pragtige ronde tafel van twee meter deursnee en aan weerskante van die saal die lessenaars en stoele van die raadslede. Hierdie deel van die huis is dan deur ’n pragtige afskorting van die res van die saal afgesluit. Agter die afskorting was daar plek vir die besoekende publiek en hier was daar 282 stewige stoele. Verder was daar twee beweegbare vouskerms en op die galery stoele met opklapsitplekke. Die kantore van die president, voorsitter en sekretaris, sowel as die komitee- en ledekamers, is streng ooreenkomstig gebruik, gemeubileer.

Soos reeds gesê is hierdie ameublement so ontwerp dat dit in volle harmonie met die boustyl van die Raadsaal is. Daarom word in die meubels die argitektoniese kenmerke van die gebou tot in die fynste besonderhede herhaal. So word die gegroefde suile met Ioniese kapitele in die muurbeskot, die pote van die tafels, stoele, staanders aan weerskante van die kaggels en selfs in die bronsstaander van die lampe op die afskorting herhaal. Die pediment en kroonlys in die voorgewel word weer in die leuning van die presidentstoel en in sommige boekkabinette, sytafels en kaggels herhaal. Van die gegroefde pilasters binne die saal word ryklik in byna elke meubelstuk gebruik gemaak. Dit is ook die geval met die lier en die roset in die vensterruite. Die lier kom, onder andere, in die leunings van die stoele van die publiek voor, terwyl die koppe van die ornamentele spykers waarmee die stoffeerwerk vasgesit is, rosette is.

Bo en behalwe hierdie versierings word nog van die volgende dekoratiewe lyste gebruik gemaak: die kraallys of astragalus, die tandlys of dentils, die sleutelrandlys en die eier- en spieslys wat die siklus van lewe en dood versinnebeeld.

(Geproklameer 1951)

Foto: F.A. Deale • Die Vierde Raadsaal • Nasionale Museum, Bloemfontein

Bron: Oberholster, J.J. 1972. Die Historiese Monumente van Suid-Afrika. Kaapstad: Die Kultuurstigting Rembrandt van Rijn, pp. 207-210.