DIE VOORTREKKERMONUMENT 1 – BUITE DIE MONUMENT
AGTERGROND
Die Voortrekkermonument staan op ’n koppie net suid van Pretoria se middestad. Die terrein is ’n ware kultuurtuiste met die Voortrekkermonument, die FAK, en die Erfenisstigting wat hier gesetel is. Buiten vir kultuur en geskiedenis, bied die terrein ook ’n natuurreservaat waar besoekers hulle met die prag van die natuur kan omring in die middel van ’n besige stad.

Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge
Die FAK bied verskeie funksies regdeur die jaar aan wat die besonderse prestasies van Afrikaanse taal en kultuur ten toon stel.
Die Erfenisstigting
Die Erfenisstigting beskik oor ’n navorsingsbiblioteek en argief waar historiese dokumente met betrekking tot Afrikaanse (of Afrikaner-) geskiedenis vir navorsers bewaar word. Die Erfenisstigting bied verskeie unieke en opvoedkundige uitstallings aan die publiek.
Lewende Laer
Geskiedenis word op ’n opwindende, tasbare wyse by die Lewende Laer, aan die oostekant van die Monument, aangebied. Die Pioniersentrum is die ideale plek om skoolgroepe ’n beter blootstelling aan die geskiedenissillabus te gee.
Restaurante
Om seker te maak dat besoekers nie honger huis toe moet gaan nie, is daar twee eetplekke op die terrein, naamlik Uitspan-Deli en Skool op Wiele Restaurant, wat heerlike tradisionele disse aan besoekers voorsit.
DIEPER DELF
Magaliesberg
Die Magaliesberg is duidelik sigbaar vanaf die Monument se noordelike uitkykpunt. Hierdie bergreeks vorm ’n waterskeiding wat strek van die oostelike dele van Pretoria tot sover wes as Rustenburg in die Noordwesprovinsie.
Geologie van Monumentkoppie
Alhoewel daar nog nie ’n geologiese studie van Monumentkoppie voltooi is nie, verwys verskeie literatuurbronne daarna dat die koppie se geologiese samestelling hoofsaaklik uit dolomiet bestaan. Die strata in die sigbare rotslae is duidelik in diagonale lyne. Hierdie diagonale lae is veroorsaak deur die tektoniese kragte wat uitgeoefen is tydens die vorming van die Vredefortkoepel. Hierdie kragte het die horisontale sedimentlae na bo forseer en daarom sien ons dit vandag as diagonale sedimentêre rotslae.
Graniet waarmee die Monument gebou is
Die granietblokke waarmee die Monument gebou is, is deur Cornelius Pretorius van Bloemfontein neergelê. Potgieter het elkeen van die sowat 60 000 granietblokke self hanteer, met 30 klipkappers wat hom van die nodige boumateriaal voorsien het.
Fauna en flora
Bome – 94 inheemse boomspesies
Gras – 64 grasspesies
Voëls – 120 voëlspesies
Diere – 16 soogdierspesies
Afmetings van die monument
- Totale hoogte: 64 m
- Buitemate: 40.5 x 40.5 m
- Heldesaal: 25 x 25 m
- Senotaafsaal: 34.5 x 34.5 m
- Hoogte bo seespieël (bopunt van Monument op platform by noordwestelike hoek): 1 531.8 m
- Navigasieligte bo-op die Monument flits die boodskap: “Ons vir jou Suid-Afrika”. In 1968 het die Seinkorps van die Suid-Afrikaanse Leër ’n apparaat gebou wat die ligte sodanig beheer. Die skakelaar van die morsekodelig is deur adjudant-offisier J. Kruger gebou. Die apparaat is op 16 Desember 1968 aangeskakel.
- In die fondament van die monument is 7 645 mᶟ beton gebruik.
GERARD MOERDIJK SE HANDTEKENING
Agtergrond
Gerard Moerdijk (ook bekend as Moerdyk) was ’n Suid-Afrikaanse argitek wat hoofsaaklik bekend was vir die ontwerp van die Voortrekkermonument in Pretoria.
Moerdijk is op 29 Maart 1958 in die ouderdom van 68 jaar oorlede.
Dieper delf
Nes enige ander kunstenaar het Gerard Moerdijk sy handtekening op sy meesterstuk geteken. Kyk mooi na die onderste trappe wat na die Monument toe lei, en kyk of julle kan uitvind waar Gerard Moerdijk sy handtekening gemaak het.
In 1913 ontvang hy die eerste prys vir die ontwerp van ’n kerk in Bothaville in die Vrystaat. Hy het sy eie praktyk gestig en weggebreek van die tradisionele manier waarop kerke tot op daardie stadium ontwerp is. Hy het meer as 80 kerke in opdrag ontwerp, en van agthoekige ontwerpe, koepels, Kaaps-Hollandse gewels en singelvormige vensters gebruik gemaak. Hy het die Nederduitsch Hervormde Kerk in Pretoria in 1935 ontwerp.
Hy was ook die ontwerper van bankgeboue, hospitale, stadsale en huise. Sy opdragwerk het die Reserwebank-gebou in Bloemfontein, die Libertas-gebou in Pretoria en die Merensky-biblioteek by die Universiteit van Pretoria ingesluit.
Die Voortrekkermonument was natuurlik Moerdijk se grootste werk. In 1936 het die Volksmonumentkomitee voorleggings van die publiek aangevra vir die vorm en inhoud van ’n nasionale monument. Verskeie voorleggings is ontvang en Moerdijk se ontwerp is gekies. Die hoeksteen van die Monument is op 16 Desember 1938 gelê en die destydse eerste minister, dr. D.F. Malan het die Monument op 16 Desember 1949 ingewy.
HISTORIESE TREKROETETUIN
Agtergrond
Die Trekroetetuin bied die publiek die kans om die Groot Trek op ’n kleiner skaal mee te maak, deur in die spore van hul gunstelingtrekleier te loop. Verskeie replikas van monumente wat as bakens dien, is in dié tuin opgerig.
Dieper delf
In 1953 het die Minister van Bosbou toestemming verleen vir die kostelose voorsiening van verweerde klip vir die rotstuine om die Monument. Die Onderwyskollege van Pretoria het onderneem om trekroetes in die tuin uit te lê en het ’n reliëfkaart van die terrein saamgestel. Elke roete is met ’n ander kleur klip uitgelê en daar is ooreengekom oor die soort plante wat by elke roete aangeplant moes word. Verder is besluit om langs die trekroetes ’n replika van die ou fortjie by Ohrigstad op te rig, ’n hartebeeshuisie, asook ’n paar Zoeloehutte by die bestaande hut.
In 1963 is aansoek by die Afdeling Natuurbewaring gedoen vir ’n permit om “sekere plante” van Ohrigstad af vir die trekroetes te kry.
In 1980 is die trekroetes deur Voortrekkerkommando’s “geskilder”.

DIE ASSEGAAIHEK
Agtergrond
Swart gietysterhek gegiet in die vorm van ’n ry Zoeloe-assegaaie. Assegaaie was tradisionele wapens van die inheemse stamme in die binneland.
Dieper delf
In Junie 1950 het die dagbestuur dit goedgekeur dat ’n gietysterhek by die ingang van die laer om die Monument aangebring word. Die assegaaie stel die mag van Koning Dingaan, die Zoeloekoning, voor wat die weg na die binneland vir die Voortrekkers versper het.
WALAER
Agtergrond
Rondom die Monument is ’n laermuur van 64 waens – dieselfde getal waens wat in die Slag van Bloedrivier was.
Dieper delf
Die Voortrekkers het laer getrek as gevaar gedreig het en dit het beskerming en verdediging gebied.
Die laermuur bestaan uit terazzowerk – ’n mengsel van stukkies marmer en sement. Wit sement is uit Amerika ingevoer en stukkies wit marmer uit die groewe van Marble Hall is gebruik, asook blou graniet van Namakwaland.
Die fondament van die laermuur is deur die firma Dey van Pretoria gelê en was in Maart 1949 reeds voltooi.
Beeldhouer Frikkie Kruger het die kleimodel gemaak, en die firma Lupini van Johannesburg het die finale gietwerk gedoen.
Die totale lengte van die laermuur is 313 m en elke wa weeg ongeveer 8 ton.
Die walaer hier verleen simbolies beskerming aan die Voortrekkermonument.

DIE GELOFTE
Agtergrond
Die Gelofte is afgelê vanaf 9-15 Desember 1838 voor die Slag van Bloedrivier.
Dieper delf
Die Gelofte in Afrikaans, Nederlands en Engels is in 2013 as deel van Groot Trek 175-herdenking deur mnr. W.J. Cruywagen, oudadministrateur van Transvaal en direksielid, onthul.

HOEKFIGURE
Agtergrond
Op elkeen van die vier hoeke van die Monument is ’n groot standbeeld, elkeen 5,5 m hoog, wat drie groot Voortrekkerleiers voorstel, naamlik Piet Retief, Andries Pretorius en Hendrik Potgieter. Die vierde beeld is verteenwoordigend van die ander Trekleiers en Voortrekkers.
Die vier hoekfigure vorm ’n simboliese erewag om die Monument.
Dieper delf
Die figure is hoofsaaklik deur Frikkie Kruger gemaak en later deur Yssel en Zeederberg in posisie uitgebeitel. Die swaarste blokke – die soliede blokke waaruit die hoekfigure van Retief, Pretorius, Potgieter en die onbekende Voortrekker gekap is – weeg tussen vyf en ses metrieke ton.
Piet Retief (12 Nov. 1780 – 6 Feb. 1838) (Suidoostelike hoek)
Piet Retief was volgens beskrywing ’n klein, donker en haastige man. Vir ’n voorstelling van hom, was die kunstenaar aangewese op die stilrolprent getitel De Voortrekkers (1916) waarin Retief min of meer soos by die Monument voorgestel word.
Andries Wilhelmus Jacobus Pretorius (27 Nov. 1798 – 13 Mei 1853) (Noordwestelike hoek)
’n Kombinasiefoto van die portrette van Andries Pretorius se drie seuns is gemaak, wat goed beantwoord aan die beskrywing van Pretorius as ’n lang, groot en lenige man.
Andries Hendrik Potgieter (19 Des. 1792 – 16 Des. 1852) (Suidwestelike hoek)
Agterkleinseuns van Potgieter se gesigte is gebruik om hulle voorvader se beeld te maak.
Die Onbekende Voortrekker (Suidoostelike hoek)
’n Verteenwoordigende Voortrekkergesig, soos dié van die kunstenaar Gert van der Walt, is as model gebruik.
VROU-EN-KINDERBEELD
Agtergrond
Aan die voet van die Monument is ’n standbeeld van ’n Voortrekkervrou en haar twee kinders. Gerard Moerdijk het ’n ereplek aan die Voortrekkervrou gegee, want as die Voortrekker se vrou en kinders nie saam met hom die uittog aangedurf het nie, sou die Groot Trek nie ’n blywende vestiging tot gevolg gehad het nie.
Dieper delf
Moerdijk het Anton van Wouw as beeldhouer aangestel. Hierdie beeldegroep was sy laaste opdrag en hy was toe reeds bykans 76 jaar oud. Van Wouw het vroeg in Julie 1937 met die beeldhouwerk begin, en dit in Maart 1938 voltooi.
Wat die beeldegroep in brons merkwaardig maak, is dat dit die eerste openbare beeldhouwerk is wat in een stuk in brons in Suid-Afrika (Pretoria) gegiet is. Dit is 4.1 m hoog, weeg 2.5 ton en is deur die firma R. Vignali gegiet.
Hy het ’n verpleegster, Isabel Snyman, as model vir die Voortrekkervrou gebruik en Betty Wolk en Joseph Goldstein as modelle vir die kinders.

MEDISINALE TUIN
Agtergrond
Medisinale plante, kruie en selfs plante wat volgens boererate vir heling gebruik word, was nog altyd ’n deel van die Afrikanerkultuur en die Voortrekkermonument het ’n tuin met medisinale plante en kruie in die blombeddings by die walaer geplant.
Prof. Kobus Eloff, plantbiochemikus aan die Universiteit van Pretoria, sê die effektiwiteit van die gebruik van medisinale plante is in baie gevalle nog nooit wetenskaplik bewys nie.
“Sekere medisinale plante is beslis giftig en ’n oormaat kan tot siekte of die dood lei. Selfs plante deur tradisionele genesers voorgeskryf, lei tot baie gevalle van vergiftiging in hospitale.”
Dieper delf
Medisinale plante en kruie wat tans in die tuin is, sluit die volgende in:
Plantnaam: Kan gebruik word vir:
Plumbago auriculata – Blousyselbos Vratte, gebreekte bene, wonde
Scadoxus puniceus – Rooikwas Hoes en maagprobleme
Tulbaghia violacea – Wilde knoffel As afkooksels vir hoes, wurms, tuberkulose; knoffel as kos
Gunnera perpensa – Rivierpampoen As afkooksels vir menstruele pyn en pynverligting
Eucomis autumnalis – Wildepynappel As afkooksel vir pynverligting, koors, sifilis
Cotyledon orbiculata – Plakkie Blaarsap vir vratte, oorpyn
Agapanthus spp. – Bloulelie Wortelstokke vir pynverligting
Agathosma ovata – Kluitjieskraal As olies vir nierversaking, borsklagtes
Aloe ferox – Bitteraalwyn Blaarsap vir maagprobleme
Carpobrotus edulis – Kaapsevy Blaarsap as antiseptiese middel, dermprobleme, gorrel vir laringitis, sonbrand, bysteek
Clivia miniata – Boslelie Wortels vir slangbyte, wonde, hoes
Leonotis leonurus – Wilde dagga Hoofpyn, hoes, wurms, asma, koors, artritis, diabetes
Bulbine frutescens – Balsemkopieva Blaarsap vir velkwale, bysteke, sonbrand, koorsblare
Sutherlandia frutescens – Kankerbos Wonde, koors, maagprobleme, angs, diabetes, depressie
SWARTWILDEBEESTE
Agtergrond
Aan weerskante van die Vrou-en-kinderbeeld is vier swartwildebeeste in basreliëf aangebring.
Dieper delf
Die swartwildebeeste is simbolies van die Zoeloeregiment van Dingaan, die Zoeloekoning van 1838 en ook van die gevare van Afrika waarteen die moeder haar kinders beskerm. Die panele is gemaak deur Ernest Ullmann.
SIGSAGPATRONE
Agtergrond
Bokant die groot vensters kronkel ’n driehoekvormige kroonlys bo-om die Monument. Die sigsagpatrone verteenwoordig water en dien as ’n simbool van vrugbaarheid.
Dieper delf
Die materiaal en motief is ook by die Zimbabwe-ruïnes aangetref. Die sigsaglys is simbolies van vrugbaarheid. In ou bouwerke en geskrifte is die motief as teken van water gebruik – die simbool van vrugbaarheid. Dit is ook ’n simbool van die vooruitgang van die kultuur wat die Voortrekkers saamgebring het.
DIE BUFFELKOP
Agtergrond
Bokant die hoofingang (die kiaatvoordeur) is ’n buffelkop, gemodelleer deur Hennie Potgieter. Dit is die simbool van verdediging.
Dieper delf
Die buffel is een van die gevaarlikste verdedigers in die Suid-Afrikaanse dierewêreld, en die gedagte was dat hy simbolies die ingang van die Afrikaner se heiligdom teen iedereen verdedig wat nie daar hoort nie. Die buffelkop uit graniet simboliseer dus die verdediging van die Afrikanerkultuur teen gevaarlike invloede van buite.

DIE VOORDEUR
Agtergrond
Die kiaatvoordeur en al die ander deure van die Monument is deur ’n skrynwerker genaamd Izak Francois Nel gemaak.
Dieper delf
Kiaat is ’n inheemse hout wat ook gebruik is vir die vervaardiging van meubels, gebruiksvoorwerpe en selfs dele van ossewaens in die pionierstydperk van Suid-Afrika.
HOEKSTEEN
Agtergrond
Die hoeksteen van 2.5 ton is op 16 Desember 1938 deur mev. Johanna C. Muller (kleindogter van Andries Pretorius), mev. C.F. Ackerman (agterkleindogter van Hendrik Potgieter) en mev. Johanna Christina Preller (agterkleindogter van Piet Retief) onthul.
Dieper delf
Agter die hoeksteen is die volgende voorwerpe toegemessel: ’n kopie van die Dagboek van Jan van Riebeeck, ’n afskrif van die Retief-Dingaan-traktaat, ’n afdruk van die Gelofte, ’n afdruk van die volkslied, “Die Stem van Suid-Afrika” en die Klopperbybel (Henning Klopper was die leier van die Simboliese Ossewatrek van 1938).

VENSTERS
Agtergrond
Die vier massiewe boogvensters bevat elk 1 072 stukkies Belgiese glas. Dis in 1947 deur Peter Smit ingesit. Elke venster is ongeveer 12 m hoog en 12 m breed.
Dieper delf
Mnr. Smit is met toue en ’n katrol teen die loodregte mure opgetrek – hy was die enigste persoon wat bereid was om die gevaarlike werk te doen. Daar is 103 granietblokke in die raamstruktuur van elke boog. Hierdie klippe het vanselfsprekend ’n ontsaglike massa – nagenoeg 270 kg elk.
