DIRK VAN DER HOFF (1814-1881)
Dirk van der Hoff was die eerste predikant van die Nederduitsch Hervormde Kerk.
Hy is op 2 September 1814 op Dordrecht in Nederland gebore en het in 1833 in die teologie aan die Universiteit van Leiden gestudeer. Hy is in Mei 1840 tot die bediening toegelaat maar weens ’n oorvloed van predikante het hy nooit ’n beroep in Nederland ontvang nie. Hy is op 25 Mei 1845 met Anna Maria van Otterloo getroud, en twee seuns en ’n dogter is uit die huwelik gebore. Terwyl hy op ’n beroep gewag het, het hy internasionaal gereis en hy het dit oorweeg om as predikant in die Kaapkolonie of in Natal te werk. Prof. UG Lauts was op soek na predikante en onderwysers vir die Voortrekkers en nadat Van der Hoff hom ontmoet het, het hy besluit om as predikant vir die Volksraad van die Afrikaanse Hollanders Noord van die Vaalrivier op te tree.
Nadat Lauts hom finansieel ondersteun het, het hy, saam met sy gesin, in November 1852 in Kaapstad aangekom. Die redakteur van De Zuid-Afrikaan, JJH Smuts, het hom verwelkom en was vir die grootste gedeelte van sy tydperk in Kaapstad sy gasheer. Hoewel hy tot die kerk toegelaat is, het hy geweier om ’n eed van toewyding aan die Britse regering af te lê. Terwyl hy gewag het om na Transvaal te vertrek, het hy dienste in die Groote Kerk in Kaapstad gehou, asook in Wynberg en in die Lutherse kerk. In April 1853 het hy, sy vrou en sy pasgebore dogter oor Natal na Transvaal vertrek. Hy het in Pietermaritzburg en Ladysmith gepreek en is genooi om die predikant op New Germany te word. In Mei 1853 het hy in Potchefstroom aangekom en hy was die eerste predikant in Transvaal.
Hy moes verskeie uitdagings trotseer. Die Transvaalse gemeenskap was deurmekaar en in groepe verdeel sonder dat daar regtig openbare gesag was terwyl primitiewe kommunikasie sy werk verder bemoeilik het. Nogtans het hy sy taak met selfvertoue en bewustheid van die belangrikheid van sy roeping verrig. Hoewel hy nog steeds noue bande met die Nederduits Gereformeerde Kerk in die Kaap gehad het en ten gunste van die inlywing van Transvaalse gemeentes onder die Kaapse sinode was, het hy hom vereenselwig met die behoefte aan ’n onafhanklike kerk in Transvaal. Hy het besef dat daar baie mense was wat teen die inlywing gekant was. Die redes hoekom die inlywing nie plaasgevind het nie, was die feit dat die Kaapse kerk nie ’n predikant aan die Voortrekkers wou voorsien nie en dat die Transvalers nie onder die reëls en regulasies van die Kaapse owerheid en kerk wou val nie. Die algemene sinode van die nuut gestigte Nederduitsch Hervormde Kerk in Afrika het hom as predikant erken en die hele Transvaal was sy bedieningsgebied. Weens meningsverskille oor die bestuur van die kerk was daar mense wat Van der Hoff nie kon verdra nie. Mense het aangevoer dat hy “teologies liberaal” was en ongemaklik in die Kaapse kerk sou gevoel het. Sy werk is verder bemoeilik toe ’n aantal kerklede in 1859 weggebreek het en die Gereformeerde Kerk gestig het.
Hy het sy werk met vasberadenheid voortgesit, al het dit moeilike eise aan hom gestel. Hy het gebiede soos Potchefstroom en Marico gereeld besoek en gemeentes in Suikerbosrand, Onder-Vaalrivier (in die gebied waar Bloemhof, Wolmaransstad, Makwassie en Christiana deesdae is) en Pretoria gestig. Dit het beteken dat hy gereeld onder gevaarlike omstandighede per ossewa gereis het. Dit het ook gemaak dat sy ledemate by meer as een keer gebreek was en hy dienste moes hou terwyl hy gesit en preek het.
Hy het verder tot politieke stabiliteit bygedra. Toe die Transvaalse konsepgrondwet in 1855 aanvanklik verwerp is, het hy uit protes bedank maar sy bedanking teruggetrek toe dit in beginsel aanvaar is. Toe dit in 1857 in werking getree het, is die Vierkleur, wat Van der Hoff saam met sy broer ontwerp het, as die Transvaalse vlag aanvaar. In Pretoria, Potchefstroom en Rustenburg was hy verantwoordelik vir die geestelike deel van die seremonies waar die vlag vir die eerste keer gehys is. Verder het hy die “Vlaggelied”, wat as’t ware ’n vroeë volkslied was, geskryf. Die aanvaarding van die grondwet het ook beteken dat die Nederduitsch Hervormde Kerk die kerk van die staat geword het. Van der Hoff het hom egter nie aan staatsbeheer onderwerp nie.
In 1878 is Van der Hoff se 25 jaar in die bediening in Potchefstroom gevier. Die openbare belangstelling in hierdie geleentheid was ’n bewys van die hoë agting wat dié wat hom geken het, vir hom gehad het. Tot op daardie stadium het die kerk 19 500 lidmate met sewe predikante gehad.
Hy is op 9 Oktober 1881 in die ouderdom van 67 in Potchefstroom oorlede en ds. NJ van Warmelo het sy gedenkdiens gelei. In Oktober 1920 het die plaaslike gemeente sy graf gerestoureer en ’n geskikte monument opgerig.
deur Daantjie Badenhorst