
DR. NEWTON ADAMS SE SENDINGPOS, AMANZIMTOTI
Goed 27 km suid van Durban aan die Suidkuspad is die strandoord Amanzimtoti geleë. Grensende daaraan is die Sendingreserwe Amanzimtoti waarop die sendingstasie van dr. Newton Adams in 1847 gestig is.
In 1835 het die American Board of Commissioners for Foreign Missions die vernaamste sendingliggaam in die Verenigde State, ses sendelinge na Suid-Afrika gestuur, van wie drie—dr. Newton Adams, eerw. Aldin Grout en eerw. George Champion—vir die Zoeloe bestem was. Na ’n verblyf van nege maande aan die Kaap het hulle uiteindelik Port Natal op 20 Desember 1835 bereik. Dr. Adams het al dadelik ’n sendingpos, Umlazi, aan die Umlazirivier, suid van Durban, begin.
Die aanvangsjare was stormagtig. As gevolg van Dingane se botsing met die Voortrekkers het hy ook die sendingposte verwoes en Adams moes in 1838 Umlazi vir ’n tyd lank verlaat. In 1839 kon hy sy werk alhier hervat, maar in 1847 het hy egter sy sendingpos na Amanzimtoti verskuif. Hier het hy ’n aansienlike skool en kerk asook ’n woonhuis vir homself gebou.
Tot in die sestiger jare het Adams hier uiters vrugbare werk gedoen, en op die fondamente deur hom gelê, het met die loop van jare ’n pragtige onderwysinrigting, die Adam s College, tot stand gekom.
(Bronsplaat 1942)

Foto: Newton Adams se Sendingpos • Africana-museum, Johannesburg
Bron: Oberholster, J.J. 1972. Die Historiese Monumente van Suid-Afrika. Kaapstad: Die Kultuurstigting Rembrandt van Rijn, p. 236.
