EJP JORISSEN (1829-1912)

’N NEDERLANDER VEREENSELWIG HOM MET DIE BOERE

Eduard Johan Pieter Jorissen is in die Nederlandse bekende Nederlandse stad Zwolle gebore. Hy stam uit ’n bekende Nederlandse predikantefamilie, waarvan die eerste verteenwoordiger – ds. Matthias Jorissen – naam gemaak het by die Nederlandse gesangeberyming van 1805. Ook E.J.P. Jorissen was neëntien jaar predikant in diens van die Nederlands Hervormde Kerk. In 1868 het hy die kansel vaarwel gesê en hom aan die joernalistiek en uitgewersbedryf begin wy.

In 1875 het Thomas Francois Burgers, Staatspresident van die Suid-Afrikaanse Republiek, by ’n besoek aan Nederland, Jorissen uitgenooi om dosent in klassieke tale aan die toekomstige Staatsgimnasium te Pretoria te word. Nadat Jorissen nog eers aan die Ryksuniversiteit van Groningen as doktor in die teologie gepromoveer het, het hy en sy gesin in 1876 in Pretoria aangekom. Tydens die reis het dr. Jorissen besluit om hom nie in die onderwyswêreld te begewe nie, maar hom in die regsgeleerdheid te bekwaam, en nadat hy sy regseksamen afgelê het, het die Transvaalse regering hom as staatsprokureur benoem.

Die Eerste Anneksasie het gekom. Wel het dr. Jorissen nog tot Augustus 1878 sy pos bly beklee, maar reeds in 1877 het hy hom met die Boeresaak vereenselwig. In daardie jaar het die Eerste Deputasie, bestaande uit S.J.P. Kruger, W.E. Bok en dr. E.P.J. Jorissen, na Engeland vertrek om teen die anneksasie te protesteer. Na sy ontslag het dr. Jorissen al sy tyd en kragte aan die behartiging van die Boerebelange gewy, en in 1879 het die Transvaalse voormanne hom as hul regskundige raadgewer benoem. Dr. Jorissen het in daardie hoedanigheid die beroemde proklamasie van Paardekraal opgestel. Tydens die Eerste Vryheidsoorlog het hy saam met die Boerevoormanne in Heidelberg vertoef.

Ná die slag by Amajoeba (27 Februarie 1881) was dr. Jorissen by die vredesonderhandelinge aanwesig. Later het hy daaroor ’n werkie getiteld: “De Vredesonderhandelingen op Lange-Nek Maart 1881. Herinneringen en Waarschuwingen”, geskrywe. Dit is ’n pragtige, gevoelvolle skets, en ongetwyfeld die beste oorsig van daardie deel van die oorlog.

Al die tyd het dr. Jorissen vir die heropbou van ’n sterk, onafhanklike Transvaal geywer. Reeds voor die vrede het hy namens die Boerevoormanne gepoog om geldelike ondersteuning uit Nederland vir die oprigting van die Transvaalse sirkulasiebank te kry. Op hierdie stadium het ds. S.J. du Toit as Superintendent van Onderwys in Transvaal verskyn. Hy en hoofregter John Kotze het dr. Jorissen begin teenwerk, en hulle het in 1883 daarin geslaag om die ontslag van dr. Jorissen as staatsprokureur te bewerk onderwyl dr. Jorissen in Nederland met verlof verkeer het om herstel van gesondheid te soek. Ook het Di Patriot destyds ’n lasterveldtog teen hom op tou gesit, terwyl uit dieselfde bron ’n pamflet “Di Ontslag van dr. Jorissen” in Transvaal versprei is.

Dr. Jorissen het hom verweer, maar die ontslag is nie herroep nie. Dr. W.J. Leyds het die plek van dr. Jorissen ingeneem. Die vertroue van die burgers het hy nie verloor nie, want in 1885 was hy Volksraadslid vir Pretoria, terwyl die regering hom in 1888 as regter benoem het, ’n pos wat dr. Jorissen tot 1900 beklee het.

In 1886-1887 was hy weer in Nederland om die Transvaalse spoorwegplanne te bevorder. Tydens en kort na die Jameson-inval het hy waardevolle dienste aan die Republiek bewys. Later het hy hom gaan vestig in Nederland, waar hy in 1912 te Scheveningen oorlede is.

Van sy hand het o.a. die bekende “Codex van de Locale Wetten der Zuid-Afrikaansche Republiek” (Groningen, 1894) en “Transvaalsche Herinneringen 1876-1896 (Amsterdam, 1897)” verskyn. Een van sy seuns was regter S.J. Jorissen, wat naam gemaak het in verband met die toetsingsreg in Transvaal. Dr. Jorissen was getroud met ’n dogter van staatspresident Burgers.

Raadsman van die Boerevoormanne

Bron: Aucamp, G. (red.). 1947. Suid-Afrikaanse Heldegalery. Kaapstad: M. Rieck.

Foto: EJP Jorissen (Transvaalse Herinneringen, EJP Jorissen)