ESTHER MENTZ (1911-1986)

Esther Mentz was ’n bekende Suid-Afrikaanse operasangeres en aktrise.

Esther Suzanna Mentz is op 8 Januarie 1911 op Edenville in die Vrystaat gebore. In 1944 het sy haar debuut in een van die eerste Afrikaanse vollengte-rolprente, Donker spore, gemaak. Sy was in verskeie rolprente saam met Frederik Burgers te sien, onder meer Piet se tante, Matieland en die laaste rolprent waarin Burgers gespeel het, En die vonke spat.

Voor die tyd het sy van 1929 tot 1931 aan die Konserwatorium vir Musiek aan die Universiteit van Stellenbosch gestudeer, waarna sy sanglesse gegee en opnames gemaak het. Sy het van 1934 tot 1937 drama en musiek in Duitsland gestudeer, waarna sy na Suid-Afrika teruggekeer het. Sy was deel van TRUK (die destydse Transvaalse Raad vir Uitvoerende Kunste) se operakomitee en die Johannesburgse Musiekvereniging, en sy was betrokke by die ontwikkeling van opera. In 1946 was sy deel van die Asaf-koor wat aan ’n Afrikaanse opvoering van die opera Carmen in Johannesburg deelgeneem het.

Sy was getroud met dr. Gideon Roos, die voormalige Direkteur-generaal van die SAUK en stigter van die Suid-Afrikaanse Musiekregteorganisasie. Hulle het jare lank in Saxonwold in Johannesburg gewoon en ’n dogter en twee seuns is uit die huwelik gebore.

Sy is op 19 November 1986 in die ouderdom van 75 jaar oorlede.

deur Daantjie Badenhorst