FERDINAND POSTMA (1879-1950)

Prof. dr. Ferdinand Postma was die eerste rektor van die Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys.

Ferdinand Postma is op 15 Julie 1879 op Aliwal-Noord gebore. Hy was die derde kind en oudste seun van Martinus Postma en Elizabeth Wilhelmina Jossina Spiller. Hy was ook die kleinseun van ds. Dirk Postma, die stigter van die Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika. Hy het sy besondere aanleg en belangstelling in klassieke tale van sy pa, wat die eerste gereformeerde predikant aan die Witwatersrand was, geërf, en sy aanleg en liefde vir die Engelse taal. Die gesin het in 1880 na Burgersdorp verhuis en Ferdinand het sy skoolopleiding begin. In 1890 het Ferdinand se pa ’n beroep na die Gereformeerde Kerk op Middelburg in die Oos-Kaap aanvaar en Postma het sy skoolopleiding aan die Vrye Christelike Skool voortgesit. In 1896 het hy aan die Teologiese Skool Burgersdorp gematrikuleer en daarna het hy die Intermediêre Eksamen aan die Universiteit van Kaap die Goeie Hoop geslaag. Hy was derde op die lys en het ’n beurs ontvang, maar die Anglo-Boereoorlog het sy studies onderbreek. Hy het na Transvaal vertrek, waar sy pa die predikant van die Gereformeerde kerk Johannesburg was. Hy het hom by die Heidelbergse Kommando aangesluit en deelgeneem aan die beleg van Ladysmith en die bestorming van Platrand, asook die Slag van Spioenkop. Siekte het egter gemaak dat hy na sy ouerhuis moes terugkeer. Met behulp van studiefondse wat die NZA-vereniging aan hom gegee het, het hy verder aan die Vrye Universiteit in die Nederlandse hoofstad Amsterdam gaan studeer. Hier het hy hom ingeskryf om opgelei te word as ’n bedienaar van die Woord van God. Een van sy medestudente was JD du Toit, beter bekend as Totius, wat ’n groot invloed op sy lewe gehad het. Hy het later van studierigting verander en onder prof. J Woltjer in klassieke tale gestudeer. Hy het sy Literarium Honrarium Candidatus in 1903 behaal.

In Januarie 1904 het hy na Suid-Afrika teruggekeer om as professor in literarium aan die Skool van die Gereformeerde Kerk op te tree. Dit was vir hom ’n moeilike opoffering omdat hy dit verkies het om enigiets wat hy begin het, tot die einde deur te voer, maar hy het dit beskou as ’n roeping wat hy nie kon weier nie. Die skool is intussen van Burgersdorp na Potchefstroom verskuif. Daar was min studente en hy moes in verskillende vakke doseer.

Postma se ma is in 1905 oorlede en sy pa is in Januarie 1909 met Hester Johanna de Klerk, die weduwee van ds. Jan Hendrik Vorster getroud. In dieselfde jaar het Postma se pa hom en Margaretha Jacoba Coetsee in die huwelik bevestig. Hy het steeds daarna gestreef om ’n amp as bedienaar van die Woord te beklee, met die gevolg dat hy hom as student by die Teologiese Skool onder prof. Jan Lion Cachet laat inskryf het. Op 6 Desember 1911 het hy die kandidaatseksamen in teologie afgelê.

In 1913 het hy weer met studieverlof na Nederland vertrek. In die volgende jaar het hy in Klassieke Lettere gepromoveer met die proefskrif getiteld “De Numino Devino quid senserit Vergilius”. Hy het die kursus egter nie voltooi nie en na Suid-Afrika teruggekeer om hom verder te wy aan die uitbou van die Literariese Departement van die Teologiese Skool. Ingevolge ’n nuwe onderwyswet wat in 1916 van krag geword het, is die Literariese Departement en die Teologiese Skool van mekaar geskei. Vanaf 1919 het die Literariese Departement bekendgestaan as die Potchefstroomse Universiteitskollege vir Christelike Hoër Onderwys (PU vir CHO), met Postma as eerste rektor.

Prof. J Woltjer is in 1918 oorlede en prof. WH Woltjer het gevra of Postma se naam aan die Senaat van die Vrye Universiteit voorgedra kan word as opvolger van wyle prof. J Woltjer, maar hy het dit nie aanvaar nie.

In 1921 het Postma die eerste rektor van die PU vir CHO geword. Van 1926 tot 1928 en weer van 1936 tot 1938 is hy verkies tot die senaat van die Universiteit van Suid-Afrika (UNISA). Van 1940 tot 1944 het hy as visekanselier van die PU vir CHO gedien. In 1931 het hy lid van die matrikulasieraad geword en vanaf 1937 tot 1938 was hy die voorsitter daarvan. In 1949 het hy die Doctor Educationis honoris-toekenning by UNISA ontvang.

Tydens ’n funksie in Potchefstroom ter viering van Postma se sestigste verjaardag het die destydse minister van onderwys, JH Hofmeyr, hulde aan hom as vakman en as vriend gebring en in 1949 het UNISA ’n eredoktorsgraad in opvoedkunde aan hom toegeken.

Hy het hom as skrywer van romans en geestelike boeke onderskei, en ’n Afrikaans/Latynse woordeboek die lig laat sien. Verder het hy ’n biografie van pres. Paul Kruger geskryf.

Hy is op 4 November 1950 in die ouderdom van 71 jaar oorlede. Hy is oorleef deur sy vrou en agt kinders.

Die Hoërskool Ferdinand Postma, asook ’n biblioteek op die kampus van die Potchefstroom-kampus van die huidige Noordwes-Universiteit dra sy naam. Na sy dood het huldeblyke van oraloor ingestroom, onder meer van prof. J Waterink van die Vrije Universiteit.

Daantjie Badenhorst