FORT MURRAY, DIST. KING WILLIAM’S TOWN

Na afloop van die Sesde Xhosa-oorlog (1834-1835) het sir Benjamin D’Urban die ganse gebied tussen die Keiskamma en die Kei as die Provinsie van Koningin Adelaide by die Kaapkolonie geannekseer. Om dit te beveilig, het hy begin met die bou van ’n netwerk van forte. Langs die Buffelsrivier was daar bykans ’n linie. Een van hulle was as Fort Murray bekend. Dit was ongeveer 18 km suid van die huidige King William’s Town in ’n bog van die Buffelsrivier naby die Mount Coke-sendingstasie geleë. Die Britse Regering het geweier om die anneksasie van die gebied goed te keur, die Britse gesag is dus opgehef en in September 1836 is Fort Murray ontruim. Dit het in verval geraak.

Die Sesde Xhosa-oorlog is in 1846 deur die Sewende of die Oorlog van die Byl gevolg. Na afloop daarvan het goewerneur sir Harry Smith weer eens die gebied tussen die Keiskamma en die Kei tot Britse gebied geproklameer en die naam Brits-Kaffraria daaraan gegee, Luit.-kol. George Mackinnon, met hoofkwartier te King William’s Town, is as kommandant en hoofkommissaris van die gebied aangestel. ’n Sentrale verdedigingslinie van forte is langs die Buffelsrivier opgerig, o.a. ’n nuwe Fort Murray 10 km suid van King William’s Town aan die westekant van die rivier. Dit was ’n uitgebreide klipstruktuur met kasernes vir voetvolk en ruitery. Dit was die hoofkwartier van die kommissaris vir die Ndlambistam, kapt. John Maclean, vir wie ’n woonhuis in die onmiddellike omgewing van die fort opgerig is. Die fort word beskryf as “’n goedgeboude militerê stasie, die woning van die Britse kommissaris, kapt. Maclean … die fort is op ’n aangename plek in ’n oop grasvallei geleë, maar behalwe as verbindingspos lê dit te laag om as militêre stelling van enige belang te wees”. Die fort is deur die Tweede Afdeling van die “Kafferpolisie” onder superintendent Fielding beman.

In 1850 het die eerste gerugte dat die toordokter Mlangeni die Xhosa tot oorlog aangevuur het, Maclean by Fort Murray bereik. Hy het dus die Ndlambi-hoofde hier bymekaar geroep en hulle ernstig teen enige opstand gewaarsku. Die oorlog het nogtans uitgebreek, en Maclean het ’n prominente aandeel daarin gehad. Van Fort Murray is ’n groep soldate gestuur om die Hottentotrebelle wat die sendingstasie te Mount Coke aangeval het, te verjaag. Hier ook het hoof Seyolo hom aan Maclean kom oorgee, waardeur die beëindiging van die oorlog vergemaklik is.

As gevolg van die droomgesigte van die profetes Nonquasi het die bekende selfmoord van die Xhosa in 1857 plaasgevind. Die jaar daarop is sy en haar metgesellin, Noxosi, gevange geneem en in ’n poging om die onderliggende dryfvere wat aanleiding gegee het tot die ramp te probeer bepaal, is hulle vir ’n geruime tyd in Fort Murray onder observasie gehou.

In die jare daarna het die ou fort afdelings van talle bekende Imperiale regimente gehuisves. Gedurende en na afloop van die Negende Xhosa-oorlog (1877-78) is dit gebruik as opleidingsentrum vir koloniale magte, soos o.a. die “Frontier Armed and Mounted Police”, ook die Currie-polisie genoem. In die jare tagtig is dit deur die Kaapse Polisie gebruik.

Geleidelik is die ou fort egter van sy militêre waardigheid ontdoen. In een stadium is dit as ’n depot vir siek muile gebruik. In die jare negentig is ’n mislukte poging aangewend om dit in ’n gestig vir melaatses om te skep en gedurende die Anglo-Boereoorlog was daar sprake om dit as konsentrasiekamp te gebruik. Daarna het dit in verval geraak. Baie van sy klippe en bakstene is weggedra. ’n Tyd lank is dit as beeskraal gebruik. Om aan hierdie skending ’n einde te maak, is daar in 1909 kennisgewings aangebring wat die verdere vernieling van die fort verbied het.

(Geproklameer 1938)

Foto: A. H. Harkness • Fort Murray 1864 • Africana-museum, Johannesburg

Bron: Oberholster, J.J. 1972. Die Historiese Monumente van Suid-Afrika. Kaapstad: Die Kultuurstigting Rembrandt van Rijn, pp. 166-167.