FORT NAPIER

Vanaf ’n heuwel ten weste van Pietermaritzburg, aan die b0-ent van Kerkstraat, kyk Fort Napier oor die ganse dorp.

Na die besetting van Port Natal deur Britse troepe in Mei 1842, het die Ou Fort aldaar die militêre hoofkwartier geword. In Augustus 1843 is twee kompanies van die 45ste Regiment (Sherwood Foresters), vyftien ingenieurs, enige artilleriste en drie kanonne na Pietermaritzburg oorgeplaas. Op 25 Augustus het die troepemag onder aanvoering van kaptein Kyle, die mars begin en op die 31ste staan hulle reeds op hierdie heuwel. Die Britse vlag word gehys en die plek Fort Napier genoem. Reeds die volgende môre is ’n begin met die bou van batterye en kasernes gemaak, en die jaar daarop kon die hoofmag van dié bataljon vanaf Durban ook hierheen verskuif word.

Hierdie regiment het tot 1859 in Fort Napier in garnisoen gelê. Daarna is dit tot 1914 onafgebroke deur Imperiale troepe beman. Geen wonder dan ook dat hierdie garnisoen nie alleen ’n uiters belangrike rol in die Zoeloeoorloë gespeel het nie, maar ’n baie belangrike invloed op die samelewing van Pietermaritzburg uitgeoefen het.

Met die loop van jare is voortdurend toevoegings tot die ou fort gemaak, terwyl die grootste gedeelte van die oorspronklike vestingwerke, behalwe een van die bastions, gesloop is. Hoogs interessante oorblyfsels is egter die ou watertoring, die diep put waarin die gewigte van die horlosie in die ontspanningsaal gehang het, en die omringende stelsel van verdedigingswerke wat gedurende die Anglo-Boereoorlog (1899-1902) opgerig is.

’n Beskrywing van Fort Napier sonder vermelding van die militêre kerkhof sou onvolledig wees. Hierdie begraafplaas is gelyktydig met die fort aangelê en daar is grafstene wat uit die jare 1846 en 1847 dateer. Benewens die individuele grafte is daar ’n aantal saamgestelde gedenktekens asook enkele grafte van burgerlikes.

Die fort maak tans deel uit van ’n sielsieke-tehuis en is dus nie vir die publiek toeganklik nie.

(Bronsplaat 1951) (Geen toegang)

Foto: Fort Napier 1879 • Killie Campbell-versameling

Bron: Oberholster, J.J. 1972. Die Historiese Monumente van Suid-Afrika. Kaapstad: Die Kultuurstigting Rembrandt van Rijn, p. 246.