FORT NOTTINGHAM, NOTTINGHAMWEG

Ses-en-vyftig km noordwes Pietermaritzburg is die dorpie Nottinghamweg geleë. Hier draai ʼn pad suidwaarts na Himeville en Underberg, en op hierdie pad, nouliks 10 km van Nottinghamwegstasie in ʼn skilderagtige, beskutte vallei anderkant die plaas Lion’s Bush, is die oorblyfsels van die derde oudste fort in Natal, Fort Nottingham.

In die jare vyftig van die 19de eeu het nog baie Boesmans hulle in die grotte diep in die donker, mistige klowe van die Drakensberg skuil gehou. Daarom dan ook dat hulle by die bewoners van die omgewing as “Kinders van die Mistigheid” bekend was. Periodiek het hulle na die valleie afgesak om vir hulle die nodige vleisvoorraad te bekom. Boer en Bantoe is dan van hul beeste beroof. In 1856 is Fort Nottingham dus hier aangelê om die Boere en die Britse setlaars teen die plunderende Boesmans te beskerm. ’n Klein afdeling van die 45ste Regiment uit Pietermaritzburg ’n aantal “Cape Mounted Corps” was hier vir ʼn geruime tyd gestasioneer.

In 1873 met die bekende Langalibalele-opstand het dit as basis vir die militêre operasies teen hierdie weerstrewige hoof gedien. Daarna is dit waarskynlik ontruim.

(Bronsplaat 1951)

Foto: Fort Nottingham • John Sheddon Dobie • South African Journal, 1862

Bron: Oberholster, J.J. 1972. Die Historiese Monumente van Suid-Afrika. Kaapstad: Die Kultuurstigting Rembrandt van Rijn, p. 250.