FRANS JOUBERT (1827-1903)
VOORMAN, KERKMAN, KRYGSMAN
Van die lewe van kommandant Francois Gerhardus (Frans) Joubert is net enkele brokstukke bekend. Hy is op 27 November 1827 in die Kaapkolonie gebore, en het reeds op besonder jeugdige leeftyd sterk op die voorgrond getree. By meer as een geleentheid het hy ’n leidende rol vervul in belangrike sake, en reeds vroeg die vertroue gewen van sy volk, wat na hom opgesien het as een van hulle voormanne.
Hy is dan ook spoedig verkies tot lid van die Volksraad van die Suid-Afrikaanse Republiek, nadat hy as jongman en ondersteuner van genl. Andries Pretorius teenwoordig was met die ondertekening van die Sandrivierkonvensie. Hierdie betrekking het hy jare lank beklee.
Dog nie alleen op staatkundige gebied nie, ook as kerkman het hy ’n leidende rol in die godsdienstige lewe van die volk gespeel. Hy was ’n lidmaat van die Hervormde Kerk, wat hy baie jare lank as ouderling gedien het.
Haas sonder enige opleiding het hy nie alleen ’n vrome nie, maar ook ’n diepe en ernstige godsdienssin geopenbaar, soos duidelik blyk uit ’n toespraak wat hy in 1892 gehou het toe hy as ouderling die hoeksteen van ’n nuwe kerkgebou te Chrissiesmeer gelê het. Hierdie toespraak is een van die weiniges wat van hom bewaar gebly het, en is in die almanak van die Nederduits Hervormde Kerk van 1939 afgedruk.
Dit was egter nie as staatsman of as kerkman wat Joubert onsterflikheid verwerf het nie, maar as krygsman. Die roemryke aandeel wat hy aan die Eerste Vryheidsoorlog geneem het, is oorbekend. Nadat die eerste botsing op 17 Desember 1880 tussen genl. Cronje en die Engelse te Potchefstroom plaasgevind het, is Frans Joubert, wat intussen tot die rang van generaal bevorder is, aangesê om met 250 man kol. Anstruther, wat met sy troepemag uit Lydenburg na Pretoria op weg was, te stuit.
Gehoorsaam aan hierdie opdrag, het hy dadelik vorentoe geruk, en op 20 Desember in aanraking met Anstruther se mag te Bronkhorstspruit gekom. Die slag wat nou gevolg het, was besonder kort, maar hewig, en het as ’n skitterende oorwinning vir die Boere geëindig.
Van die naasteby 300 man wat aan die Boerekant geveg het, is slegs een persoon op die slagveld gedood en vyf gewond, waarvan nog een dié nag dood is. Die Engelse, daarenteen, wat oor ongeveer net soveel manskappe as dié van die Boere beskik het, het bloedig gely. Gedurende die om en by 10 minute wat die geveg geduur het, het net ses-en-sestig ongedeerd daarvan afgekom. Kol. Anstruther het self, swaar gewond, hom aan genl. Joubert oorgegee. Hy is kort daarna aan sy wonde oorlede en op die slagveld begrawe.
Hierdie roemryke wapenfeit het Frans Joubert verhef van ’n onbekende Boerevoorman tot ’n figuur wat skielik midde in die belangstelling van die hele beskaafde wêreld gestaan het. Die roem het hom egter nie verteer nie, en hy het sy verdere lewe steeds geslyt as eenvoudige Boer, getrou aan sy volk, sy God en sy vaderland. Dit het hy gebly tot met sy heengaan in 1903.
Aanvoerder by ’n slag waar die Boere ’n roemryke oorwinning behaal het
Bron: Aucamp, G. (red.). 1947. Suid-Afrikaanse Heldegalery. Kaapstad: M. Rieck.
Foto: Frans Joubert (Kaapse Argief)
