FREDERIK BURGERS (1907-1967)

Frederik Burgers was ’n bekende Afrikaanse radio-omroeper en akteur wat gereeld saam met Al Debbo in komedierolprente te sien was.

Hy het sy debuut op die verhoog gemaak toe hy vyftien jaar oud was, en in 1931 vir die eerste keer radiowerk gedoen. Hy het gou bekendheid as radio-komediant verwerf, veral vir die program 𝘉𝘰𝘨 𝘮𝘦𝘵 𝘉𝘭𝘰𝘶 𝘔𝘢𝘢𝘯𝘥𝘢𝘨, waaraan hy tot twee weke voor sy dood deelgeneem het.

In 1946 het hy sy debuut as rolprentakteur in 𝘋𝘪𝘦 𝘸𝘪𝘭𝘥𝘴𝘣𝘰𝘶𝘥𝘫𝘪𝘦 gemaak, en drie jaar later was hy en Al Debbo vir die eerste keer saam in ’n rolprent te sien, naamlik 𝘒𝘰𝘮 𝘴𝘢𝘢𝘮 𝘷𝘢𝘯𝘢𝘢𝘯𝘥, die heel eerste Afrikaanse musiekrolprent. Later het hy in rolprente soos 𝘔𝘢𝘵𝘪𝘦𝘭𝘢𝘯𝘥, 𝘗𝘪𝘦𝘵 𝘴𝘦 𝘵𝘢𝘯𝘵𝘦, 𝘖𝘶𝘱𝘢 𝘦𝘯 𝘥𝘪𝘦 𝘱𝘭𝘢𝘢𝘴𝘯𝘰𝘰𝘪𝘦𝘯𝘵𝘫𝘪𝘦 asook 𝘌𝘯 𝘥𝘪𝘦 𝘷𝘰𝘯𝘬𝘦 𝘴𝘱𝘢𝘵 verskyn. Hy was ’n klavierspeler en kerkorrelis en het ’n baie goeie sangstem gehad.

Hy is op 16 Julie 1967 tydens ’n vlug tussen Johannesburg en Durban oorlede; net meer as ’n week na sy sestigste verjaardag.

deur Daantjie Badenhorst