FRITZ JOUBERT DUQUESNE (1877-1956)

Fritz Joubert Duquesne was ’n Suid-Afrikaanse Boeresoldaat, krygsgevangene, oorlogskorrespondent, saboteur en spioen.

Frederick Joubert Duquesne is op 21 September 1877 in Oos-Londen gebore. Na sy geboorte het sy gesin na Nylstroom verhuis, waar sy pa begin boer het. Toe hy sewentien jaar oud was, is hy na Londen gestuur om te studeer, waarna hy aan die Academie Militaire Royale in Brussel gestudeer het. Generaal Piet Joubert, wat kommandant-generaal in die Zuid-Afrikaansche Republiek was, was sy oom.

Met die uitbreek van die Anglo-Boereoorlog in 1899 het Duquesne na Suid-Afrika teruggekeer om hom by die Boerekommando’s aan te sluit. Hy is beseer tydens die beleg van Ladysmith, maar is bevorder tot die rang van kaptein in die artillerie. Die Britte het hom by Colenso gevange geneem maar hy het daarin geslaag om in Durban te ontsnap. Hy het hom weer by die Boeremagte aangesluit en aan die Slag van Bergendal deelgeneem. Hulle moes egter terugval na Mosambiek. Daar het die Portugese hom gevange geneem en hom na ’n interneringskamp by Caldas da Rainha naby Lissabon gestuur. By hierdie kamp het hy die dogter van een van die wagte die hof probeer maak en sy het hom gehelp om na Parys te vlug. Van daar het hy na Aldershot in Engeland gereis, waar hy hom by die Britse magte aangesluit het. In 1901 is hy terug na Suid-Afrika gestuur as ’n offisier van die Britse magte.

Hy het in die Kaap aangekom met planne om strategiese Britse instellings te saboteer. Hy het twintig manne gewerf maar die vrou van een van die manne het hom verraai. Hy het die doodstraf vrygespring deur van die Boere se boodskappe met vervalsing aan die Britte deur te gee, maar ’n krygshof het hom steeds skuldig bevind en tot lewenslange gevangenisstraf gevonnis. Die ander twintig manne is voor ’n vuurpeloton tereggestel.

Hy is in die Kasteel die Goeie Hoop in Kaapstad opgesluit. Die kasteel se mure was baie dik maar hy het die stene elke aand met ’n lepel probeer wegkrap in ’n poging om te ontsnap. Hy het een aand byna daarin geslaag maar ’n groot steen het geval en hom in sy tonnel vasgepen. Die volgende oggend het ’n wag hom bewusteloos maar ongedeerd gevind.

Hy was een van baie Boerekrygsgevangenes wat na Bermuda gestuur is; hy was een van omtrent 350 gevangenes wat op Burt se eiland, die tweede kleinste van die destyds selfregerende eilande geïnterneer is. Hy was destyds 23 jaar oud en kon daarin slaag om hom as ’n Amerikaner voor te doen. Die kommandant van Burt se eiland, kapt. C.E.M. Payne, het hom aan sy “vars gelaat” en sy “goedgemanierde, deftige voorkoms” herken. Op 25 Junie 1902 het Duquesne en Nicolas du Toit met ’n veerboot na Baileysbaai in Hamilton Parish, Bermuda, gereis om Anna Maria Outerbridge, ’n leier van die “Boereverligtingskomitee” te ontmoet. Dit was wettig, aangesien die oorlog toe reeds verby was. Sy was bekend daarvoor dat sy Boerekrygsgevangenes help ontsnap het, en die Weermag het haar huis na elke ontsnapping deursoek. Die Koloniale Vergadering het die hulp en huisvesting van ontsnapte krygsgevangenes onwettig verklaar en tydens Guy Fawkes-aand is ’n afbeelding van haar, eerder as van Guy Fawkes, verbrand. Outerbridge het gereël dat een van die mans sou ontsnap terwyl die ander een aan die Weermag oorhandig sou word. Dit het beteken dat Duquesne na die hawe in St. George gestuur is. Daar het hy kapt. W.E. Meyer, nog ’n lid van die Boereverligtingskomitee, ontmoet. Hy het vervoer gereël om hom buite die kolonie te neem. Dit was ongeveer in hierdie tyd wat hy vir Alice Wortley ontmoet het en met haar getroud is. Duquesne is as ’n aantreklike maar geheimsinnige man beskou.

Terwyl hy in die Britse weermag was, het hulle deur sy ouers se plaas in Nylstroom gereis; hier het hy self gesien hoedat Lord Kitchener se Verskroeideaardebeleid in werking gestel is. Hy het ook nuus gekry dat sy suster verkrag is en dat sy ma besig was om in ’n konsentrasiekamp te sterf. Dit het gemaak dat hy met haat en afgryse vervul is en hy het besluit om wraak op Kitchener en die Britte te neem. Kitchener was die teiken van ’n mislukte poging tot massasabotasie in Kaapstad.

Van die begin van die Anglo-Boereoorlog is Duquesne beveel om die geprese verkennerhoof van die Britse magte, Frederick Russell Burnham, wat van Amerikaanse herkoms was, te vermoor. Hulle het mekaar egter eers in 1910 ontmoet toe albei in Washington D.C. stemme by die Amerikaanse Kongres gewerf het om die invoer van Afrika-wild in die VSA toe te laat. Na sy terugkeer na Amerika het Burnham aktief gebly in kontraspioenasie vir Brittanje en baie daarvan het met Duquesne te doen gehad.

Van die grootste goudmyne ter wêreld was in die Boeregebiede en tydens die oorlog is goud per trein na die neutrale Portugese hawe by Lourenço Marques gestuur om vir wapens en ammunisie te betaal. In die laaste maande is die goud per skip na Nederland gestuur om vir die ammunisie te betaal. Duquesne was in beheer van een van die groot goudvragte wat per wa na Lourenço Marques gestuur is, maar die goud het nooit die eindbestemming bereik nie. Terwyl hulle in Portugees-Oos-Afrika (vandag Mosambiek) was, het ’n onenigheid onder die Boere ontstaan. As gevolg daarvan het Duquesne opdrag gegee dat die goud in die Luiperdgrot weggesteek moes word, maar dat die waens verbrand moes word. Nugter weet wat intussen van die goud geword het.

Na sy ontsnapping uit Bermuda het Duquesne in die stad New York te lande gekom, waar hy as ’n verslaggewer vir New York Herald gewerk het. In hierdie tyd het hy bekendheid verwerf as reiskorrespondent, storieverteller en grootwildjagter. Nadat die Vrede van Vereeniging onderteken is en geen van sy familie meer gelewe het nie, het Duquesne besluit om nooit weer na Suid-Afrika terug te keer nie. Hy het in Desember 1913 deur naturalisasie ’n Amerikaanse burger geword. Hy is na Port Arthur gestuur om verslag te doen oor die Russies-Japanse oorlog , asook na Marokko om oor die Riffynse Opstand te berig. Teen 1910 het hy president Theodore Roosevelt se skietinstrukteur geword en saam met hom gaan jag. Hy het ook later in Australië verskyn en na homself verwys as “Captain Claude Sloughton” van die Wes-Australiese Berede-regiment, waar hy lesings oor die Eerste Wêreldoorlog, toe nog bekend as die Groot Oorlog, gelewer het.

Nadat hy ’n Duitse nyweraar in 1914 in die Amerikaanse Middeweste ontmoet het, het hy as “Frederick Fredericks” na Brasilië vertrek onder voorwendsel dat hy “navorsing oor rubberplante” sou gaan doen. Hy het egter tydbomme vermom as mineraalmonsters op die Britse skepe geplant. Van hierdie skepe het die Salvador, die Pembrokeshire en die Tennyson ingesluit en van sy bomme het ’n brand op die Vauban tot gevolg gehad.

In 1916 is hy vereer met die Ysterkruis vir die sabotasie en ondergang van die HMS Hampshire waarvan Veldmaarskalk Kitchener en die meeste van die bemanning verdrink het. Volgens Duitse rekords het Duquesne die identiteit van die Russiese graaf Boris Zakrevsky aangeneem en by Kitchener in Skotland aangesluit. Op pad na Rusland het Duquesne die sein vir ’n Duitse U-boot gegee om hulle te waarsku dat Kitchener se skip op pad was. Hy het in een van die vlotte ontsnap kort voordat die Hampshire gesink het.

In 1916 het Duquesne ’n berig laat publiseer waarin hy sy eie dood aangekondig het; dit het volgens die berig in Bolivië aan die hand van boorlinge van die Amasone gebeur. Toe hy op 17 November 1917 in New York in hegtenis geneem is op aanklagte van versekeringsbedrog vir “mineraalmonsters wat verlore geraak het”, met die skepe wat aan die Brasiliaanse kus gesink het, waaronder die Tennyson wat op 18 Februarie 1916 gesink het, het hy ’n groot lêer met koerantuitknipsels oor bomontploffings op skepe by hom gehad, asook ’n brief van die Duitse assistenvisekonsulaat in Managua in die Sentraal-Amerikaanse land Niccaragua. Die brief het aangedui dat kapt. Duquesne ’n man was wat aansienlike diens vir die Duitse saak gelewer het. Teen hierdie tyd het die Britse owerhede ook na Duquesne gekyk as die agent wat verantwoordelik was vir “moord op die oop see, brandstigting, vervalsing van Admiraliteitsdokumente en sameswering teen die Kroon”. Die Amerikaanse owerhede het ingestem om hom aan die Britse owerhede uit te lewer indien die Britte hom daarna sou terugstuur om tronkstraf uit te dien vir die bedrog wat hy gepleeg het.

Na sy inhegtenisneming in New York en in afwagting op sy uitlewering aan Brittanje het hy hom as ’n verlamde voorgedoen en hy is na die gevangenesaal by die Bellevue-hospitaal gestuur. Op 25 Mei 1919, na byna twee jaar van skynverlamming, het hy hom as ’n vrou voorgedoen om oor die muur na sy vryheid te klim. Ongeveer ’n jaar later het hy in Boston opgeduik onder die skuilnaam maj. Frederick Craven en hom as ’n afgetrede Britse offisier voorgedoen. Onder sy ander skuilname was Kolonel Beza, Piet Nicaud en kapt. Fritz du Quesne, sy regte naam en rang.

Daar is verder min van hierdie tyd van sy lewe bekend behalwe dat hy as vryskutjoernalis gewerk het en ’n agent vir Joseph P. Kennedy se rolprentvervaardigingsmaatskappy was. Dit was ook in hierdie tyd wat hy en Clement Wood saamgewerk het aan sy biografie, bekend as Die man wat Kitchener se dood veroorsaak het. Die regte is aan ’n rolprentmaatskappy verkoop. In 1932 het ’n vrou hom verraai deur sy ware identiteit aan die FBI te verskaf. Hy is in hegtenis geneem en die Britse owerhede wou weer uitgelewer hê. Hy het homself verdedig en die regter het beslis dat die wet van beperkings reeds verval het, al het die saak meriete gehad.

Op 28 Junie 1941 het die FBI hom na ’n ondersoek van twee jaar, saam met twee ander medewerkers in hegtenis geneem op aanklagte dat hulle geheime inligting oor Geallieerde wapentuig en skeepsbewegings aan Duitsland gelek het. Agente het daarin geslaag om Duquesne se sindikaat te verfilm terwyl hulle inligting aan William G. Sebold, ’n geheime FBI-informant en dubbelagent, gelek het. Op 2 Januarie 1942 is die 33 lede van die Duquesne-spioenasiesindikaat, die grootste skuldigbevinding van enige spioenasiesindikaat in die geskiedenis van die VSA, tot altesaam meer as 300 jaar gevangenisstraf gevonnis. Een Duitse spioenmeester het gesê dat die sindikaat se vonnis die doodshou vir hul pogings tot spioenasie in die VSA was. J. Edgar Hoover, die direkteur van die FBI, het die ontbloting van die sindikaat as die grootste in die geskiedenis van die FBI beskou. Tydens sy verhoor het Duquesne aangevoer dat sy aksies as wraak teen die Verenigde Koninkryk gemik was as gevolg van die misdade wat hulle teen hom en sy mense in die Anglo-Boereoorlog gepleeg het.

Hierdie keer kon die 64-jarige Duquesne nie ontsnap nie, want hy is tot 18 jaar gevangenisstraf gevonnis. Daarby het hy ’n gelyklopende vonnis van twee jaar gekry en hy is ’n boete van $2000 opgelê vir die oortreding van die Wet op Registrasie van Buitelandse Agente. Hy het sy vonnis in die Leavenworth Federale Strafgevangenis in Kansas uitgedien, waar ander gevangenes hom mishandel en geslaan het. In 1954 is hy weens siekte vrygelaat nadat hy dertien jaar van sy vonnis uitgedien het.

Hy is as hulpbehoewende op 24 Mei 1956 in die ouderdom van 78 oorlede.

Daantjie Badenhorst