FW JANNASCH (1853-1930)
Prof. FW Jannasch was ’n Suid-Afrikaanse musikus wat die eerste konserwatorium vir musiek in Suid-Afrika op Stellenbosch gestig het.
Fridrich Wilhelm Jannasch is op 15 Oktober 1853 op Mamre naby Malmesbury gebore en sy ouers was Duitse Morawiese sendelinge. Hy het sy skoolopleiding in Christiansfeld in die huidige Denemarke ontvang. Hy het vroeg reeds ’n talent vir musiek ontwikkel en is na die Koninklike Sweedse Musiekakademie in die Sweedse hoofstad Stockholm waar hy onder die bekende Noorweegse komponis Edvard Grieg gestudeer het. Nadat hy nog twee jaar lank in Berlyn en Breslau gestudeer het, was hy van 1872 tot 1882 ’n onderwyser in die Morawiese gemeenskap Genadenfrei in Schlesien.
In 1883 het hy ’n uitnodiging van prof. NJ Hofmeyr van die Teologiese Fakulteit van die Universiteit van Stellenbosch aanvaar om musiekopleiding te gee. Hier het hy waardevolle ervaring as musiekonderwyser, koorleier, dirigent en orkesleier opgedoen. In 1905 het hy saam met vier ander musiekonderwysers, mev. Nancy de Villiers en haar suster mev. Elizabeth von Willigh, asook mnr. Hans Endler van Oostenryk en mnr. Armin Schniter van Switserland saamgespan en Suid-Afrika se eerste Konserwatorium vir Musiek gestig. Dit was die eerste instelling wat tersiêre opleiding in musiek aangebied het en is vandag die Departement van Musiek van die Universiteit van Stellenbosch. In Mei 1906 het hulle hul eie perseel in Van Riebeeckstraat in Stellenbosch, wat Jannasch ontwerp het, betrek. Jannasch was die direkteur van die konserwatorium van 1905 tot 1921, toe Endler hom opgevolg het.
Benewens sy werk as musiekonderwyser het Jannasch ook ’n aantal orrel- en koorwerke, asook kleiner werke vir orrel, stem en klavier gekomponeer. Daarby was hy orrelis en koorleier van die Nederduits Gereformeerde Moedergemeente op Stellenbosch. As kerkmusikus het hy die publikasies Onze kerkmusiek in 1913 vrygestel, asook 26 Psalme in Afrikaans saam met Totius, wat in 1923 verskyn het. Sy gewilde melodieë van die berymings van Psalm 23, Psalm 90 en Psalm 91 word steeds in die kerk gesing.
Hy is op 19 April 1930 in die ouderdom van 76 jaar oorlede. In 1971 het dr. Reino Otterman ’n proefskrif getiteld “Friedrich Wilhelm Jannasch en sy invloed op die kerkmusiek van die N.G. Kerk” die lig laat sien vir sy DPhil-graad wat hy aan die Universiteit van Stellenbosch verwerf het.
deur Daantjie Badenhorst