GA WATERMEYER (1917-1972)

GA Watermeyer was ’n Afrikaanse digter en baanbreker van die Afrikaanse reklamebedryf.

Godfried Andreas Watermeyer is op 15 Oktober 1917 op die plaas Spitskop in die distrik Middelburg in die Noordoos-Kaap gebore. Hy was die oudste seun in ’n gesin van ses en sy ouers het van hom verwag om verskeie take op die plaas te verrig. Toe hy twaalf jaar oud was, het hy van ’n perd af geval en sy beserings was so erg dat dit die res van sy lewe beïnvloed het. Hy was soms maande lank bedlêend. Hy het aan die Hoërskool Middelburg gematrikuleer, maar nie voordat hy sy studies in 1935 tydelik weens sy gesondheid moes staak nie. Hy het egter wel in 1936 gematrikuleer en al sy vakke in die eerste klas geslaag.

Die volgende jaar het hy ’n betrekking by die Departement van Lande in Transvaal aanvaar, vanwaar hy ’n spesiale korrespondent vir Die Transvaler in die Vaalharts-nedersetting geword het. Hy is egter uit hierdie posisie ontslaan toe hy in Die Transvaler ’n skerp aanval geloods het op die manier waarop sy eie departement die boere in hierdie droogtegeteisterde omgewing hanteer het. Dit het sy terugkeer na sy geboortestreek genoodsaak; hy het ’n paar jaar lank ’n klerikale betrekking by die Padkantoor op Middelburg beklee. In 1940 het hy aan die Universiteit van Stellenbosch gaan studeer nadat hy £200 by die digteres Elisabeth Eybers geleen het. Hoewel hy al sy vakke in sy eerste jaar geslaag het, het ’n gebrek aan geld en swak gesondheid gemaak dat hy sy studies moes staak. Tussen 1941 en 1948 het hy in Johannesburg gewoon en gewerk, en sy toekomstige vrou, die aktrise Letsie Ferreira wat oorspronklik van Willowmore afkomstig was, ontmoet. Hulle is in Maart 1943 getroud en ’n seun, Fred, is tydens die oorlogsjare gebore. Sy siekte en oorlogsviktimisasie het gemaak dat sy vrou aanvanklik as broodwinner opgetree het. Hy het sy betrekking by Rand Club verloor aangesien sy opvattinge oor die Tweede Wêreldoorlog in stryd was met die destydse beleid van genl. Jan Smuts se regering en hierna was hy twee weke lank werkloos. Daarna het hy tot 1948 by ’n Engelse vervoerfirma gewerk, en nadat sy eerste digbundel, Sekel en simbaal, in 1948 verskyn het, het hy met die ondersteuning van vriende asook organisasies soos die Reddingsdaadbond en die Helpmekaarfonds voltyds aan die Universiteit van die Vrystaat gestudeer. In 1949 is ’n kanseliersmedalje vir tweetaligheid aan hom toegeken. Nadat hy sy BA-graad verwerf het, het hy na Johannesburg teruggekeer, maar hy kon net een bekostig wat groot genoeg vir sy vrou en sy seun was. Gevolglik moes hy by mense in ’n solderkamer slaap. Hy het eers as ’n dosent by ’n korrespondensiekollege gewerk en later as vertaler by die SAUK.

In die middel 1950’s het hy tot die advertensiewese toegetree toe hy Nic Tredoux as Afrikaanse kopiehoof by Grant Advertising opgevolg het. Dit was die begin van ’n suksesvolle loopbaan in die reklamewese; sy taalvindingrykheid en uitnemende tweetaligheid het in hierdie beroep tot hul reg gekom. Hy het diep spore getrap en Afrikaans as reklametaal gevestig. Dit het hom in staat gestel om eers ’n huis in Linden te koop; later het hulle na Northcliff verhuis en later in ’n Spaanse villa in Bryanston gewoon. Hy het eindelik in ’n luukse huis teen Aasvoëlkop gewoon. Teen die einde van die 1960’s het hy direkteur van die reklamemaatskappy LPE-Leo Burnett geword.

Hy het reeds op skool begin dig, en vanaf 1936 het enkele van sy verse in Die Huisgenoot en Die Brandwag verskyn. Later is sy werk ook in onder meer Standpunte en Helikon gepubliseer. Toe sy verse in 1946 in Stiebeuel verskyn het, het dit daartoe gelei dat hy DJ Opperman in September 1947 ontmoet het. Daarna het hy gereeld verse vir Opperman vir kritiek gestuur, asook die manuskrip van wat later sy digbundel Sekel en simbaal sou word. Opperman het ’n groot rol gespeel in die redigering van hierdie bundel, en op die ou einde is dit met groot geesdrif begroet. Daar is trouens gesê dat Watermeyer die beste debutant sedert Opperman was. Die titel van die bundel het gedui op die teenpole tussen die landelike en die stedelike maar kon ook gesien word as die tekens van die oes aan die een kant en die danksegging en feesviering na afloop daarvan aan die ander kant. Die sekel was egter ook die simbool van afmaaiende mag, positief as instrument waardeur die boer sy kos verkry maar negatief wanneer moord deur wellus gepleeg word en as simbool van die Kommunisme en die stad se vernietingsgeweld. Die simbaal was ’n simbool van feesvieringe en ’n harde vreugdeklank met die dieperliggende verwysing na die onderliggende tema van die bundel met sy Bybelse verwysing dat die mens, volgens 1 Korintiërs 13, sonder liefde ’n klinkende simbaal is. Deur die bundel is die liefde afgespeel teen die dooddruk daarvan, soos gevind in gedigte soos “Dood van die wildegans”, “Wilde hart” en “Ballade op die dronkparty”. Valiant Swart het laasgenoemde gedig getoonset en dit saam met Ollie Viljoen vir hul album Vuur en vlam opgeneem. “Ballade van die bloeddorstige jagter” het die landelike verteenwoordig; dit het die verhaal vertel van ’n hofsitting waarin die verskillende diere met ’n kraai as regter, afsonderlik of by wyse van ’n koor vertel het van hul lyding om hul mense en hul eie optrede geregverdig het. Die onverantwoordelike doodmaak deur die mens is veroordeel; die dier is as mensliker as die mens uitgebeeld en die jagter dierliker as die diere.

Hy het nooit weer die hoogtes van sy debuutbundel bereik nie, maar in 1949 het hy die eerste en tweede prys in die SAUK se poësiewedstryd gewen. Die Republiek van ’n duisend jaar, wat privaat uitgegee is, het volks-nasionalistiese verse bevat, waaruit die politieke en godsdiens-ideologiese denke onderliggend aan die apartheidsbeleid duidelik geblyk het, dikwels met vae beeldspraak en teenstellings van die sentrale argumente. Die bundel is in elf afdelings verdeel waarin verskillende aspekte van die Afrikaner se bestaan as volk behandel is.

Sy laaste bundel, Bitter brood, het in 1965 verskyn, en gedigte van ’n tydperk van twintig jaar bevat. Hierdie gedigte het egter nie in diens van eensydige volks-nasionalistiese propaganda gestaan nie. Onder die gedigte wat hierin voorgekom het, was “Kronieke van ’n reklameman”, waarin die gebrek aan waardes van die reklamebedryf aan die kaak gestel is. Benewens gedigte het hy die skoolliedere van die Laer Gedenkskool Danie Theron in Carletonville en die Hoërskool Dr. EG Jansen in Boksburg geskryf.

Op 4 Junie 1972 is hy in die ouderdom van 54 jaar in sy huis teen Aasvoëlkop in Johannesburg oorlede. Nadat ’n gedenkdiens in die NG Kerk Aasvoëlkop (vandag Aan die Berg) gehou is, is hy veras en sy as is in die Sneeuberge in Middelburg, sy distrik van herkoms, gestrooi.

deur Daantjie Badenhorst