GEORGE MACARTNEY (1737-1806)
George Macartney, 1st Earl Macartney, was ’n Britse staatsman, koloniale administrateur en diplomaat.
Hy is op 14 Mei 1737 te Loughguile, County Antrim, Ierland, gebore, maar hy was van Skotse afkoms. Sy Skotse voorsate het in die 17de eeu van Auchenleck, Kirkcudbrightshire, gekom en hulle in Loughguile, County Antrim, Ierland, gevestig. Hy het in 1759 aan die Trinity College in Dublin gematrikuleer.
Hy is in 1764 as spesiale gesant in Rusland aangestel en het ’n suksesvolle alliansie tussen Rusland en Groot-Brittanje met Catherine II aangegaan. Hy was van 1768 ’n parlementslid vir Armagh Borough in die Ierse Laerhuis. In 1775 het hy die goewerneur van die Britse Wes-Indiese Eilande geword en van 1776 tot 1779 was hy goewerneur van Grenada. Hy het in 1780 en 1781 ’n setel in die Britse parlement beklee.
In 1792 is hy as die eerste Britse gesant na China aangestel nadat vorige pogings om ambassades te vestig, misluk het. Hy het die Macartney-sending in Beijing in dieselfde jaar gelei, tesame met ’n groot Britse afvaardiging aan boord van die oorlogskip HMS Lion onder bevel van Sir Erasmus Gower. Die sending was onsuksesvol omdat dit nie daarin kon slaag om handelsbetrekkinge met China te vestig nie. Die mislukking was nie die gevolg van Macartney se weiering om te buig in die teenwoordigheid van die Qianlong-keiser nie. Dit was eerder omdat die twee lande se beskouinge onversoenbaar en onverstaanbaar was. Die sending was van groot geskiedkundige belang omdat dit ’n verspeelde kans deur die Chinese was om die Westerse wêreld op een of ander manier tegemoet te kom. Dit het die Qing-herehuis gepla, aangesien dié huis toenemende druk van die buitewêreld af moes trotseer en interne konflik gedurende die 19de eeu moes verduur. Die sending het in 1794 van China af teruggekeer sonder dat die Chinese enige toegewings gemaak het.
In 1796 het Macartney die goewerneur van die Kaapkolonie geword, en hierdie posisie beklee totdat swak gesondheid hom gedwing het om in November 1798 te bedank. Vroeg in 1797 is hy versoek om bystand te verleen met die voorgenome plan om ’n aanvalsmag onder genl.maj. JH Craig na die suidwestelike kus van Spaans-Amerika by wyse van die Britse kolonie in Nieu-Suid-Wallis te stuur.
George Macartney is op 31 Mei 1806 in Chiswick, Middlesex, Engeland oorlede en is oorleef deur sy weduwee Lady Jane Stuart, met wie hy in 1768 getroud is.
deur Daantjie Badenhorst