GEORGES DE VILLEBOIS-MAREUIL (1847-1900)

Georges de Villebois-Mareuil was ’n militêre leier van Franse herkoms en ‘n skrywer uiit ‘n adellike gesin.

Hy is op 22 Maart 1847 in Nantes in Frankryk gebore en tydens die Frans-Pruisiese Oorlog van 1870 tot 1871 was hy die kommandant van ’n kompanjie voetsoldate wat op 28 Januarie 1871 die brug van Blois vanaf die Pruise herower het. Hy is swaar in hierdie aanval gewond, en ondanks sy skitterende loopbaan het hy van die Franse leër afskeid geneem.

Sy anti-Britse gevoelens het gemaak dat hy hom later by die Boere-strydmag van Transvaal aangesluit het. Hy het by die Vreemdelegioen wat tydens die Anglo-Boereoorlog teen die Britte geveg het, aangesluit. In Maart 1900 het pres. Paul Kruger hom tot generaal benoem.

In April 1900 is die klein kommando onder sy bevel deur Britse troepe, wat deur ’n verraaier gewaarsku is, omsingel en uitgewis.

In sy optekeninge, wat in Maart 1900 voltooi is, het hy die Boere se vurigheid en dapperheid bewonder, maar ook die anargie en argwanende en ongedissiplineerde individualisme wat tot onnodige verliese gelei het, beskryf. Hy was ’n onsydige waarnemer en verslaggewer en sy nugtere en presiese skryfstyl het nie die poësie van die skepsels en landskappe wat hy ontdek het, verontagsaam nie.

Hy is op 5 April 1900 in die ouderdom van 53 jaar oorlede. Hy was die bevelvoerder van ’n klein afdeling wat in ’n skermutseling met 750 soldate op ’n heuwel op die plaas Kareepan naby Boshof in die Vrystaat betrokke was ná hulle verraai is. Graaf de Villebois-Mareuil en sy manskappe was op pad na Modderrivier waar hulle die spoorlyn suid van Kimberley wou opblaas om die Britte se lewensbelangrike verbindingslyn tussen Kaapland en Transvaal af te sny, juis terwyl Lord Roberts besig was om na Transvaal op te ruk.

Op daardie stadium was daar net dertig van die ongeveer 300 manskappe oor van dié wat aan die begin deelgeneem het. Hoewel hulle heelwat minder was en drie ure se Maxim-geweervuur moes verduur, is hy aangehaal as sou hy gesê het dat hy geweier het om oor te gee. Gedurende sy laaste minute het hy twee of drie Britse soldate met sy pistool geskiet en tydens die geveg opgestaan om sy manskappe te bemoedig. Hy is in die rug geskiet en het naby ’n wilde olyfboom op die heuwel wat steeds die koeëlgate van die geveg dra, geval.

Sy stoflike oorskot is na die begraafplaas van Boshof in die Vrystaat gebring, waar hy met volle militêre eerbewys van die Britse troepe ter ruste gelê is. Op 14 Augustus 1971 is sy stoflike oorskot by die militêre begraafplaas op Magersfontein herbegrawe.

Daantjie Badenhorst