GERARD THEODOOR BEELAERTS VAN BLOKLAND (1843-1897)
Jonkheer Gerard Theodoor Beelaerts van Blokland was ’n Transvaalse diplomaat en kampvegter vir die Boererepublieke.
Hy is op 12 Januarie 1843 in Rotterdam in Nederland gebore en deel van die adellike Beelaerts van Blokland-familie. Sy oupa het as prokureur-generaal en as justisiesekretaris van onderskeidelik die Nederlandse en Britse Kaapkolonie gewerk. Sy pa is in die Kaapkolonie gebore.
Nadat hy sy studies voltooi het, het Beelaerts as prokureur in die Nederlandse Hooggeregshof gewerk en later as klerk in die Nederlandse Departement van Justisie, waar hy mettertyd tot regsekretaris bevorder is. As prokureur was hy lid van verskeie staatskomitees. Van 1883 tot 1894 het hy op die Nederlandse Huis van Verteenwoordigers gedien en van 1888 tot 1891 was hy die speaker. Hy het ook van 1888 tot 1892 as lid van die Provinsiale Wetgewer van Suid-Holland gedien en deur ’n koninklike dekreet is hy tot Ridder van die Orde van die Nederlandse Leeu geslaan.
Die Beelaerts van Blokland-familie was ortodokse Protestante en het ’n jarelange verbintenis met Suid-Afrika gehad. Beelaerts was lid van ’n komitee wat die saak van die Boere in die Zuid-Afrikaansche Republiek (ZAR) bepleit het. Hy het gedien as regsadviseur vir die Boere-afvaardiging wat na Londen gereis het om die Pretoria-konvensie van 1883 te hersien. Hy het van 1884 in die ZAR gewoon en van 1889 het hy die ZAR as gesant in Europa verteenwoordig sonder om daarvoor vergoed te word. In 1894 was hy die kommissaris-generaal van die Suid-Afrikaanse afvaardiging na die Wêrelduitstalling in die Belgiese stad Antwerp. Daarby was hy medestigter van die Nerderlands-Zuid-Afrikaansche Spoorwegmaatschappij wat in Junie 1887 in Amsterdam gestig is en ’n lisensie verkry het om die spoorweë van die ZAR te bou en te bedryf. Dit is deur sakelui van Nederland, Duitsland en Transvaal gefinansier. Die lisensie is toegestaan op voorwaarde dat die roete van Delagoabaai (vandag Maputo) na Pretoria voor die einde van 1894 voltooi moes word. Dit is op 2 November 1894 voltooi en die oogmerk daarvan was om die ZAR se afhanklikheid van die Britse kolonies in die suide te verminder. Deur ’n spoorlyn na die ooste tot in die Portugese kolonie Mosambiek te bou, kon die ZAR ’n handelsroete na die see gebruik wat nie deur Britse gebied geloop het nie.
Beelaerts is op 14 Maart 1897 in die ouderdom van 54 jaar in Den Haag oorlede. Argiewe wat met Beelaerts verband hou, word in die Nationaal Argief in Den Haag en in Zuid-Afrikahuis in Amsterdam gehuisves.
Daantjie Badenhorst