HARM OOST (1877-1964)
Harm Oost was ’n joernalis, skrywer en politikus wat as “een van die kleurrykste figure in die wordingsgeskiedenis van die Afrikanervolk” beskou is.
Hy is op 21 Julie 1877 in Groningen in Nederland gebore en het op agtienjarige leeftyd uit Nederland in Transvaal aangekom. Hy het in Pretoria en in die distrik van Louis Trichardt skoolgehou. Hy het hom dadelik met die Boerevolk en die republikeinse staatsvorm vereenselwig.
Met die uitbreek van die Anglo-Boereoorlog het hy by die Zoutpansberg-kommando aangesluit en aan die veldslae van Colenso, Spioenkop en die Slag van Pietershoogte deelgeneem. Hy is by Boshof gevange geneem as lid van die los kommando’s wat agter die Engelse linies met dinamiet gewerk het en as banneling na St. Helena gestuur. Hy is aanvanklik ter dood veroordeel, maar op die laaste oomblik deur lord Methuen se tussenkoms begenadig. In 1904 het hy na Transvaal teruggekeer en ’n onderwyser geword, waarna hy hom by die redaksie van De Volkstem aangesluit het.
Hy was die assistent van die adjunkhoofredakteur Gustav Preller. Van omtrent 1908 af het hy min of meer onafhanklik van die hoofkoerant opgetree toe hy ’n landboubyblad, getiteld Die Boer, moes behartig. Die hoofblad het genl. Louis Botha van die Suid-Afrikaanse Party ondersteun en die byblad genl. JBM Hertzog, wat later die Nasionale Party gestig het. So het aanhangers van albei denkrigtings lesers van De Volkstem gebly , maar in 1911 het genls. Botha en Smuts hul oorheersende invloed op De Volkstem laat geld omdat hulle gemeen het dat die Hertzog-hand te sterk was. Die redakteur het Oost gevra om in die gees van Botha te skryf of ’n ander joernalistieke heenkome te vind. Gevolglik het hy op 1 Desember 1911 uit die redaksie van De Volkstem getree sodat hy Hertzog met ’n ander publikasie kon ondersteun.
Sy nuwe publikasie, De Week, het op 23 Februarie 1912 vir die eerste keer verskyn as “een Nationaal en Landbouw Blad, Geillustreeerd onder redaktie van H. Oost.” Onder die koerant se ondersteuners was adv. Tielman Roos, adv. AS van Hees en dr. HD van Broekhuizen. Al die destydse koerante was heftig gekant teen Hertzog en Die Week was die enigste een wat hom ondersteun het. Dit was die voorloper van die latere dagblad Die Vaderland, wat in 1988 by Die Transvaler ingelyf is.
Die koerant was ’n kampvegter vir Afrikaans as taal en het voorbeelde uit byna elke staatsbedrywigheid voorsien waar Afrikaners ongelyk behandel is in die naam van die destydse regeringsbeleid van “konsiliasie”. Nogtans het Die Week so lank moontlik gepleit vir die handhawing van eenheid in die Suid-Afrikaanse Party. Hertzog is egter op 16 Desember 1912 uit die Botha-kabinet gesit. Die Week het sy manifes op 6 Maart 1913 gepubliseer, maar die koerant se toenemende invloed het hierna tot ’n einde gekom weens onenigheid tussen Nig Mimmie (mev. CC Logan) en die redakteur.
Mev. Logan het mede-eienaarskap van die blad geëis en wou hê dat ’n te stigte sindikaat dit moes beheer. Oost het hom teen albei gedagtes verset en daarom het sy haar tot die hof gewend. Oost kon nie die kostes betaal nie en is gedwing om boedel oor te gee. Mev. Logan, wat ook as Nig Mimmie bekendgestaan het, was redakteur van Die Week, wat ’n Botha-orgaan was en van toe af by Volkstem-drukkery uitgegee is, geword. Dit het kort daarna verdwyn omdat dit sy bestaansreg verloor het. In September 1913, net ’n jaar en sewe maande na sy ontstaan, het Die Week “na die vyand” oorgegaan, soos Oost dit gestel het.
Oost het dadelik ’n nuwe weekblad, Het Volk, met die bystand van ’n aantal vriende gestig. Dit het elke Donderdag sonder onderbreking in die plek van Die Week verskyn. Die Het Volk Drukkers en Uitgevers Maatschappij Beperkt is op 13 September 1913 gestig met adv. Tielman Roos, dr. Hjalmar Reitz en prok. HS Webb as direkteure. Het Volk het hom met toenemende heftigheid teen Botha en Smuts se versoeningsbeleid verset, en die invloed en lesertal het tot so ’n mate toegeneem dat dit mettertyd halfweekliks kon verskyn. Die onversoenbaarheid van Botha en Smuts se beleid met dié van Hertzog het tot die stigting van die Nasionale Party in 1914 gelei. Het Volk het die eerste orgaan daarvan geword en Oost was die eerste nasionale joernalis. Het Volk was ’n vurige teenstander van De Volkstem, die eerste Hollandse dagblad in Suid-Afrika. Met die uitbreek van die rebellie het genl. Smuts egter Het Volk in Oktober 1914 verbied. Die koerant het sy deure gesluit en Oost het die wapen aan die kant van genl. Christiaan de Wet, wie se sekretaris hy was, teen die regering opgeneem. Hy was die enigste een wat tot aan die einde getrou aan De Wet gebly het. Hy is by Waterbury in die Kalahari gevange geneem en gevonnis tot agttien maande tronkstraf, waarvan hy vier en ’n half maande in eensame opsluiting moes deurbring. Die ooggetuieverslae wat hy tydens die Rebellie ingesamel het, is in 1957 in sy outobiografiese werk, Wie is die skuldiges?, gepubliseer.
Nadat ’n groep Jong Turke nie die sluiting van die enigste Nasionale koerant aanvaar het nie, het hulle op 8 September 1915 die Noordelike Drukpers Maatschappij Beperk gestig om die nasionale belang van die Afrikaner te bevorder deur die “volksorgaan” Ons Vaderland op die been te bring. De Burger, wat in dieselfde jaar gestig is, het hierdie nuwe halfweeklikse blad as ware bondgenoot verwelkom. Op 22 September daardie jaar het De Burger na Ons Vaderland verwys as “een nieuwe kracht in Transvaal.” De Burger het ook die hoop uitgespreek dat Ons Vaderland “tot in lengte van dagen tot heil van land en volk mag groeien en bloeien.” Die nuwe maatskappy het ook dadelik De Transvaler, ’n weekblad wat toe reeds enkele jare in Johannesburg verskyn het, oorgeneem. Dit het behoort aan dr. TC Visser, ’n stoere republikein en Hertzog-ondersteuner. Ons Vaderland het sy debuut op 10 September 1915 gemaak; onder die aandeelhouers was adv. Tielman Roos, ds. JH Greyvenstein en genl. CF Beyers. Oost was weer die redakteur, maar in daardie stadium het hy in die Fort in Johannesburg gesit as gevolg van sy deelname aan die gewapende protes. Prof. Jan Kamp van die literariese departement van die Gereformeerde Kerk se teologiese skool het as redakteur waargeneem, en die ondersteuning van dr. Johannes Grosskopf en die digter Jan FE Celliers geniet.
In 1915 het die Transvaalse takke van die Nasionale Party ’n konferensie gehou en Ons Vaderland as partyorgaan gekies. Die party het egter nie ’n regstreekse aandeel in die Nasionale Drukpersmaatskappy besit nie en daarom kon dit geen seggenskap in redaksionele beleid kry nie. Oost kon reeds in Desember 1915 op parool uit die tronk kom, maar het dit geweier omdat dit sy werk as persman sou belemmer. Teen die middel van 1916 is hy wel vrygelaat. Hy het die redakteurskap by Kamp, wat na die universiteitskollege op Potchefstroom vertrek het, oorgeneem. Onder Oost se leiding het die koerant hom beywer vir die stigting van die Afrikaner Broederbond en vir moedertaalonderrig in Afrikaans.
Oost het tot die politiek toegetree toe hy in 1919 tot lid van die provinsiale raad in die Pretoria-distrik verkies is. Die Suid-Afrikaanse Party se steun het geleidelik afgeneem terwyl die Nasionale Party en die Arbeidersparty die een tussenverkiesing na die ander gewen het. Genl. Smuts het ’n verkiesing vir 17 Junie 1924 afgekondig; die Nasionale Party het 63 setels gewen, die Suid-Afrikaanse party 53 en die Arbeidersparty 18, terwyl daar een onafhanklike kandidaat was. Vir Oost en Ons Vaderland was dit die beloning vir hul stryd wat hulle reeds veertien jaar tevore begin het. Oost het die verkiesing in die kiesafdeling Pretoria-Distrik gewen en was byna 25 jaar lank Volksraadslid. Gustav Preller het hom as redakteur van Ons Vaderland opgevolg en tot 1932 in hierdie posisie aangebly, en toe die naam van die koerant na Die Vaderland verander is, het hy tot 1936 as redakteur gedien. Toe NC Havenga die Afrikanerparty gestig het, het Oost die voorsitter geword. In die parlement het hy jare lank gepleit vir ’n bevolkingsregister wat uiteindelik in wetgewing vervat is. In 1953 het hy uit die aktiewe politiek getree en op Garsfontein naby Pretoria gaan woon. Hy is aangestel in die raad van die Landbank en het ook as direkteur van verskeie maatskappye diens gedoen. Hy was ook ’n gewilde spreker tydens volksfeeste. Sy omvattende versameling dokumente , wat veral waardevol is vir die politieke geskiedenis van Suid-Afrika, word in die Staatsargief in Pretoria bewaar. As ’n vurige ondersteuner van genl. JBM Hertzog het hy hom beywer vir die oprigting van die Hertzog-monument in Bloemfontein en hy was tot sy dood voorsitter van die Hertzog-komitee.
Hy is op 18 Mei 1964 in die ouderdom van 86 jaar na ’n beroerte oorlede.
deur Daantjie Badenhorst