HELENA J F LOCHNER (1892-1951)

Helena JF Lochner was ’n Afrikaanse skrywer en illustreerder van boeke en verhale vir jong kinders.

Helena Johanna Francina Lochner was die tiende van veertien kinders; sy is op 15 September 1892 op Moorreesburg in die Wes-Kaap gebore. Haar belangstelling in stories het ontstaan na aanleiding van die verhaal wat die slawenageslag op die familieplaas vertel het. Toe sy ses jaar oud was, het die gesin egter na Somerset-Wes verhuis, waar hulle oorkant die plaaslike NG-gemeente se destydse pastorie gewoon het. Somerset-Wes se destydse predikant van 1891 tot 1936 was ds. PJ Pienaar, wat getroud was met Henrietta Christiane Neethling, die sewende van ds. en mev. JH Neethling se twaalf kinders en ’n kleindogter van ds. Andrew Murray van Graaff-Reinet. Ds. en mev. Pienaar het dertien kinders gehad, onder wie ’n seuntjie wat in 1903, sy geboortejaar, oorlede is, en die jongste seun, Leon, wat in 1928 in die ouderdom van twintig jaar dood is. Die vier oudste kinders was almal seuns en tydgenote van Lochner. Een het skoolhoof op Caledon geword, een die hoof van Mowbray se opleidingskollege en een ’n onderwyser, staatsamptenaar en sakeman. Een van die Pienaar-dogters was getroud met dr. JLB Smith, ’n Suid-Afrikaanse igtoloog wat beroemd geword het nadat hy die selakant geïdentifiseer het.

Op tienjarige ouderdom het Lochner reeds toneelstukkies geskryf wat die Lochner- en Pienaar-kinders in die pastorie se eetkamer opgevoer het met die groot eetkamertafel wat as verhoog gedien het. Reeds hier het sy as “onderwyseres” uitgeblink, want die kindertjies moes die tonele opvoer soos sy vir hulle voorgesê het, andersins glad nie. Op Somerset-Wes het Lochner eers na ’n voorbereidende skooltjie toe gegaan en daarna na dieselfde “groot skool” waar haar broers en susters ook hul skoolonderrig ontvang het. Nadat sy op Somerset-Wes gematrikuleer het en daarna ’n onderwysdiploma verwerf het, het sy ’n jaar lank op die plaas De Keur by Ceres onderwys gegee. Die volgende twee jaar was sy onderwyseres op Simondium naby die Paarl en op die ou einde 24 jaar lank kindertuinonderwyseres in die Strand. In 1938 het sy met vervroegde pensioen afgetree en ’n ouderwetse huis op die rotse by Bloubergstrand gekoop omdat sy lief was vir die see.

Sy het vir haar ouers gesorg tot hul dood; dit, asook die onverwagte dood van haar verloofde, die portretskilder George Crosland Robinson (1858-1930) het gemaak dat sy nooit getroud was nie, hoewel sy ten tyde van Robinson se dood reeds 37 jaar oud was. Hy het haar aangespoor om haar illustrasietalent te ontwikkel. Sy was lief vir kinders, wat haar “aunty Molly” genoem het, en vir reis. In 1930 en weer in 1937 het sy ’n uitgebreide reis onderneem waartydens sy ’n studie van die kinderlektuur van ander lande gemaak het.

Sedert sy omtrent tien jaar oud was, het sy kinderstories vir haar eie genot geskryf en as onderwyseres het sy stories uitgedink om aan haar klas te vertel. Haar skrywersloopbaan het in 1926, toe sy 34 jaar oud was, begin toe advokaat JHH de Waal sonder haar medewete ’n artikel van haar aan Die Huisgenoot gestuur het. Sy het sommige artikels bewaar en ander verwaarloos. Een dag het adv. De Waal haar besoek en ’n tekening van haar wat eenkant gelê het, opgetel. Hy het haar daaroor uitgevra en sy het gesê dat dit haar werk was. Hy het haar aangemoedig om te skryf, selfs al het sy dit toe reeds gedoen, en voorgestel dat sy dit vir publikasie moes aanstuur. Sy het ’n weddenskap met hom aangegaan dat dit nie gepubliseer sou word nie, maar ’n paar weke later het die redakteur van Die Huisgenoot haar meegedeel dat die artikel geplaas is en dat hulle wou hê dat sy meer gereeld moes skryf. Aangesien sy die weddenskap verloor het, moes sy hom ’n doos sigare gee. Hy het haar weer besoek en vir haar gesê dat die land Afrikaanse skrywers nodig gehad het en dat die tyd vir haar reg was om haar deel by te dra. Sy het eers ’n paar artikels vir volwassenes geskryf, maar besluit dat sy eerder kinderverhale wou skryf. Só het sy gehelp om te voldoen aan die geweldige aanvraag vir kinderlektuur. Haar eerste kinderverhaal, Ou koning van klou, het eers as vervolgverhaal in Die Jongspan verskyn, maar is in 1930 in boekvorm uitgegee. Dit was die eerste Afrikaanse kinderboek wat sy self geïllustreer het. Hierna het nog sestig verhale die lig gesien, soms enkelstaande en soms in kleiner of meer omvattende bundels. Nadat sy as onderwyseres afgetree het, het sy haar voltyds aan haar skryfwerk gewy. Altesaam 62 van haar boekies, wat meer as ’n honderd verhaaltjies bevat het, is gepubliseer. Haar reise en navorsing het haar in staat gestel om die afdeling “Kinders van die wêreld” van die Afrikaanse Kinderensiklopedie te skryf. Haar stokperdjie was om sprokies en legendes van ander lande te versamel.

Sy het ook verhale oor heldefigure uit die Suid-Afrikaanse geskiedenis oorvertel, asook volksverhale wat sy gehoor het, baie daarvan onder bruin mense. Die meeste daarvan was fantasieverhale. Hoewel haar verhale nie noodwendig as sprokies beskou kon word nie omdat dit, volgens die skrywer Elsabe Steenberg, nie simboliese reikwydte besit het nie en daarom nie tot die kind se onderbewussyn spreek nie, kon dit nie as egte sprokies beskou word nie. Nogtans is daar by geleentheid na haar verwys as “die Afrikaanse Hans Christian Andersen”.

Wat die skryfproses betref, het sy gesê dit was nooit nodig vir haar om die stories uit te dink nie aangesien dit sommer vanself gekom het. Sy het selfs idees gekry as sy in die nag wakker geword het. Sy het erken dat sy soms die wind van voor gekry het omdat die uitgewers nie gedink het dat groot druk absoluut nodig vir die kleintjies was nie en dat gekleurde illustrasies te duur vir die pers was.

Sy is op 15 Julie 1951 in die ouderdom van 58 jaar oorlede. Na haar dood is baie van haar verhale in versamelbundels uitgegee, onder meer Sprokieland en Kinderland, albei in 1969 en Kammaland in 1970. Volgens Steenberg het Lochner baanbrekerswerk vir Afrikaanse kinderlektuur gedoen, veral omdat sy in ’n dringende behoefte voorsien het en ingewikkelde en abstrakte woorde vir kleuters vermy het. Sy het gesorg dat kinderlektuur onder die aandag van die uitgewers en die algemene publiek gekom het. In Vanderbijlpark is ’n straat wat na haar vernoem is.

deur Daantjie Badenhorst