HENDRIK CRUDOP – WAARNEMENDE KOMMANDEUR VAN 1678-1679
Hendrik Crudop het in 1667/1668 in die Kaap aangekom en het verskeie posisies beklee voordat hy ongeveer 10 jaar later op 29 Junie 1678 as waarnemende kommandeur aan die Kaap aangestel is na die dood van Johan Bax van Herenthals.
Sy naam word dus dikwels genoem as rolspeler tydens die dienstermyne van voorgangers. Hy het in baie aspekte van bestuur en administrasie hom met ywer en sukses van sy taak gekwyt. Hy was hofmeester vir beide voormalige kommandeurs Borghorst en Van Quaelberg, sekretaris van die politieke raad, rekenmeester, eerste president van die weeskamer in 1674 en direkteur van die Kompanjiestore. In 1676 is hy aangestel as sekunde (tweede in bevel) en bevorder tot koopman.
Van Crudop se tyd aan die Kaap staan die sluiting van twee grondooreenkomste met die Khoi-Khoi in April en Mei 1672 uit. Crudop se administrasie van hierdie ooreenkoms het goewerneur Godske beïndruk en hy het met sy aankoms aan die Kaap in Oktober 1672 vir Hendrik Crudop tot onderkoopman bevorder.
Crudop het die posisie van waarnemende kommandeur tot 12 Oktober 1679 beklee waarna hy in 1680 vanaf die Kaap na Batavia verplaas is. Hier het hy senior posisies beklee in Honimoa, Banda en Amboyna. Hy was getroud met Catharina de Voogt. Hulle het drie seuns gehad. Hendrik Crudop is in 1691 in Ambon, Indonesië, oorlede.
Elizma Smith
