HENRI SLEGTKAMP (1873-1951)
Henri Slegtkamp was ’n verkenner aan die Boerekant tydens die Anglo-Boereoorlog.
Hendrik Frederik Slegtkamp is op 19 April 1873 in die Nederlandse stad Beverwijk gebore en sy ouers het na Middelburg in Mpumalanga verhuis toe hy nog jonk was. Tydens die Jameson-inval van 1895 tot 1896 het Slegtkamp hom by die Middelburgse kommando onder veldkornet Matthijs Pretorius aangesluit en aan dié veldtog deelgeneem. In 1898 was hy betrokke by die Bunu-opstand in Swaziland. Kort voor die uitbreek van die Anglo-Boereoorlog was hy steeds op Bremersdorp in dié land, maar toe dit geblyk het dat die oorlog onvermydelik was, het hy na Middelburg teruggekeer en hom as gewone burger vir krygsdiens aangemeld.
Op 30 September 1899 het Slegtkamp na die Natalse grens vertrek, waar die hooflaer van die Transvaalse burgers by Sandspruit saamgetrek was en by die Middelburgse kommando onder kommandant PF Trichardt ingeskakel. Nog voor die uitbreek van die vyandelikhede het Slegtkamp egter by die Duitse Vrywilligerskorps onder veldkornet HU von Quitzow aangesluit en betrokke geraak by gevegte rondom Dundee en Ladysmith. Hy het egter nie tuis gevoel by die Duitsers nie, en het teen die einde November na die Middelburgse kommando teruggekeer. Hy het op 15 Desember 1899 saam met hulle aan die Slag van Colenso deelgeneem. Intussen het hy belangrike verkennerswerk vir die Boerekommando’s aan die Tugelarivier gedoen en met die stigting van kaptein WM Edwards se verkennerskorps het hy hom daarby aangesluit.
Tydens die Slag van Tabanyama op 20 Januarie 1900 as voorspel van die Slag van Spioenkop vier dae later het Slegtkamp besondere erkenning gekry. Toe die burgers na ’n hewige bombardement ’n kop teen die Tabanyama-bergreeks ontruim en die regterflank van die Boere blootgestel was, het Slegtkamp en twee medeverkenners, Jack Hindon en Albert de Roos, die kop op eie inisiatief uitgeklim en die Britte se linkerflank onder hewige geweervuur gebring. Die Britte was onder die indruk dat die kop baie sterk beman was, en teruggetrek. Die moreel onder die boere was versterk en die kop is weer beset. Só is die weg vir die oorwinning tydens die Slag van Spioenkop gebaan.
Nadat die Tugela-linie in Februarie 1900 ineengestort het, het hy kmdt.genl. Louis Botha gevra om hom na die Vrystaat te verplaas aangesien daar kalmte aan die Natalse front was. Hy het toestemming gekry om by die Ierse brigade van kol. JYF Blake aan te sluit. Dié brigade het op die punt gestaan om na die Vrystaat te vertrek. Hy het aan verskeie skermutselings in die omgewing van Brandfort deelgeneem , maar die Boere moes steeds voor die Britse oormag vlug.
Gedurende Mei 1900 het hy hom by kaptein Danie Theron se verkennerskorps aangesluit en saam met hom na die Vrystaat vertrek om die Britse verbindingslinies te ontwrig en vernietig waar dit moontlik was. Theron het Slegtkamp as ’n korporaal onder ’n dertigtal Nederlanders in die korps aangestel. Hy was in Junie 1900 betrokke by gevegte in Lindley en naby Bethlehem. Hy is swaar in die linkerheup gewond, maar het ten volle herstel. Theron is op 5 September 1900 dood, en daarna het sy verkennerskorps versplinter. Slegtkamp, Jack Hindon en drie ander het daarna na die Oos-Transvaal vertrek waar hulle onder meer rapporte van genl. Christiaan de Wet na genl. Louis Botha geneem het. Nadat Hindon as leier van ’n nuwe korps van vyftig man aangestel is, is Slegtkamp as luitenant tweede in bevel geplaas. Die hoofdoel van die nuwe korps was om die Britse verbindingslinies in die Noord- en Oos-Transvaal te ontwrig en Britse treine te ontspoor. Slegtkamp is gou as ’n plofstofdeskundige beskou en ’n steenkoolmyn naby Witbank is by geleentheid gesaboteer. In Januarie 1900 is ’n trein waarin Lord Kitchener van Pretoria na Middelburg gereis het, ontspoor.
Van die begin van 1902 tot by die sluiting van die Vrede van Vereeniging op 31 Mei 1902 het die Britte die korps meedoënloos tussen blokhuislinies rondgejaag. Twee weke voordat die vyandelikhede beëindig is, het Hindon hom vrywillig aan die Britte oorgegee en Slegtkamp het kaptein en leier van die korps geword. As bittereinder het hy die wapen kort daarna neergelê.
Onmiddellik na die oorlog het Slegtkamp na Nederland vertrek, maar omdat hy nie in Europa kon aanpas nie, het hy in 1903 na Transvaal teruggekeer. Hy was sy lewe lank ’n ondersteuner van die republikeinse ideaal en het in die laat 1930’s by die Ossewa-Brandwag aangesluit. Ten spyte van sy gevorderde ouderdom was hy aktief betrokke en het hoofgeneraal op die Hoëveld geword.
Hy is op 2 Februarie 1951 in die ouderdom van 77 jaar oorlede.
deur Daantjie Badenhorst