HENRIETTE ARMSTRONG (1862-1944)

Henriette Armstrong was ’n vroueleier wat gehelp het om die Suid-Afrikaanse Vrouefederasie te stig.

Henriette Ester Carolina Armstrong is op 21 Februarie 1862 op die Vrystaatse dorp Fauresmith gebore. Haar ouers was W Oberholzer en Anna Keiser. Nadat sy in die Damesinstituut Eunice in Bloemfontein gewoon het, is sy getroud met John Armstrong, ’n bankbestuurder op Eshowe in KwaZulu-Natal getroud. Toe hy na die Standard Bank in Pretoria verplaas is, het hulle daarheen verhuis. Daar is geen kinders uit die huwelik gebore nie, en hulle is mettertyd uitmekaar. Sy het haarself onderhou deur ’n losieshuis te begin waar volksleiers kon tuisgaan as hulle in Pretoria was.

Toe die Anglo-Boereoorlog in 1899 uitgebreek het, het sy as verpleegster by genl. Piet Joubert se kommando aangesluit. Sy het sewe reise met gewondes van Ladysmith in KwaZulu-Natal na Pretoria onderneem. Met die Britse oorname van Pretoria op 5 Junie 1900 het sy daarheen teruggekeer en ’n groep vrywillige verpleegsters wat in die Irene-konsentrasiekamp sou werk, georganiseer. Sy was van April tot Oktober 1901 in dié kamp en het dagboek gehou van haar wedervaringe. Sy was bevriend met offisiere van die Britse besettingsmag en het die inligting wat hulle vir haar gegee het, deur kaptein JJ Naudé aan die Boereleiers in die veld oorgedra.

Na die oorlog was sy in 1904 ’n stigterslid van die Suid-Afrikaanse Vrouefederasie (SAVF) en die volgende jaar het sy die Reddingshuis (Armstrong-Berning-sentrum) vir ongehude moeders, wat nog dekades lank sou bestaan, ingerig. In 1911 het sy die SAVF oorreed om die verwaarloosde kinderkerkhof by Irene op te knap en elke Goeie Vrydag ’n gedenkdiens en kranslegging daar te hou. Sy was ook ’n stigter van die Langlaagte-weeshuis vir oorlogsweeskinders.

Tydens die Rebellie van 1914 het sy gedien op ’n hulpkomitee wat die rebelliegevangenes van voedsel voorsien het en in 1916 het sy gehelp met die organisasie van ’n optog deur vroue wat amnestie vir die rebelliegevangenes bepleit het. In dieselfde jaar was sy betrokke by die stigting van die Vroue-Nasionale Party waarvan sy hoofbestuurslid was. Sy het hierdie party in 1919 verteenwoordig by die stigting van die Bond van Afrikaanse Moeders; dit was een van die eerste opleidingsentrums vir vroedvroue in Suid-Afrika.

In 1939 het sy ’n beroerteaanval gehad en omdat sy haarself nie meer kon help nie, het sy by ’n neef, Heinrich Stuart, gaan woon. Hy het haar vir die laaste vyf jaar van haar lewe versorg. Sy het egter die bewoording opgestel vir die protesoptog deur vroue wat beswaar gemaak het teen die Tweede Wêreldoorlog. Hierdie optog na die Uniegebou, wat op Saterdag 22 Junie 1940 plaasgevind het, is binne vyf dae gereël en het vroue die kans gegee om hul stem in verset teen die oorlog te laat hoor. Die Ossewa-Brandwag, met dr. Hans van Rensburg as hoofleier, het ’n belangrike rol in die reëlings gespeel. Sowat 6000 vroue vanoor die hele land het van Kerkplein tot by die Uniegebou gestap. Langs die pad het nóg vroue aangesluit, wat die totale aantal deelnemers op 9900 te staan gebring het. Die “’bejaarde volksmoeders” het die versoekskrif om neutraliteit aan genl. Jan Smuts se adjunk, minister JH Hofmeyr, oorhandig. Smuts het egter geen tyd gehad vir “’partypolitieke propaganda” wat in stryd was met die aangenome landsbeleid nie.

Sy is op 17 Oktober 1944 in die ouderdom van 82 jaar oorlede en langs haar ma in die Ou Begraafplaas in Rebeccastraat in Pretoria begrawe.

deur Daantjie Badenhorst