HERBERT BAKER (1862-1946)
BEWONDERAAR VAN DIE KAAPS-HOLLANDSE BOUSTYL
Die offisiële argitek van Cecil Rhodes was sir Herbert Baker, R.A., F.R.I.B.A. Onder Rhodes se invloed en leiding het hy baie groot werke uitgevoer, en is belangrik in enige oorsig van boukuns in Suid-Afrika. Hy het ook ’n biografie van Rhodes geskryf waarin hy sy vurige bewondering vir die groot imperialis uit.
Baker se werk is soms verbasend mooi, maar dikwels ook minder mooi. Hy het die pragtige Kaaps-Hollandse boukuns baie bewonder en op groot skaal daarvan gebruik gemaak in geboue wat hy ontwerp het. Ongelukkig het hy die statige gewel soms uitgebuit totdat dit alle betekenis verloor het.
Rhodes het aan Baker die geleentheid gegee om groot werke uit te voer en om kosbare studiereise te onderneem. Hierdie groot geluk het hom te beurt geval nadat hy op ’n kritieke stadium in sy lewe na Suid-Afrika gekom het as gevolg van avontuurlus. Dit was gedurende die tydperk van die groot ontdekkings van goud en diamante.
In Maart 1892 het hy Rhodes leer ken en ook die opdrag gekry om Groote Schuur te herstel. In sy boek “Cecil Rhodes” gee Baker baie interessante beskrywings van hoe hy te werk gegaan het en met watter moeilikhede hy te kampe gehad het. Baker het ook vir Rhodes bygestaan met die versameling van Kaaps-Hollandse oudhede.
Een van Baker se mooiste werke, ook ’n opdrag van Rhodes, was die pragtige “cottage”, die “Woolsack”. Hierdie plekkie wou Rhodes ’n toevlugsoord vir kunstenaars maak. Rudyard Kipling, b.v., het baie somers daar deurgebring. ’n Ruk na die voltooiing van hierdie werk het Baker op ’n studiereis deur Europa en Egipte gegaan, ondersteun deur Rhodes.
Van Baker se baie werke kan ons voorbeelde soos die volgende noem: Die huis van wyle sir Abe Bailey, Rust-en-Vrede, is gebaseer op ontwerpe wat Baker oorspronklik gemaak het vir Rhodes, wat ’n huis by Muizenberg wou Iaat bou het. Die Rhodes-gedenkteken teen die hang van Tafelberg by Rondebosch is deur Baker ontwerp. Die standbeeld van “Liggaamlike Energie” is gebeeldhou deur Watts en die reusekop van Rhodes is gebeeldhou deur Tweed, wat ook die standbeeld van Jan van Riebeeck aan die onderent van Adderleystraat gemaak het.
Dan het Baker die reusagtige en skouspelagtige Uniegebou by Pretoria ontwerp. In samewerking met F.L.H. Fleming, F.R.I.B.A., het hy ontwerp: die S.A. Instituut vir Mediese Navorsingswerk in Johannesburg, die St. Mary-Katedraal in Johannesburg, die Reserwebank in Pretoria, en die plaashuis te Rietbult, Balfour, Transvaal.
Saam met A.T. Scott, F.R.I.B.A., het hy die gebou vir Barclaysbank in Kaapstad ontwerp. In Londen is die groot Suid-Afrika-Huis ook deur Baker. Verder het Baker katedrale in Pretoria, Kaapstad en Salisbury ontwerp.
Daar is baie woonhuise van hom wat maklik herkenbaar is deur die veelvuldige Kaaps-Hollandse details wat hy ingevoer het. Afgesien van die Rhodes-gedenkteken, het hy ook die Besettingsgedenkteken te Kimberley ontwerp.
Ontwerper van Groote Schuur en die Uniegebou
Bron: Aucamp, G. (red.). 1947. Suid-Afrikaanse Heldegalery. Kaapstad: M. Rieck.
Foto: Elliott-versameling, Kaapse argief
