IERSE MONUMENT

(Oorspronklik onderkant die SAUK-toring op die Brixton-koppie. Nou in Orania)

In die Tweede Vryheidsoorlog van 1899-1902 (ook genoem die Anglo-Boereoorlog) het tussen 400 en 500 Iere hulle met die Boere se stryd om vryheid vereenselwig.

Toe die oorlogswolke in September 1899 swaar oor die Zuid-Afrikaansche Republiek (ZAR) begin saampak, het die Iere aan die Witwatersrand ’n manifes opgestel. Daarin is hulle eeue-oue lydensgeskiedenis onder Engeland uiteengesit.

Die manifes het ook gelui: “Gaan ons toelaat dat dieselfde lot wat Ierland in puin gelê het, die Transvaal ook tref? Wreek julle, Iere! Ons roep julle op om te veg teen die nasie wat ons mense meer as 700 jaar lank onderdruk. Die Iere moet wrekers en nie medesamesweerders van sulke misdade wees nie.”

Koerantberig oor die Ierse brigade of kommando

Majoor John McBride

’n Komitee van Randse Iere, onder leiding van majoor John McBride, is op die been gebring met die doel om ’n Ierse brigade of kommando te vorm om die Boere by te staan. McBride was ’n Ierse apteker wat in 1896 aan die Rand kom woon het. Hy wou nie self bevel van enige kommando neem nie omdat hy gereken het dat hy nie die nodige militêre ervaring het nie.

Aangesien die Iere indertyd as onderdane van Engeland deur die Engelse as rebelle geskiet sou word, het president Kruger twee versoeke van hulle om ’n kommando te vorm, van die hand gewys. Dit was ’n te hoë offer van die Iere. Met die komitee se derde versoek het president Kruger toegegee en ’n spesiale wet is deur die Volksraad geloods wat burgerregte aan die Iere toegeken het.

Vyfhonderd-en-sewentig Witwatersrandse Iere het aansoek om ZAR-burgerskap gedoen om vir die behoud van dié Republiek te veg.

  1. Een kommando met sowat 300 man, het onder leiding gestaan van ’n Amerikaanse Ier van Pretoria, kolonel John Blake. Majoor John McBride was tweede in bevel. Hulle het aan die Natalse front diens gedoen en hulle onderskei met die Slag by Nicholsonsnek asook by Colenso. Blake is aan die Amerikaanse Militêre Akademie by West Point opgelei en het in die VSA teen van die Indiaanse stamme geveg. Die Ierse kommando se leuse was: “Enige vyand van Engeland is ’n vriend van ons.”
  1. ’n Tweede kommando, onder die Australiese Ier kolonel Arthur Lynch, met sowat twintig Iere in hulle geledere, het diens gedoen in gevegte teen die Engelse by Ladysmith en Glencoe.
  1. ’n Groep van omtrent vyftig Amerikaanse Iere onder kaptein Patrick O’Connor is as ’n ambulanseenheid deur die Clan-na-Gael (’n geheime Ierse anti-Engeland organisasie) van die Verenigde State van Amerika na Transvaal gestuur. Slegs tien was werklike ambulansmanne.

Die Ierse brigade met bevelvoerder, kolonel John Young Fillmore Blake, in die voorste ry, twee plekke links van die konsertinaspeler
(Foto: New History)

Na afloop van die groot veldslae is die lere onder verskeie Boerekommando’s versprei en het hulle enduit aan die moedige stryd deelgeneem. Hulle het aan talle gevegte deelgeneem. Ons weet van 31 wat gedood en 23 wat gewond is. Voor die Iere Suid-Afrika verlaat het, het hulle briewe van dank ontvang van staatsekretaris FW Reitz, kommandant-generaal Louis Botha en generaal Ben Viljoen onder wie hulle ’n tyd geveg het.

  1. Blake se graf in West Point

    Blake is terug na die VSA en is daar onder eienaardige omstandige dood. Hy is vergas aangetref en daar was sprake van selfmoord of dat hy uitgeskakel is. Hy is in die VSA se Militêre Akademie-begraafplaas by West Point in New York se Orange-distrik begrawe. Sy grafsteen is deur sy 1880-West Point-klasmaats opgerig.

  1. Anders as die meeste ander Iere het Lynch eers Transvaalse burgerskap aangevra en gekry nadat die oorlog reeds begin het. Dit het hom kwesbaar vir ’n klag van hoogverraad gemaak. In 1901 is Lynch verkies tot die Ierse Parlement. Toe hy in Ierland terugkom, is hy van hoogverraad aangekla en ter dood veroordeel. Na ’n tegniese geveg is hy uiteindelik begenadig en vrygelaat.
  1. Majoor John McBride is terug na Ierland waar hy daar by die gevegte teen die Britse beheer oor Ierland betrokke geraak het. Dit het uitgeloop op die groot opstand van die Iere in 1916 teen die Britse troepe en regering. McBride is gevang, veroordeel en deur ’n vuurpeleton tereggestel. Sy laaste woorde was blykbaar: “Ek het in die lope van soveel gewere vasgekyk in Suid-Afrika tydens die oorlog daar, dat ek die dood nie vrees nie. Please carry out your sentence.”

Ten einde hulde te bring aan hierdie moedige manne, is ’n Ierse Kommando-Gedenkfonds (Ciste ar son Briogaid na nGael) in 1952 gestig. Verskeie vooraanstaande Iere en Afrikaners het in die komitee gedien. Fondsinsameling het gestrek oor ’n periode van 25 jaar en in 1973 is opdrag aan Jan van Wijk en Vennote, argitekte, gegee om ’n gedenkteken te ontwerp.

Jan van Wyk het ook die Taalmonument in die Paarl ontwerp.

Die Ierse Monument in Johannesburg

Die terrein was aan die noord-oostekant van die Brixton-toring (nou die Sentech-toring) in Johannesburg, en is van die SAUK in ruil vir ’n perseel in Cottesloe verkry.

Die sleutelwoorde wat die argitek gebruik het by die beplanning van die monument was: “Die Iere het saam met die Boere geveg vir vryheid.” Verder is twee elemente wat prominent in die Ierse vroeë monumentbou gebruik is, in ag geneem: Die grondwal (of berm), wat sirkelvormig ’n laer of bastion gevorm en beskerming gebied het, en staanstene wat geskiedkundige gebeurtenisse aangedui of herdenk het.

Dié twee elemente is soos volg in die ontwerp toegepas:

Soos met ons eie Voortrekkerlaer en volgens die Ierse gebruik, is ’n sirkelvormige grondwal van 22 m in deursnee aangelê om die monument te omsoom.

Die wal, as deel van die tuinlandskap, is grasbedek, en het aan die westekant ’n opening as ingang na die binneruim.

Op ’n ronde podium in die middel van die binneruim is vier gehamerde beton-“staanstene” in ’n sirkel gerangskik. Hulle is antikloksgewys van klein tot groot so geplaas dat die eerste drie mekaar ondersteun in ’n opwaarts strewende beweging, van klein en skuins tot groot en meer regop — die Ierse brigade of drie kommando’s. Aan die einde van hierdie “strewe” en in dieselfde vloeiende sirkellyn staan die vierde steen fier en regop — Vryheid.

Die besoeker se oog volg hierdie opwaartse lyn en rus finaal op die hoofelement. Die staanstene is 900 mm in deursnee en die hoogste is 3,5 m. Die boukoste was R25 000 en die bou-aannemer was Stocks Construction (Rand).

Die onthulling is op 1 November 1975 deur mev. Betsie Verwoerd waargeneem, met onder meer die volgende woorde: “Met die oprigting van hierdie monument is ’n lang-uitstaande ereskuld teenoor die Iere deur die Afrikaners en hul vriende van Ierse afkoms, vereffen, …”

By die ingang na die binneruim is die volgende inskripsie aangebring, in Iers en Afrikaans; die plaat is teenoor ’n afbeelding van die Ierse harp geplaas:

“Opgerig ter nagedagtenis van die Iere wat vir die Boerenasie geveg het in sy tyd van nood 1899-1902. Mag hulle offers vir vryheid en reg ’n ewige band smee tussen die Ierse volk en die Boerenasie, en mag hierdie monument ’n simbool daarvan wees.”

In 1998 het Johannesburg se ANC-stadsraad die grond aan ’n ontwikkelaar verkoop. Hy wou dringend van die monument ontslae raak. Sebastiaan Biehl het die inisiatief geneem en met die hulp van dr. Pieter Mulder, VF Parlementslid, begin planne maak om die monument te red. Met die swaar sementsuile was dit nie maklik om die monument te skuif nie. Geen stadsraad of kultuurorganisasie was bereid om die koste te betaal vir die afbreek, skuif en heroprigting van die monument nie. Orania was bereid dat die monument daar by hulle heropgerig kon word. Hulle het ook die jaarlikse instandhouding onderneem, maar het nie kans gesien vir die afbreek en vervoerkoste nie. Daarop het dr. Mulder die VF sover gekry om die koste te betaal vir die afbreek en vervoer van die monument waarna dit op Orania heropgerig is.

Pieter Mulder en Sebastiaan Biehl tydens die verskuiwing van die Ierse Monument van Johannesburg na Orania.

’n Kleindogter van dr. Verwoerd, Elizabeth van den Berg, het die herinwyding op 2 Desember 2002 waargeneem.

In Ierland se hoofstad Dublin, aan die bopunt van Grafton-straat (hoek met Stephen’s Green) staan ’n mooi triomfboog. Dit herdenk die Ierse offisiere en soldate van die Royal Dublin Fusiliers wat aan Britse kant tydens die Anglo-Boereoorlog geveg en gedood is. Nêrens in Ierland sal jy ’n monument kry wat erkenning gee aan die Iere wat dood is terwyl hulle aan die Boerekant geveg het nie. Dit nieteenstaande die feit dat daar ’n baie sterk pro-Boeregees in Ierland was tydens die oorlog met pro-Boere-optogte wat gehou is en die Transvaalse Vierkleur wat orals gewaai en gehys is. In die geveg tussen die Iere en die Britte is dit waarskynlik net nie toegelaat nie. Dit beteken dat die Ierse monument in Suid-Afrika waarskynlik die enigste monument in die wêreld is wat aan hierdie Iere wat die Boere ondersteun het, erkenning gee.