
ISANDLWANA, NQUTU
Vanuit die hart van Zoeloeland het die ou roetes geloop, en loop vandag nog die paaie noordweswaarts oor die Isihlunguheuwels by Babanango, verby die Isipeziberg, deur die Buffelsrivier na Dundee. Jare lank is die Buffels-Bloedrivier as die wesgrens van Zoeloeland beskou en dit is op hierdie grens waar die bloedigste en bitterste botsings tussen Blank en Zoeloe plaasgevind het. Die verhaal van die Slag by Bloedrivier op 16 Desember 1838, daar oos van Vegkop, het in die Suid-Afrikaanse geskiedenis legendaries geword. Maar nie minder dramaties is die Slag by Isandlwana en die verdediging van Rorkesdrif nie.
Op 11 Januarie 1879 met die uitbreek van die Zoeloe-oorlog het lord Chelmsford, Britse Opperbevelhebber, Zoeloeland by Rorkesdrif oor die Buffelsrivier met sy leër binnegeval. Die leërmag het bestaan uit ’n totaal van 4 659 offisiere en manskappe van wie 2 566 nie-blank en 320 berede was, sewe seweponderkanonne, 220 waens en 82 karre. Swaar reëns het geval en nadat die leërmag die rivier deurgetrek het, het dit sewe dae stilgelê. Verkennerswerk is gedoen en daar is tot ’n terrein vir die volgende kamp besluit. Hierdie terrein was geleë onmiddellik suid van die eienaardige rotskoppie Isandlwana (blaarpensie) wat soos ’n sfinks oor die omgewing getoring het. Noordwaarts is dit met ’n hoë rug aan die omringende Nqutu-heuwels en suidwaarts met ’n lae nek aan ’n kliprantjie en die Nahlazaqazi-heuwels verbind. Oor die lae nek het die pad na Rorkesdrif geloop. Suidooswaarts het ’n vallei hom vir byna 13 km uitgestrek. Hoewel die uitsig dus na die suidooste oop was, is dit veral na die noorde en ooste deur die heuwels versper.
Op 20 Januarie het die leërmag na hierdie terrein verskuif. Nieteenstaande tydige waarskuwings van mense soos Paul Kruger, het lord Chelmsford in gebreke gebly om ’n behoorlike laer te trek. Intussen het ook ’n magtige Zoeloeleër van 20 000 man onder aanvoering van Dabulamanzi in beweging gekom en toe Chelmsford se leërmag so argeloos hier aan die voet van Isandlwana uitspan, lê hulle skaars ag km noord van die kamp in die Nqutu-heuwels verskuild.
Op 21 Januarie het Chelmsford ’n verkenningspatrollie onder majoor Dartnell suidooswaarts langs die vallei af gestuur. Dartnell het met ’n Zoeloemag, waarskynlik die uiterste linkervleuel van die groot mag, in aanraking gekom. Hulle het voortdurend teruggeval, gevolg deur Dartnell, wat uiteindelik besluit het om in die veld te oornag. Die Zoeloemag het sodanig aangegroei dat hy na die kamp teruggestuur het om hulp te ontbied. Hierop het Chelmsford gereageer deur self die volgende môre vroeg, d.w.s. die 22ste Januarie, met ’n mag van 800 man in sy rigting te trek. Sestien km suidoos van die kamp het Chelmsford Dartnell bereik en nou voer die Zoeloe-impie dieselfde taktiek as die vorige dag uit: hulle lok hom al verder van sy kamp weg!
By Isandlwana is kol. Pulleine in bevel gelaat en alles was hier doodrustig. Geen poging is aangewend om die kamp in ’n behoorlike laer te trek me. Ook onder die Zoeloemagte agter die heuwels was daar rus, want dit was donkermaan, ’n seremoniële gety, waarop hulle die hulp van die voorvaderlike geeste afgesmeek het.
Teen ongeveer halfelf het kol. Durnford met sy berede Basoetomag vanaf Rorkesdrif by Isandlwana aangekom. Nadat hy en Pulleine wagte op Isandlwana geplaas het en verkenningspatrollies na die rante noord van die kamp gestuur het, het hy al dadelik weer vertrek om Chelmsford teen ’n moontlike aanval in die rug te beskerm. Sy koers was ietwat meer links en onwetend loop hy hom teen die linkervleuel van die groot Zoeloemag vas. ’n Stryd ontbrand en dit sit die ganse magtige Zoeloe-oorlogsmasjien aan die gang. In die formasie van ’n reuse beeskop stoot hy onweerstaanbaar op Isandlwana af. Die linkerhoring dreig om Durnford te omsluit; die voorkop stoot uit die noordooste en ooste oor die rante direk op die kamp af, en die regterhoring vlieg noord van Isandlwana om en omsluit die kamp vanuit die noordweste.
Die aanval was ’n totale verrassing. Pulleine het sy verdediging so gou moontlik in orde gebring. Om eenuur het die volle aanslag van die Zoeloemag die kamp getref. Bitter, bloedig en heldhaftig is geworstel, maar ’n halfuur daarna was daar geen lewende Blanke meer in die laer oor nie. ’n Klompie het na Rorkesdrif op die vlug geslaan, maar langs die pad is hulle deur vlugge Zoeloe ingehaal en gedood. Die twee moedige vaandeldraers, Coghill en Melville, moes in die rivier met hul lewes boet. Die drif waar hul probeer deurgaan het en waar ander wel deur ontsnap het, staan sedertdien as “Fugitives’ Drift” bekend.
Terwyl die Zoeloe besig was om die kamp te Isandlwana aan te val en die garnisoen uit te wis, was lord Chelmsford met sy begeleidende troepemag ongeveer 19 km suid daarvan salig onbewus van die ramp. Teen twaalfuur daardie middag het hy van Zoeloe-krygsgevangenes die ontstellende inligting verkry dat ’n magtige Zoeloe-leër agter sy rug ’n aanval op sy kamp beplan. Teen 1.30 nm. het die gerugte dat die kamp aangeval word, hom bereik. Vergesel van sy offisiere het hy op ’n hoogte uitgeja en die kamp met hul verkykers bespied, maar niks ongewoons bemerk nie. In hierdie stadium wat die slag egter reeds afgeloop en die bewegende figure wat hulle daar bespeur het, was Zoeloe wat tussen die tente en wrakstukke van waens rondgesnuffel het.
Berigte het egter al hoe meer onheilspellend geword en teen twee-uur het Chelmsford en sy troepemag wat hoofsaaklik uit voetvolk bestaan het, die terugtog aanvaar. Hoe nader hulle aan die kamp gekom het, hoe meer is hulle deur ’n gevoel van beklemming oormeester. Dit was reeds donker toe hulle die ramptoneel bereik. Die kamp was in totale duisternis gehul. Die voelbare stilte is slegs deur die gekreun van ’n gewonde hier en daar verbreek. Uit vrees vir ’n verdere aanval deur die Zoeloe het Chelmsford alle beweging verbied en die troepe moes tussen die dooies, die vernielde waens, tente, wapentuig en kommissariaat oornag.
Nog voor dagbreek die volgende oggend het Chelmsford opdrag gegee dat die kolonne na Rorkesdrif moes marsjeer. Die ganse nag het hulle uit daardie rigting geweervuur gehoor. Toe hulle met dagbreek op die nek uitkom, sien hulle ’n digte rookwolk uit die geboue by Rorkesdrif opstyg en ’n Zoeloe-impie in volle vlug. Dit was juis op hierdie moment dat die Zoeloe hul langdurige aanval op Rorkesdrif gestaak en vinnig teruggeval het.
Isandlwana was een van die grootste rampe wat die Britse leër in Afrika getref het. Tesame met hul nie-blanke bondgenote het 1 500 soldate gesneuwel onder wie die kranige kol. Henry Pulleine, kol. Anthony Durnford en kapt. Younghusband.
(Bronsplaat 1954)

Foto: Melton Prior • Isandlwana • The Illustrated London News, 12.7.1879 – Africana Museum, Johannesburg
Bron: Oberholster, J.J. 1972. Die Historiese Monumente van Suid-Afrika. Kaapstad: Die Kultuurstigting Rembrandt van Rijn, pp. 273-275.
