ISBRAND GODSKE – GOEWERNEUR VAN 1672-1676
Isbrand Godske was afkomstig van Den Haag. In 1654 het hy die rang van koopman beklee in die VOC en was hy ’n lid van die sending na die koning van Kandy in Ceylon. Van 1656 tot 1661 was hy bevelvoerder van die VOC-kantore in Galle in Ceylon. Later word hy bevorder tot kommandeur van Malbar (1665–1667) en direkteur van Persië (1667–1670). Godske het homself ook op militêre gebied onderskei in beleëringe van Colombo en die Mannar-eilande.
Hy was voor sy aanstelling in die Kaap reeds bekend met die Kaapse nedersetting wat hy in 1663, 1665 en 1671 besoek het. Sy besoek in 1665 was in opdrag van die VOC om ’n geskikte perseel vir die Kasteel die Goeie Hoop te vind. Weens sy ervaring van senior amptenaar van die VOC is hy kort na sy aankoms in die Kaap in Oktober 1672 tot goewerneur bevorder. Dit maak hom dus die eerste goewerneur in die Kaap. Sy ampstermyn het gestrek van 2 Oktober 1672 tot 14 Maart 1676.
Tydens sy termyn in die Kaap is ’n veepos in die nuutgestigte distrik Hottentots-Holland in 1672 gevestig. Isbrand Godske het ook begin met maatskaplike wetgewing en in 1674 die Weeskamer gestig om na die weeskinders in die Kaap om te sien. Godske het nie gehuiwer om bedrog aan te spreek nie. Hoëprofiel- VOC-amptenare in die Kaap is in sy termyn verhoor.
Bouwerk aan die kasteel het in hierdie termyn vinniger gevorder en in 1674 is die ou fort ontruim en die voltooide gedeelte van die Kasteel die Goeie Hoop betrek. Dit sou nog vyf jaar neem om die kasteel volledig te voltooi. Op 29 Julie 1674 is Eva Meerhoff (Krotoa) oorlede. Sy het die volgende dag ’n Christen-begrafnis ontvang wat Godske goedgekeur het en is in die kerk in die kasteel begrawe.
In Godske se termyn het die Derde Anglo-Nederlandse oorlog van 1672 tot 1674 plaasgevind. Godske is juis in hierdie tyd Kaap toe gestuur om die Kaap in die oorlog teen Engeland vir Nederland te behou. Dit was ook een van die redes waarom gevorder is met die bouwerk aan die kasteel.
Ná afloop van die oorlog was Godske se diens elders nodig. In 1676 het hy teruggekeer na Nederland. Isbrand Godske is op 29 September 1691 in die ouderdom van 61 jaar oorlede en in Den Haag begrawe.
Elizma Smith
