ISIE SMUTS (1870-1954)

OUMA ISIE* SMUTS – SO GEMAAK, SO GELAAT STAAN

Die Parlementêre Protokolhoof bewe van ontsteltenis toe hy die Generaal daardie middag in die wandelgang by die Uniegebou voorkeer. Is dit waar, wil hy weet, dat mevrou Smuts die koning van Griekeland by die kombuistafel laat sit het en ’n beker, ’n beker!, koffie uit die ketel geskink het?

“Dis maar Isie se manier,” sê die Generaal. “Sy is nie een vir pretensies nie, so gemaak, so gelaat staan.”

Isie Smuts was ’n komplekse, en tog ook so ’n onpretensieuse, wese. Van kleins af altyd met boeke en gedigte deurmekaar. Slim op skool ook. Sy matrikuleer in dieselfde jaar as haar toekomstige man. Hy staan derde in Suid-Afrika, sy negende. Dis die jaar 1887 – toe vroue nog nie juis skool gegaan het nie, wat nog te sê van matrikuleer.

Sybella Margaretha Krige van Stellenbosch was sy, gebore op 22 Desember 1870. Haar pa was ’n bekende wynboer, oom Japie Krige. Isie het nog agt broers en susters. Na skool wil sy ’n dokter word, maar daar is nie geld nie en derhalwe val sy by die Victoria Kollege in en begin haar bekwaam as onderwyseres. Sy is 16 jaar oud. En op ’n middag in die Laan langs die Eersterivier vra ’n 17-jarige eerstejaar regstudent of hy haar boeke kan dra – Jan Christiaan Smuts van Riebeek-Wes in die Swartland. Elke oggend stap hy saam met haar klas toe, elke middag weer terug huis toe.

Maar dit neem tien jaar voordat hy die jawoord vra, omdat hy eers vir vier jaar in Cambridge moes gaan studeer. In hierdie jare hou Isie haarself ook besig met studies. Sy het ’n besondere voorliefde vir Duitse digkuns en die lieder van Schubert. Sy lees die Ou Testament in Klassieke Grieks en praat Grieks, Nederlands, Frans, Engels en Duits vlot. Tussen Jan en Isie begin ’n lewendige briefwisseling wat hulle vir die res van hulle lewe sou volhou.

Met sy terugkeer begin hy praktiseer as prokureur in Johannesburg. En toe skielik, op ’n oggend, klim hy op die trein na Stellenbosch, klop die Kriges om 5 uur die oggend op en vra die jawoord. Eerwaarde Murray trou die twee op 30 April 1897 in die voorhuis van oom Japie se woning, Libertas Parva.

In Maart van die volgende jaar word die tweeling gebore, maar beide sterf kort na die bevalling. Kosie word in 1899 gebore, enkele ure voordat die Anglo Boereoorlog uitbreek. President Kruger roep Smuts op om veld toe te gaan met ’n kommando. In hierdie dae word Isie ernstig siek en versoek om na haar ouers op Stellenbosch te gaan, maar Lord Kitchener weier dit en stuur haar en Kosie na haar suster Ella de Wet in Pietermaritzburg. Drie maande later sterf klein Kosie ook. Isie weet nie eens waar Jan hom bevind sodat sy hom van die kind se sterfte kan laat weet nie, maar in haar ontbrand ’n vurige haat teenoor die Britse gesag. Elke brief wat sy in die pos gooi, het ’n seël op wat onderstebo geplak is, sodat die koningin op haar kop staan.

Teen 1903 is sy terug in Johannesburg. Isie is nou 32 en teen die einde van die jaar word Susannah gebore. Catherine volg in 1904, Jacob in 1906, Sybella in 1908 en die laaste, Jan jnr., in 1912, toe Isie al 41 jaar oud is. Reeds in hierdie jare spot Jan met haar oor haar wilde bos krulhare en ronde brilletjie wat hom aan die ouma op die Mazawateeblik laat dink. Van daar af sou sy by bekendes en onbekendes bekend staan as “Ouma Smuts”. Haar troetelnaam vir hom: “Oubaas”, word ook algemeen gebruik deur familie, vriende, bure, bediendes en politieke kollegas.

Ouma Isie het ’n lewendige belangstelling in die politiek met ’n natuurlike aanvoeling vir taktiese besluite. Lank voordat Churchill of Roosevelt selfs die vermoede gehad het, voorspel sy dat Hitler nog Rusland gaan binneval.

Die Smutse trek in 1908 na die plaas Doornkloof by Irene. Aan die einde van die oorlog koop Jan ’n ou Britse offisiersmenasie op ’n veiling vir £300. Dié ongemaklike ou gebou van sink en planke word hulle woonhuis. Nooit, in die jare wat Jan Smuts die Eerste Minister was, wou ouma Isie in Libertas gaan bly nie. Die ongerieflike ou sinkhuis op Doornkloof is waar sy ’n tuiste skep. Dit staan vol onooglike meubels wat, in baie gevalle, deur ander mense weggegooi is. Die kombuistafel is lendelam en die onpaar stoele is bruin geverf. Die Generaal slaap in die stoepkamer op ’n militêre veldbedjie wat hy self soggens opmaak. En in elke vertrek is stapels en rakke en kaste vol boeke. Meer as 6000 boeke wat in totale wanorde oral rondstaan. Ouma Isie is ’n opgaarder. Wat by die deur inkom, kom nie weer daar uit nie. Haar laaie en kaste is oorlopens toe vol van goeters.

In die kombuis verbrand ouma Isie dikwels die kos dat die rookwolke bo die potte staan terwyl sy verdiep iewers in ’n digbundel sit. En ouma Isie verdra glad nie pretensie nie. Die gesin eet by die kombuistafel, sy karring nie met ’n tafeldoek nie en skep partykeer sommer kos uit die blikkie uit in die borde. As die soutpot wegraak, sit sy ’n eierkelkie of piering met sout op die tafel neer.

Met haar geleerdheid het sy nooit te koop geloop nie. Sy was ’n kalm, rustige mens met ’n ongekunstelde geaardheid wat alle mense presies eenders behandel het. Dikwels sou sy op die stoeptrappie sit en kopstukke gesels met die ou Zoeloe-huisbediende en wanneer die Britse koning en sy gesin in 1947 die land besoek, weier sy om haar “op te dress” vir ’n onthaal in Libertas. Hulle kan vir haar kom kuier as hulle wil. Op die voorstoep gesels sy met die koning asof sy hom jare al ken.

Britse koning en sy gesin

En so het die wêreld ouma Isie leer ken. Selfs die fynbesnaarde ou koningin Mary van Engeland begin haar briewe met: “My dear Ouma Smuts.”

Die Oubaas se liefde was die veld en die plantkunde en daarom word daar nie tuin gemaak op Doornkloof nie. Die veld kom letterlik tot teen die voordeur. Ouma Smuts se manier van doen het haar heelwat kritiek op die hals gehaal. Wanneer sy wel genoodsaak was om in Libertas te oornag, weier sy summier om in die weelderige hoofslaapkamer te slaap. Sy verkies een van die kamers wat vroeër jare vir ’n bediende gebou is en sy dring daarop aan om haar eie badwater in te tap.

Vir besoekers vertel ouma Isie graag van die spook wat in die gang dwaal. Dié storie word bevestig deur George Wilson, die redakteur van die Cape Times, wat een nag in 1936 die spook in die huis raakgeloop het. Ouma Isie lag heerlik toe hy haar daarvan vertel. “Sien,” sê sy, “julle wil my mos nie glo nie. George, as jy hom weersien, vra hom waar op die plaas hy die £30 000 begrawe het!”

Ouma Smuts het verkies om op die plaas te bly, die kinders groot te maak en stil te leef. En daaroor sou sy ook heelwat kritiek verduur. Sy was nooit teenwoordig vir Parlementsopeninge nie, het nooit saam oorsee gereis nie en wou nooit in die politiek betrokke raak nie. En tog sou sy later jare ’n enorme politieke rol speel deur haar betrokkenheid by die Suid-Afrikaanse Vrouefederasie en die Verenigde Party se vroueliga. Gedurende die Tweede Wêreldoorlog help sy aktief stemme werf vir haar man se party en stig in 1940 ’n fonds waardeur Kersgeskenke vir Suid-Afrikaanse soldate in Noord-Afrika gestuur word.

Net een ding loop skeef. Gedurende die oorlogsjare doen gerugte die rondte dat Jan ’n verhouding het met prinses Frederika van Griekeland. Ouma Isie praat nooit ’n woord daaroor nie, maar toe daar in 1943 ’n eredoktorsgraad aan haar toegeken word en Jan daarop aandring dat prinses Frederika die geleentheid bywoon, sit sy haar voet neer. “Nee,” sê sy. “Almal sal na julle kyk en agter hulle hande fluister. Dis my dag en so sal dit wees.”

Sy bring die res van haar lewe deur op Doornkloof – 40 jaar woon sy daar. In Mei 1950 word die Generaal siek en lê weke lank met ernstige longontsteking. Isie verpleeg hom sorgvuldig en geduldig en teen Augustus is hy weer sy ou self. Maar op die Maandagmiddag van 11 September 1950 kom hy uit die veld terug en kla van ’n pyn op sy bors. Na aandete gaan hy lê. Die twee dogters sit by hom op die bed toe hy meteens agteroor sak en sterf.

Ouma Isie se lewe stort in duie. Sy wat altyd in beheer was, wat dinge so maklik en eenvoudig hanteer het, wat haar eerste drie kinders begrawe het en met soveel empatie briewe van troos kon skryf vir die jong vroue wie se mans nie uit die Noorde teruggekom nie, vir haarself het sy nie raad nie.

Sy sit ineen op die rand van haar bed en lees die laaste brief, wat hy geskryf het op hulle 53ste huweliksherdenking, oor en oor. Daarin skryf hy oor hulle lewe saam: “… dit was alles die moeite werd.”

Totdat die getroue ou Zoeloebediende by haar kom kniel en sê: “Ouma, die Groot Indoena weet altyd beter. As Hy die Oubaas gelos en vir Ouma gevat het, die Oubaas sal nie klaargekom het nie. Nie sonder Ouma nie.” In die woorde van die wyse ou swart vrou vind ouma Isie die troos wat duisende briewe en foonoproepe van dwarsoor die wêreld nie kon bring nie.

Sy oorleef hom met ’n bietjie meer as drie jaar. Saans, wanneer sy gaan lê, staan ’n foto van Oubaas en die kinders voor die bed en haar draadloos hang aan die skeefgekapte spyker teen die muur. Daarop luister sy na nuusuitsendings uit Brittanje en Amerika en Duitsland en dikwels gesels sy daaroor met hom asof hy langs haar sit.

Op die oggend van 25 Februarie 1954 word sy nie wakker toe haar koffie ingebring word nie. Sy is stil in haar slaap weg.

Agter die sinkhuis begin ’n voetpaadjie tot bo-op die koppie wat uitkyk oor Irene. Daar staan ’n granietnaald met hulle name op. Oubaas en Ouma se asse is daar in die veld gestrooi.

* (Ouma Smuts het haar naam op Engels uitgespreek – “Isey”)

deur Daniël Lötter