JAC CONRADIE (1900-1987)

Ds. Jac Conradie was die voorsitter van die uitvoerende raad van die Reddingsdaadbond en lid van die bestedingskomitee van die Reddingsdaadfonds.

Jacobus de la Rey Conradie is op 1 Januarie 1900 op Klerksdorp gebore en het sy skoolopleiding op Lichtenburg ontvang. Daarna het hy hom by die Kweekskool op Stellenbosch as predikant bekwaam. Hy is in 1927 in sy eerste gemeente, Meru in die destydse Tanganjika, bevestig en het daar gebly totdat hy in 1929 ’n beroep na die Nederduits Gereformeerde gemeente Philipstown in die Noord-Kaap aanvaar het. Hy was ook nie lank aan hierdie gemeente verbonde nie, maar in 1936 het hy ’n beroep na die NG-gemeente Kaapstad (Groote Kerk) aanvaar. Hy was altesaam 31 jaar, tot met sy aftrede in 1967, aan hierdie destyds groot en belangrike gemeente verbonde. Drie van sy medeleraars was ook baie lank aan hierdie gemeente verbonde; ds. Abraham van der Merwe van 1926 tot 1966, ds. JG Janse van Vuuren in 1945 en weer van 1963 tot 1986 en ds. Willie Landman van 1958 tot 1979. Ds. Landman was die eerste direkteur van die NG Kerk se inligtingsburo.

Ds. Conradie was onder meer voorsitter van die uitvoerende raad van die Reddingsdaadbond. Hierdie organisasie is in die lewe geroep om die ekonomiese rehabilitasie van verarmde Afrikaners te bewerkstellig. Die leuse van die beweging, wat ds. JD Kestell op 8 Desember 1939 gestig het, was: “’n Volk red homself.” Die stigting van hierdie organisasie het plaasgevind omtrent ’n jaar na die Simboliese Ossewatrek, op ’n tydstip toe daar groot samehorigheid onder Afrikaners was. Leiers van die volk was bekommerd omdat omtrent 300 000 Afrikaners, ’n derde van die algehele Afrikanerbevolking, verarm was. Baie Afrikaners het weer hul voete begin vind na die verwoesting van die Anglo-Boereoorlog maar hul werk tydens die Groot Depressie van die 1930’s verloor.

Terselfdertyd is die Afrikaner se volksbesef aangewakker deur die Simboliese Ossewatrek van 1938 ter herdenking van die eeufees van die Groot Trek. Daarom het die Federasie van Afrikaanse Kultuurverenigings (FAK) onder aansporing van ds. Kestell ’n volkskongres in Bloemfontein belê. Op hierdie kongres het afgevaardigdes besluit om ’n volksorganisasie met ’n Christelik-nasionale grondslag op te rig om die spaarkrag, koopkrag en mensevermoëns van die Afrikaner te mobiliseer tot voordeel van die volk; só het die Reddingsdaadbond ontstaan.

Binne vyf jaar het die Bond vierhonderd takke en 70 000 lede, wat elk lidmaatskapsgeld van ses pennies bygedra het, gehad. Hiervan is ’n derde vir administrasie gebruik, ’n derde vir die afbetaling van ’n lewenspolis of spaarplan en ’n derde vir kommissie vir die persone wat die geld ingesamel het. Die bond het gehelp om honderde Afrikaanse ondernemings op die been te bring, onder meer Federale Volksbeleggings en die Afrikaanse Handelsinstituut. Hierdie organisasies het vir Afrikaners werksgeleenthede veral in die stede geskep. Die Reddingsdaadbond het in 1957 ontbind.

Ds. Conradie, wat ook ’n tyd lank voorsitter van die FAK was, is op 17 Maart 1987 in die ouderdom van 87 jaar oorlede.

Daantjie Badenhorst