JACOB BORGHORST (BORCHORST) – KOMMANDEUR VAN 1668-1670

Weinig persoonlike inligting oor Jacob Borghorst is bekend. Hy het waarskynlik ook sonder vrou of enige familie in die Kaap gebly. Wat sy werksloopbaan betref, is bekend dat hy in 1643 as assistent begin werk het vir die VOC in Indië en in 1646 bevorder is tot onderkoopman. In Colombo was hy later administrateur. Van die briewe wat in 1655 na Jan van Riebeeck gestuur is in die Kaap is deur hom nagesien en onderteken.

Sy aanstelling as kommandeur aan die Kaap het gekom nadat hy reeds afgetree het, die VOC se diens verlaat het en einde 1664 op pad terug was na Nederland saam met ’n handelsvloot. Die vloot het in die Kaap vertoef tussen 11 Maart en 22 April 1665 om vars voorraad in te neem. In hierdie tyd het die Tweede Anglo-Nederlandse oorlog uitgebreek. Aangesien die vloot waardevolle handelsvoorraad gedra het, het die skepe in die neutrale hawe Bergen in Noorweë gaan skuil. Die Engelse oorlogsvloot het egter die neutraliteit geskend deur hierdie vloot in Bergen vas te keer.

Die Engelse vloot is verslaan in die Slag van Bergen maar met die verdere terugvaart daarna is die Phoenix, die skip waarop Borghorst was, deur die Engelse vloot onderskep. Borghorst verloor agt sakkies edelgesteentes wat hy om sy nek gedra het, sy persoonlike fortuin wat hy in sy jare as VOC-amptenaar opgebou het. Hy wou dit in Europa verkoop. Hierdie verlies was waarskynlik die rede waarom hy weer in diens van die VOC moes tree en later in 1667 aangewys is as kommandeur vir die Kaap.

Hy het op 16 Junie 1668 in die Kaap aangekom om as vierde kommandeur oor te neem by Cornelis van Quaelberg. Vertragings met die afsluiting en balansering van boeke en voorraadopnames wat die oordrag van sleutels van hekke en die VOC-store voorafgegaan het, het veroorsaak dat hy eers op 2 Augustus amptelik oorgeneem het. Borghorst was egter sieklik. Baie van sy take moes deur ander amptenare hanteer word. Hy het dus ook reeds vroeg in sy termyn aansoek gedoen om ontslag uit sy amp.

Sy opvolger het in Maart 1670 in die Kaap aangekom, ’n formele afskeidsdinee is op 17 April 1670 vir hom gehou en hy het die volgende dag aan boord van die Beemster vertrek terug na Nederland.

In sy tyd as kommandeur is ontdekkingstogte na die binneland onderneem en die kus is verken. By Saldanha is ’n klein nedersetting begin. Hy het ’n pyplyn aangelê vanaf die reservoir, wat Zacharias Wagenaer aangelê het, na die hawe. Borghorst het ’n veeboerdery bedryf en het graanboerdery aangemoedig.

Elizma Smith