JACOBUS VAN REENEN (1727-1793)
LEIER VAN ’N VRYHEIDSBEWEGING
Jacobus van Reenen, gebore omstreeks 1727 uit ’n respektabele familie, en ’n vooruitstrewende boer, toenmaals woonagtig te Rondebosch, dog die besitter of huurder van plase tot diep in die binneland, is miskien vandag geen algemeen bekende figuur by ons volk nie. Tog is sy naam vir ewig verbonde aan een van die belangrikste bewegings in ons geskiedenis – ’n beweging waaruit later die Groot Trek en die daaropvolgende stryd van die Afrikaner teen buitelandse oorheersing gebore is – die sogenoemde Patriottebeweging wat in die sewentigerjare van die 18de eeu in Suid-Afrika ontstaan het.
Van Reenen was, sover ons weet, nie die aanstigter van die beweging in ons land nie. As vermoënde man en een van die leidende figure onder die burgery – hy was naamlik eenmaal burgerraad, luitenant van die burgerkavellerie en gekontrakteerde slagter – het hy egter spoedig die rol van een van die leiers in die beweging vervul en ’n aansienlike aandeel daaraan geneem.
Die beweging, wat saamgehang het met die vryheidsbeweging in Amerika, die Patriottebeweging in Nederland en die demokratiese beweging in Frankryk, het in Suid-Afrika die vorm aangeneem van ’n verset teen die oorheersing van die Nederlands-Oos-Indiese Kompanjie en ’n agitasie vir demokratiese selfregering. Die Afrikaanse burgers het nasionaalbewus geword en die regte van ’n selfstandige staat begin opeis: die reg om vry te wees, en bestuur te word deur verteenwoordigers wat deur die volk gekies is.
Met die oog hierop is gedurende 1778 verskeie geheime vergaderings onder die burgers gehou, en het hulle eindelik in 1779 besluit om ’n deputasie na Nederland te stuur om daar, namens die burgery, die saak van die Afrikaanse volksplanting by die Here Sewentien te bepleit. Daartoe is ’n viertal “ Representanten van den geheelen Burgerstaat aan Cabo de Goede Hoop” in die geheim deur die algemene volkstem gekies, t.w. Jacobus van Reenen, Barend Jacob Artoys, Tieleman Roos en Nicolaas Godfried Heyns.
Hierdie persone het die eerste vryverkose volksverteenwoordiging in Suid-Afrika uitgemaak, en die lede daarvan beklee dus ’n besondere plek in die wordingsgeskiedenis van die Suid-Afrikaanse nasie. Van Reenen en sy mede-afgevaardigdes het geen steen onaangeroer laat bly om die belange wat aan hulle opgedra is te behartig nie. Met veel moeite en selfopoffering het hulle die reis Nederland-toe aanvaar, en daar alles wat moontlik te doen was gedoen om die “ Jok der Slavernye” – soos hulle dit betitel het – van die skouers van die Suid-Afrikaanse bevolking verwyderd te kry.
Hulle het hulle op eervolle wyse van hulle taak gekwyt, dog hulle pogings is nie met sukses bekroon nie, en die ontevredenheid onder die koloniste het voortgeduur. Tog, al kon hulle nie daarop roem dat hulle die Afrikaner bevry het van die dwingelandy nie, het hulle die bal aan die rol gesit en die baanbrekerswerk gedoen waarop latere geslagte kon voortbou om onafhanklike republieke in die binneland te stig.
Hulle was moedige manne wat volgens die leuse van die Kaapse patriotte geleef het “nie vir sigself nie maar vir die vaderland” en daarna gestrewe het “om op die Suid-Afrikaanse bodem verwesenlik te kry ’n tempel van Reg, Vryheid, Deug en Eer.”
Nie vir sigself nie, maar vir die Vaderland.
Bron: Aucamp, G. (red.). 1947. Suid-Afrikaanse Heldegalery. Kaapstad: M. Rieck.
Foto: Denkbeeldige tekening