JAN DE LA FONTAINE – WAARNEMENDE GOEWERNEUR VAN 1724-1727 EN 1729-1729; GOEWERNEUR VAN 1730-1737
Jan de la Fontaine het in 1710 as hoof van die VOC se kruitmagasyne na die Kaap gekom. In 1721 word hy aangestel as sekundus (tweede in bevel) in die Kaap. Twee keer neem hy waar as goewerneur voor hy self as goewerneur aangestel word. Die eerste keer in 1724 met die afsterwe van Maurits Pasques de Chavonnes en weer met die dood van goewerneur Pieter Gysbert Noordt in 1729. De la Fontaine was goewerneur van 1730 tot 1737.
De la Fontaine is waarskynlik in 1684 gebore aangesien hy op 23 April 1684 in Amsterdam gedoop is. In die Kaap is hy in 1711 met Maria Elisabeth de Man getroud. Hulle het ’n seun en ’n dogter gehad.
In sy termyn as goewerneur het hy gepoog om die Kaapse nedersetting verder na die binneland uit te brei. Teen 1732 het die trekboere reeds langs die Olifantsrivier gevestig. Hy onderneem in 1734 ’n inspeksietog tot by Mosselbaai en verklaar dit as ’n VOC-baai. Verder proklameer hy Groot Brakrivier as die oostelike grens van die Kaap en vestig nuwe buiteposte by Riviersonderend, Rietvlei en St. Helenabaai.
Reeds in 1727 het hy aansoek gedoen om ontslag uit die VOC. Op daardie stadium is dit nie toegestaan nie. In 1736 vra hy weer vir ontslag onder andere omdat hy goeie opvoeding vir sy kinders wou verseker. Sy aansoek is toegestaan en het hy sy verantwoordelikhede as goewerneur aan sy opvolger oorgedra.
Hy keer met sy familie terug na Nederland waar hy ’n plaasopstal met die naam Westerhout, by Wijk aan Zee gekoop het en daar gebly het tot sy afsterwe op 6 Mei 1743.
Elizma Smith
