JAN F. CELLIERS (1839-1895)
Jan F. Celliers was ’n Suid-Afrikaanse joernalis, koerantredakteur en politikus.
Jan Francois Celliers is op 5 Maart 1839 in Wellington in die Wes-Kaap gebore en het aan Paarl Gimnasium gematrikuleer. In 1863, op 24-jarige leeftyd, het hy hom by die Kaapse koerant Het Volksblad, onder redaksie van B.J. van der Sandt de Villiers aangesluit. Op versoek van pres. T.F. Burgers van die Zuid-Afrikaansche Republiek (ZAR) het hy op 8 Augustus 1873 die regeringsgesinde koerant De Volkstem in Pretoria uitgegee; dit was waar sy bynaam van Jan Volkstem vandaan gekom het. Dit moes dien as teenvoeter vir die Engelstalige koerante wat die ZAR-regering vyandig gesind was.
Nadat Transvaal in 1877 geannekseer is, het Celliers ’n advertensie van boere in Wakkerstroom geplaas waarin hulle gesê het dat hulle sou weier om belasting aan die Britse owerheid te betaal. Vir hierdie “oortreding” en as gevolg van die openlike steun wat Celliers in die blad aan die Transvaalse burgers uitgespreek het, het die Britse owerheid hom in 1880 ’n maand lank in die gevangenis aangehou en hy is ’n boete opgelê. Onder leiding van genl. Piet Joubert is geld ingesamel om Celliers toe te laat om met sy blad voort te gaan nadat hy vrygelaat is.
Op 17 Oktober 1881, kort na die Eerste Vryheidsoorlog, het hy Volksraadslid en sekretaris van die Afrikanerbond geword. Dieselfde jaar het hy sy drukkery aan die regering verkoop; dit het die grondslag van die Staatsdrukkery gelê. In 1888 het hy die tuig as redakteur van De Volkstem neergelê, met dr. Frans Engelenburg wat hom opgevolg het. Hy het hom vir die res van sy lewe aan die politiek gewy.
Hy is op 4 Maart 1895, die dag voordat hy 56 jaar oud sou word, oorlede. Die digter Jan F.E. Celliers was sy seun.
Daantjie Badenhorst