JAPIE GREYLING-MONUMENT, DALESIDE

Langs die Sybrand van Niekerk-hoofweg, ongeveer halfpad tussen Alberton en Vereeniging by Daleside, lê die Laerskool Japie Greyling met ’n eie heldeakker.

Op die skoolterrein is daar ’n monumentkompleks wat kinderhelde in Suid-Afrika gedenk. Veral drie gebeurtenisse in die Afrikanergeskiedenis word uitgebeeld: kinderhelde van die Groot Trek: Japie Greyling; Japie Greyling en onbekende kinderhelde van die Anglo-Boereoorlog en die busramp by Daleside, wat deur die onvergeetlike heldedade van wyle Johan le Roux gekenmerk is.

Die toenmalige direkteur van Onderwys in Transvaal, meneer AJ Koen, het die Japie Greyling-monumentkompleks op 23 November 1966 onthul. Dit beeld verskillende fasette uit die lewe van hierdie kinderhelde uit. Meneer Willie Kamffer, ’n konsentrasiekampkind, het die kindergedenkplaat onthul wat die kinders herdenk wat gedurende die Groot Trek en in die konsentrasiekampe die lewe gelaat het. Op hierdie gedenkplaat is die volgende woorde aangebring:

Gedenk die Kinderoffers op die Trekpad in die Worstelstryd om Vryheid 1838, 1899–1902.

Die groot gravure beeld die klein en onverskrokke Japie Greyling voor die Britse vuurpeloton uit. Die aanvoerder, kaptein Seeley, probeer Japie dwing om te sê waar sy vader en die Boeremagte is. Fier, regop weier die jong seun om verraad te pleeg. Die gravure is deur ’n seun van wyle Japie Greyling – ook Japie Greyling – onthul. Die hoofdogter van die skool, Petronella Lottering, het die tablet onthul waarop die refreingedeelte van die skoollied voorkom, naamlik In Woord en daad getrou sal ons offer, sal ons bou.

Vier tablette is op ’n granietkubus aangebring. Die vier tablette sluit in: die tablet wat die geboorte van ons taal weergee – Ons Moedertaal, 14 Augustus 1875; die Bybeltablet verteenwoordig die aankoms van die eerste Afrikaanse Bybel in 1933; die tablet oor Republiekwording op 31 Mei 1961; die gedenktablet wat bokant die Ons Republiek aangebring is, wat die heengaan van doktor HF Verwoerd gedenk. Op laasgenoemde tablet staan die volgende: Uit sy hande het ons die gawe ontvang. Dr. H.F. Verwoerd, 31.5.1966.

Twee leerlinge het die pilare met elk ’n tablet daarop onthul. Op hierdie twee tablette staan die woorde: Ons sal antwoord op jou roepstem, ons sal offer wat jy vra.

In sy toespraak het meneer Koen daarna verwys dat in die wordingsgeskiedenis van ons volk die Afrikanerseun- en dogter ’n belangrike rol gespeel het, en dat hulle heldedade ’n deel van ons geskiedenis vorm waarop ons met reg trots kan wees. Hy het die leerlinge en ouers teenwoordig geboei met beskrywings van ontberings van kinders van daardie tye.

Die simboliek van die monumentkompleks verteenwoordig:

  • Die beklemtoning van die belangrikheid van die kind in ons volkslewe as volksbate.
  • Die beklemtoning van die behoudende elemente in ons volksfeeste, te wete vryheid, taal en godsdiens.
  • Die bewaring en vertroeteling van die volkseie.

Die materiaal vir die monument bestaan uit boustene, graniet en leisteen vir die tablette. Verder is daar graniet gebruik vir die suil bo die kubus wat van kalksteen gebou is. Daar is lang leisteenvlakke vir afronding van die monumentmure. Die mure is in die vorm van ’n trapesium gebou met ’n besondere traliewerk aan die voorkant. Die grafsteenmaker op Vereeniging het die granietstene geskenk en die gravering op al die stene gratis gedoen en ook die gravure van Japie Greyling. Die traliewerk is deur ’n ouer gemaak en geskenk. Die monument is deur meneer P van Zijl, toentertyd hoof van die Laerskool Japie Greyling, ontwerp. Meneer Van Zijl was die krag agter hierdie projek wat deur sy toewyding en geesdrif sonder enige skuld opgerig kon word.

Die besielende geesdrif van die skoolhoof het deurgewerk na die ouers wat die meeste werk self gedoen het. Daar moes slegs geld vir die suil en die kubus ingesamel word, maar toe skenk ene meneer Van Staden, van Mazista, nie alleen die granietsteen nie, maar ook die tablet vir die Volkslied. Toe die Verwoerd-tablet aangebring moes word, is geld tydens ’n fees by die monument ingevorder (’n hoed is rondgestuur). Die bedrag wat ingevorder is, was R37,75 en toe die rekening vir die tablet ontvang is, was die bedrag R37,75!

Na die busramp (botsing tussen trein en skoolbus) by Daleside is daar besluit om langs die Japie Greyling-monument ’n gedenkteken ter ere aan die kinders wat in die ongeluk by die spoorwegoorgang gesterf het, op te rig. Die held by die ongelukkige gebeurtenis was ’n matriekseun, Johan le Roux, wat verskeie jong kinders gered het en self die hoogste offer betaal het. Nadoods is twee toekennings vir dapperheid aan hom gedoen. Die Staat se Wolraad Woltemade-toekenning vir dapperheid sowel as die Woltemade-toekenning van die SANL is postuum aan Johan gedoen. Afbeeldings – aansienlik vergroot – is in tabletvorm op die monument aangebring. Hierdie monumentkompleks is op 10 Oktober 1970 deur twee Voortrekkers van die Hoërskool dr. Malan, Josef van Dyk en Margaretha Human, onthul.

Bron: Geyser, O. 1989. Japie Greylingmonument. In Afrikanerbakens, Aucklandpark: FAK, pp. 132–133.