JH PIERNEEF (1886-1957)
JH Pierneef was ’n bekende Suid-Afrikaanse landskapskunstenaar wat beskou word as een van die beste ou Suid-Afrikaanse meesters.
Jacob Hendrik Pierneef is op 13 Augustus 1886 in Pretoria gebore. Sy pa, Gerrit Pierneef, was ’n meesterbouer van Nederlandse herkoms en sy ma, Neeske Christinane Buser, was van Voortrekker-afkoms. Hulle was lidmate van die Gereformeerde Kerk Pretoria. Gerrit Pierneef was saam met H Dijksterhuis in 1884-85 verantwoordelik vir die aanbou van die vorige kerkgebou van twee kruisarms in ’n oos-wes-rigting waardeur die kerk vergroot is tot ongeveer 500 sitplekke. Tydens die Anglo-Boereoorlog het Gerrit Pierneef ’n hulppolisiemag in Pretoria opgestel, maar toe Lord Roberts die stad beset het, moes hy kies tussen gevangenskap of deportasie. Die gesin het in April 1901 na Nederland verhuis maar in 1902 na Suid-Afrika teruggekeer.
Hy is in 1910 teen sy ouers se wense met Agatha Delen, wat twaalf jaar ouer as hy was, getroud. Sy het gely aan ’n geestesversteuring wat binne die volgende tien jaar vererger het en sy het later haar sig begin verloor. Haar toenemende afhanklikheid van hom het gemaak dat hy die land deurgetoer het om lesings te gee en uitstallings te hou. Hy is in 1923 van haar geskei. Tydens ’n werk vir ene Johan Schoeman as deel van ’n reklameprojek om grond rondom Hartbeespoortdam te verkoop, het hy in die Agnes-hotel tuisgegaan en sy toekomstige tweede vrou, Marian Francis (May) Schoop, ontmoet. Hy is in 1924 getroud en hul enigste kind, Marita Jennifer, wat later met ’n Chileense diplomaat getroud was, is in April 1927 gebore.
Pierneef het sy eerste kunsklasse saam met toekomstige kunstenaars Cordon Leith en Fanie Eloff by die hoër Staatsmodelschool in Pretoria bygewoon. Daar het sy onderwyser, JF Hondius , sy voorliefde vir die platteland aangemoedig, terwyl ’n ander onderwyser, dr. HG Breyer, sy leerlinge die veld ingeneem het om hulle van natuurwetenskappe te leer. Met sy gesin se terugkeer na Nederland het hy oorspronklik deeltyds in ’n verffabriek in Hilversum gewerk en snags tekenlesse by ’n ou argitek ontvang. In die fabriek het hy geleer hoe om verskillende soorte verf te meng en aan te wend. Die gesin het tien maande later na Rotterdam verhuis omdat Pierneef en sy suster mediese sorg nodig gehad het. Hoewel sy ouers wou gehad het dat hy ’n predikant moes word, het hy besluit om eerder aan die Rotterdamse Kunsakademie te studeer. Daar het hy kennis gemaak met die werke van die ou meesters, wat ’n blywende indruk op hom gemaak het. Verder het hy met gipsmodelle geëksperimenteer en letterskilderwerk aangeleer.
Op agttienjarige ouderdom het hy saam met sy ouers na Pretoria teruggekeer en was vasbeslote om in die argitektuur te studeer, maar sy gesin se finansiële ontberings het hom genoodsaak om ’n werk by ’n tabakwinkel waar sy pa ’n vennoot was, aan te neem. Nogtans het hy volgehou om kunstegnieke te studeer en gevestigde kunstenaars van wie hy aanmoediging sou ontvang, ontmoet. Onder hierdie kunstenaars was sy peet-oom Anton van Wouw, asook Hugo Naudé, Frans Oerder en die Ierse kunstenaar George Smithard. Hy het tussen 1905 en 1908 onderrig by Oerder in skilderwerk ontvang en na 1908 by Smithard onderrig ontvang in grafiese mediums soos etsing en linosnee. Smithard het hom aangemoedig om sy eie styl te ontwikkel eerder as om Europese kunstenaars na te boots. Sy eerste openbare uitstalling was in 1902 saam met Van Wouw en Naudé; Van Wouw het bronsbeelde uitgestal en Naudé en Pierneef skilderye. Die uitstalling is deur ’n aantal bekende persoonlikhede besoek en sy werk is goed ontvang. Na ’n onderonsie tussen sy pa en dié se vennoot het Pierneef ’n werk as assistent by die Staatsbiblioteek aangeneem; hy het nagskofte gewerk en bedags in sy studio geverf. In 1910 het hy sy eerste olieverfskildery, ’n Blik op Meintjeskop, aan die kunshandelaar Emil Schweikerdt verkoop teen ’n prys van R 6,30 en die volgende jaar het hy hom by ’n groep Pretoriase kunstenaars bekend as Die Individualiste, aangesluit en saam het hulle aan ’n groepuitstalling deelgeneem. Hy het twee etse uitgestal en albei daarvan is verkoop. Hy het sy eerste solo-uitstalling in 1913 gehou. Die kritici het hom geprys en hom selfs as ‘n genie beskou. Sy tweede solo-uitstalling die volgende jaar is ook goed ontvang. Hy het in hierdie tyd ook ’n paar stofomslae en illustrasies vir boeke en tydskrifte gemaak, onder meer vir Die Brandwag in 1917 en vir The Independent in 1919.
In 1918 het Pierneef sy werk by die Staatsbiblioteek laat vaar en ’n loopbaan as kunsdosent by die Heidelbergse Kollege (in Suid-Afrika) begin. In die daaropvolgende jare het hy ook begin om tekenklasse by die Pretoria Kollege te gee. Hierdie posisies het hom in staat gestel om op sy kuns te fokus en in 1920 en 1921 het hy aan baie solo- en groepuitstallings deelgeneem. Een daarvan was ’n belangrike uitstalling in Pretoria waar hy meer as 300 werke in verskeie mediums uitgestal het. Hy het in hierdie tyd begin om hoë aansien as kunstenaar te geniet.
In 1923 het hy as kunsdosent bedank as gevolg van meningsverskille met die Departement van Onderrig oor die skoolkurrikulum. Dit was op die Engelse stelsel gebaseer maar hy het gevoel dat Suid-Afrikaanse kunstenaars hul eie styl moes hê en hul eie stel reëls moes volg. Hy het hierdie idee tydens ’n lesing in Bloemfontein benadruk en die belang van ’n individuele en eg Suid-Afrikaanse kunsstyl beklemtoon. Hy het na die Boesmans se kuns verwys en gemeen dat dit besonder met die Suid-Afrikaanse omgewing rym. Hy het nie ’n ander onderrigposisie aangeneem nie en eerder voltyds geverf. Benewens skilderye het hy pastelwerke, tekeninge, linosneë en etse geskep. Hy het aangehou om illustrasies vir Afrikaanse tydskrifte te skep en selfs gedigte begin skryf. Hy het Suidwes-Afrika (deesdae Namibië) van 1923 tot 1924 besoek; daar het hy talle sketse gemaak wat hy later as skilderye in sy studio voltooi het. Hierdie skilderye word dikwels onder sy beste werk gereken. In Namibië het hy bevriend geraak met die diereskilder Hans Anton Aschenborn.
Hoewel die kritici sy werk goed ontvang het, was hy nie finansieel suksesvol nie en hy is genoodsaak om na ander werk te soek om sy inkomste aan te vul. Hy en sy vrou het Europa van 1925 tot 1926 besoek. Hy het hierdie tyd gebruik om sy kuns te bevorder en die nuutste kunsbewegings te bestudeer. Binne die eerste week het hy ’n paar linosneë aan die Victoria and Albert museum verkoop. Hy het ook ’n solo-uitstalling in Nederland gehou en veral sy Boesmantekeninge het baie aandag getrek. Hier het hy ook met impressionistiese kuns kennis gemaak. Hy het Parys, Berlyn, Antwerpen en Düsseldorf besoek, waar hy met moderne kuns kennis gemaak het. Hulle het in 1926 met ’n Nederlandse vragskip terug na Suid-Afrika, deur die Middellandse See en die Rooi See, suid langs die ooskus van Afrika. Hierdie reis het hom die geleentheid gebied om hawetonele te teken en te skilder en te eksperimenteer met die impressionistiese styl wat hy in Europa raakgeloop het. Baie van hierdie werke is vandag in die kunsmuseum in Johannesburg te sien. In 1927 het Pierneef ’n baie suksesvolle uitstalling van 86 van sy werke in Pretoria gehou en tydens ’n solo-uitstalling die volgende jaar het hy ’n aantal van sy meer abstrakte en moderne werke uitgestal. Hoewel sy werk as impressionisties beskou kon word, het hy nie regtig op indrukke en optiese verskynsels gekonsentreer nie, maar eerder die Suid-Afrikaanse landskap in ’n logies geordende en geometriese komposisie geabstraheer. Veral die Nederlandse kunstenaar Willem van Konijnenburg het hom vir hierdie geometriese komposisies beïnvloed. Pierneef se werk was ook nooit werklik abstrak nie, maar hy het meer op die dekoratiewe moontlikhede van geometriese vorme gekonsentreer. Hierdie nuwe werk, wat as “futuristies” beskou is, het sulke slegte resensies ontvang, onder meer van Anton van Wouw af, dat hy eerder na sy oorspronklike styl teruggekeer het.
Pierneef se kleurpalet het hoofsaaklik uit sonverbleikte pastelkleure soos sagte bloue, okers en pienk bestaan hoewel hy soms ook helder kleure soos blou, pers en oranje gebruik het. Hy het landskappe van verskillende dele van Suid-Afrika geskilder maar hy was meer vertroud met die Transvaalse Bosveld. Die skilderye wat in hierdie deel van die land uitgevoer is, word as van sy beste werk beskou.
In 1929 het Pierneef opdrag gekry om 32 panele vir die binnekant van die nuwe Johannesburgse stasie te skep. Hy het hierdie taak, wat natuurtonele en geskiedkundige Suid-Afrikaanse plekke uitgebeeld het, in 1932 voltooi. Die panele, wat dikwels as van sy beste werk beskou word, kan vandag nog in Graaff-Reinet besigtig word. Hy het ook in 1933 opdrag ontvang om sewe muurskilderye vir Suid-Afrika-huis, die Suid-Afrikaanse ambassade in Londen, te skep. Hy het hierdie opdrag in 1934 voltooi en die werke het Suid-Afrikaanse natuurtonele uitgebeeld.
In 1939 het Pierneef ’n plaas oos van Pretoria gekoop wat as sy woning en ateljee gedien het. Hier het hy sy laaste jare deurgebring. Hy het self die huis uit klip en dekstrooi in die vorm van ’n kraal gebou. Die naam van die plaas was Elangeni, met die betekenis “waar die sonskyn by die hek is.” Sy laaste werk, wat hy in 1955 voltooi het, was die wapen van die Laerskool Pierneef wat sy naam dra. Hierdie wapen beeld ’n kameeldoringboom uit. In 1951 het Emil Schweickerdt, wat Pierneef se eerste olieverfskildery gekoop het en toe aan die hoof van E. Schweikerdt (Edms) Bpk gestaan het, ’n aantal van sy werke in boeke en tydskrifte gereproduseer.
Pierneef is op 4 Oktober 1957 in die ouderdom van 71 jaar oorlede.
Daantjie Badenhorst