JLB Smith (1897-1968)

Prof. JLB Smith was ’n Suid-Afrikaanse igtoloog, organiese sielkundige en professor.

James Leonard Brierly Smith is op 26 September 1897 op Graaff-Reinet gebore. Hy het op Noupoort, De Aar en Aliwal-Noord skoolgegaan voordat hy in 1914 aan die Diocesan College in Rondebosch gematrikuleer het. Hy het ’n BA-graad in chemie aan die Universiteit van die Kaap van Goeie Hoop in 1916 verwerf, gevolg deur ’n meestersgraad in chemie aan die Universiteit van Stellenbosch twee jaar later. Daarna het Smith sy studie aan die University of Cambridge voortgesit en in 1922 sy PhD verwerf. Nadat hy laasgenoemde graad verwerf het, het hy eers ’n senior lektor en later ’n medeprofessor aan die Rhodes-universiteit in Grahamstad geword. Sy belangstelling in viskunde het as kind tydens ’n vakansie in Knysna ontstaan.

Hy was van 1922 tot 1937 getroud met Henrietta Cecile Pienaar, ’n afstammeling van Andrew Murray. Haar pa, ds. PJ Pienaar, was ’n predikant van die NG-gemeente op Somerset-Wes. Drie kinders is uit die huwelik gebore. In Grahamstad het hy kennis gemaak met Margaret Mary MacDonald, wat op 26 September 1916 op Indwe in die Oos-Kaap gebore is. Sy het aan Rhodes gestudeer, waar sy haar Baccalaureus-graad in wetenskap met fisika en chemie as hoofvakke verwerf het. Sy was van plan om in die geneeskunde te studeer, maar in 1938 is sy met Smith getroud en sy het sy assistent in die Departement van Igtologie aan Rhodes geword.

In 1938 het Margaret Courtney-Latimer, die kurator van die Oos-Londense museum, hom vertel dat ’n ongewone en ongeïdentifiseerde vis ontdek is. Hy het die vis as die selakant geïdentifiseer. Dit is ’n vis wat in die Indiese Oseaan voorkom en as ’n lewende fossiel voorkom. Die vis is 65 miljoen jare lank as uitgesterf beskou. Die eerste fossiel daarvan is in 1882 in Engeland gevind, terwyl ander later in Noord- en Suid-Amerika en in Europa ontdek is. Latimer het ’n ooreenkoms met die plaaslike vissers gehad dat, as hulle enige vreemde visse sou vang, hulle dit onder haar aandag sou bring. Op 22 Desember 1938 het Hendrik Goosen, kaptein van die vissersboot Nerine, haar laat weet van ’n ongewone vis en sy het hierdie vis, wat 1,5 meter lank was, bewaar sodat prof. Smith dit kon ondersoek. Hy het die vis as ’n selakant geïdentifiseer en dit as Latimeria chalumnae geklassifiseer. Die kop en liggaam van die selakant is donker, amper metaalagtig blou en die liggaam is oortrek met onreëlmatige wit of ligblou spikkels. Die vis word sowat 1,8 meter lank en weeg 98 kg. Die klein kieue dui daarop dat sy suurstofverbruik laag is.

Die selakant is eier-lewendbarend (ovi-vivipaar); die eiers word in die wyfie bevrug en die kleintjies word gebore nadat die wyfie uitgebroei en sowat 36-38 meter lank geword het. Die eiers is sowat 9 cm in deursnee en weeg 325 g elk. Dit is die grootste eier van enige vis. Omdat die selakant as ’n kritiek bedreigde spesie beskou word, is dit onwettig om dit te vang of handel daarmee te dryf.

Prof. en mev. Smith het gesamentlik aan die gewilde publikasie Sea Fishes of Southern Africa, wat vir die eerste keer in 1949 vrygestel is, gewerk. Hy het tot 1968 aan verdere publikasies gewerk en meer as 370 nuwe visspesies name gegee.

Volgens dié wat hom geken het, het hy geen begeerte gehad om ouer as sewentig jaar te word nie, en op 7 Januarie 1968 het hy, na ’n lang siekbed, sy eie lewe beëindig deur sianied te neem. In dieselfde jaar het die Rhodes-universiteit die JLB Smith-Instituut vir Igtologie ter nagedagtenis aan hom gestig en sy weduwee is as eerste direkteur aangestel. Sy het ’n veldtog geloods om ander igtoloë na die instituut te lok en om ander igtoloë uit Afrika op te lei. In 1977 is die groot gebou met drie verdiepings wat in Somersetstraat in Grahamstad ontwerp en opgerig is om die instituut te huisves, in gebruik geneem. Die bekende wiskunde- en wetenskaponderwyser William Smith, wat gereeld op televisie verskyn en saam met Jeremy Mansfield in die televisievasvraprogram A word or 2 te sien was, is prof. Smith se seun.

Daantjie Badenhorst