JOHAN BAX VAN HERENTHALS – GOEWERNEUR VAN 1676-1678

Johan Bax is op 14 Maart 1637 gebore in ’s-Hertogenbosch, Noord-Brabant in Nederland. Sy oupa Joan Bax was die goewerneur van Heusden en Muiden in Nederland en sy pa ’n kaptein in die Nederlandse staatsweermag.

Johan het rondom 1656 vir die Nederlandse Oos-Indiese Kompanjie begin werk. Hy het diens gedoen in Colombo en Galle, ’n dorpie aan die suidweskus van Ceylon. In 1669 is hy getroud met Aletta Hinloopen, die dogter van die handelsmagnaat, regter en raadslid Jacob Fransz Hinloopen in Batavia. Hierdie huwelik het aan hom verhoogde status gegee en gevolglik het hy “van Herenthals” by sy eie naam bygevoeg. Daardeur is ook sy vader Maurits vereer wat oorspronklik van Herenthals in Vlaandere afkomstig was waar die familie ’n gerespekteerde sosiale stand beklee het.

Johan Bax van Herenthals se termyn as kommandeur aan die Kaap het begin op 14 Maart 1676. Hy was hardwerkend en het groot agting geniet. Onder sy leiding is veeteelt op ’n groter skaal as te vore bedryf, skeepsreise is aan die Oos-Weskus onderneem en invoerregte is ingestel. Hy word ook daarmee gekrediteer dat landbou in sy termyn ontwikkel het en vir sy bydrae tot die ontwikkeling van botanie en entobiologie.

In sy tyd aan die Kaap is die kasteel feitlik klaar gebou. Saam met sy gesin het hy self mandjies grond aangedra om die kasteel se grag vinnig te voltooi en het daarop aangedring dat alle inwoners meehelp.

Hy is in die tuig oorlede op 29 Junie 1678 na ’n kort siekbed in die jong ouderdom van 41 jaar en in Kaapstad begrawe.

Elizma Smith