JOHAN CORNELIS D’ABLEING (OOK D’ABLAING) – WAARNEMENDE GOEWERNEUR VAN 1707-1708

D’Ableing is gebore op 20 November 1663 in Haarlem in Nederland. In 1692 was hy junior koopman en kassier in diens van die VOC. In 1694 is hy bevorder tot koopman en in 1696 tot superintendent van Palembang, in die provinsie Suid Sumatra in Indonesië. Hy was twee keer getroud, eers met Louise Soury en na haar dood met Adriana Wilhelmina Burlamacchi.

Sy VOC-loopbaan neem ’n slegte wending toe hy op 25 Oktober 1698 gedagvaar word na Batavia vir ondervraging oor tekortkominge in sy administrasie en beweerde privaat handel. Hy word in 1700 sonder salaris met sy gesin gerepatrieer, maar word weer in 1706 deur die VOC as senior koopman in diens geneem.

In hierdie tyd is die VOC besig met klagtes van ongeruimdhede deur die goewerneur aan die Kaap, Willem Adriaan van der Stel wat tot sy ontslag lei in April 1707. Die VOC stel D’Albeing word aan om waar te neem as goewerneur in die Kaap en hy arriveer in die Kaap aan boord van die Barnevelt op 6 Mei 1707.

Die kort tydperk van enkele maande wat Johan Cornelis d’Albeing aan die Kaap waargeneem het, het gestrek van 3 Junie 1707 tot 1 Februarie 1708. In hierdie tyd neem die Kaapse Raad van Beleid ’n besluit om ’n predikant in die Kaap, ene EF Le Bourgh, weens politieke inmenging te ontslaan. Vanaf 1 Februarie word D’Ableing die sekundus van die volgende goewerneur.

D’Ableing bedank as sekundus op 4 Julie 1710 en vertrek na Batavia waar hy sy loopbaan voortsit. Hy is oorlede in Batavia op 21 Mei 1721 in die ouderdom van 57 jaar.

Elizma Smith