JOHANNES FAGAN (1898-1920)
Johannes Fagan was ’n Suid-Afrikaanse komponis van veral orkesmusiek.
Hy is op 28 Februarie 1898 op Tulbagh in die Wes-Kaap gebore. Hy het sy skoolopleiding in Somerset-Wes voltooi en in 1914 aan die SA College of Music in Kaapstad gestudeer. In 1916 het hy ’n driejarige beurs verwerf om aan die Royal College of Music in Londen te studeer. Swak gesondheid het gemaak dat hy na Suid-Afrika teruggekeer het, en in 1919 het sy Prelude vir Orkes sy première gehad deur die Kaapstadse Munisipale Orkes onder leiding van Theo Wendt. Dit was ’n groot prestasie vir iemand wat 21 jaar oud was. Hy was trouens die eerste Afrikaanse komponis wat hom op die gebied van orkesmusiek onderskei het.
Hy het na Londen teruggekeer, maar sy gesondheid het agteruitgegaan en ná die dood van sy jong verloofde aan griep het hy op 13 Julie 1920 sy eie lewe geneem toe hy net 22 jaar oud was. Volgens sy doodsertifikaat is hy dood in sy bed aangetref nadat hy vermoedelik sianied gedrink het. Afgesien van sy inskrywingsvorm by die Royal College of Music (RCM) in Londen is die doodsberig wat in die RCM Magazine verskyn het, die enigste plek waar sy naam in die dokumente en publikasies van die RCM aangetref kan word.
Sy jonger broer Gideon was ’n komponis in eie reg en het sy komposisies “Soos die windjie wat suis” en “Die soekende moeder” in 1931 gepubliseer. Albei hierdie komposisies was belangrike bydraes tot die Suid-Afrikaanse kunslied.
Daantjie Badenhorst
