JOHANNES HERMANUS MICHIEL KOCK (1836-1899)
HELP KERKKWESSIES IN TRANSVAAL OPLOS
Genl. J.H.M. Kock het hom heel vroeg in sy lewe onderskei as ’n besonder bekwame persoon wat beide op die slagveld en in die openbare lewe goed gebruik kon word. Op die betreklike jeugdige ouderdom van slegs 12 jaar het hy sy vuurdoop in die slag van Boomplaas, waar hy saam met genl. A.W.J. Pretorius geveg het, ontvang.
Daarna het hy die gewone trappe van sosiale bevordering bestyg, eers veldkornet geword en in daardie hoedanigheid troue diens verrig in meer as een strafekspedisie teen die [rassistiese term in oorspronklike bron]s asook as mondstuk van sy burgers. Daarna word hy landdros van Potchefstroom, en eindelik die verteenwoordiger van die distrik Potchefstroom in die Volksraad.
Weens sy heldere insig maar tewens kalme en besadigde optrede, was hy in die Volksraad ’n baie groot krag en is van sy dienste goeie gebruik gemaak, soos duidelik blyk uit die groot aantal kommissies waarop hy benoem is. In 1872 word hy vir die eerste keer op so ’n kommissie benoem toe hy saam met ander persone die hele kwessie van predikantesalarisse moes nagaan en onder andere die verhouding tussen die verskillende kerkgenootskappe moes bepaal.
Hierdie kommissie het met die aanbeveling gekom dat alle predikante van Protestantse Kerke, uit die staatskas besoldig moet word. Daardeur is ’n bevredigende oplossing aan ’n brandende en lastige probleem verkry.
Ander kommissies waarop hy gedien het, was die begrotingskommissie, die kommissie wat ingekome memories in behandeling geneem het, die kommissie om verslag uit te bring op president Burgers se wetsontwerp op die delgingsfonds, en die kommissie wat benoem is om met voorstelle te kom ten opsigte van president Burgers se voorgenome spoorwegbou.
In 1891 word hy notulehouer en lid van die Uitvoerende Raad.
Met die uitbreek van die Tweede Vryheidsoorlog word hy aangestel as generaal, en opgedra om die spoorwegverbinding tussen Dundee en Ladysmith te bemeester.
Hierdie opdrag kon genl. Kock nie tot die einde toe deurvoer nie omdat hy feitlik in die eerste groot slag aan hierdie front, dié te Elandslaagte, op 21 Oktober 1899, swaar gewond is. In die gewonde toestand is hy ’n hele ruk onversorgd op die slagveld gelaat, en selfs van sy besittings beroof. Eers die volgende dag is hy deur die vyand vervoer na Ladysmith, waar hy op 31 Oktober oorlede is. Sy stoflike oorskot is daarna deur die Engelse uitgelewer, waarna hy met militêre eerbewyse in Pretoria begrawe is.
Neem op 12-jarige leeftyd aan Slag van Boomplaats deel
Bron: Aucamp, G. (red.). 1947. Suid-Afrikaanse Heldegalery. Kaapstad: M. Rieck.
Foto: JHM Kock (De Oorlog in Zuid-Afrika, Penning)
