JOSEPH BENJAMIN ROBINSON (1840-1929)

MYNMAGNAAT EN VRIEND VAN DIE BOERE

Onder die skaar voortreflike manne aan wie Suid-Afrika dank verskuldig is omdat hulle in die een of ander opsig opgetree het as boumeester wat gestalte gegee het aan ons volksgebou, is Joseph Benjamin Robinson seker nie die minste nie.

Hy het homself onderskei as baanbreker wat deur eie inisiatief, ywer en ambisie ’n groot bydrae gelewer het tot ons nywerheidsontwikkeling, en veel gedoen het om ons vaderland te Iaat verrys van ’n onbenullige land, onbekend onder die volkere, tot ’n brandpunt van internasionale belangstelling.

Joseph Benjamin Robinson is te Cradock gebore op 3 Augustus 1840, en het aldaar opgegroei. Hy was die seun van Britse setlaars, dog het daagliks in aanraking met die langer gevestigde bevolking gekom en sodoende die land en sy volk deeglik leer ken en liefkry.

Sy selfstandige loopbaan het hy begin as rondreisende handelaar – hoofsaaklik in wol – en naas bekendheid onder die Boerebevoking in die Kaap-kolonie en die Vrystaat, ook die besigheidservaring opgedoen wat hom later so goed te pas gekom het. Dat hy hom met die Boere volkome vereenselwig het, het hy bewys toe hy in 1865 saam met die Vrystaters deelgeneem het aan die oorlog teen Mosjesj.

Met die ontdekking van diamante in Grikwaland-Wes het hy hom daarheen begewe. Deur sy onvermoeide ywer, deursettingsvermoë en versigtige finansiële administrasie, en begunstig deur die geluk, het hy binne korte tyd soveel aansien bygevoeg by dié wat hy reeds deur ’n beminlike persoonlikheid verwerf het, dat hy spoedig die erkende leier van die delwers geword het.

Ongeveer 1869 is hy deur die Vrystaatse regering benoem tot vrederegter oor die gebied, en sedertdien het sy invloed vinnig vermeerder. In 1880 is hy verkies tot burgemeester van Kimberley, en twee jaar later tot Parlementslid vir dié kiesafdeling. Daarby het hy op verskillende plaaslike delwersliggame gedien, en al sy kragte ingewerp om die diamantnywerheid vooruit te help.

Met die ontdekking van goud op die Witwatersrand in 1885 is hy na Transvaal, waar hy die plaas Langlaagte gekoop en begin meedoen het aan die goudgrawery. Soos te Kimberley het die geluk hom ook hier begunstig, en na enige jare was hy ’n alombekende mynmagnaat en grootkapitalis.

Hy het ’n leidende rol gespeel in verband met die oprigting van die Goudstad en die ontwikkeling van die goudmynbedryf, en het vir homself in die geskiedenis van die ontstaan en vooruitgang van Johannesburg ’n onsterflike plek verower.

Soos in die Kaapkolonie het hy ’n lewendige belangstelling getoon in die politieke aangeleenthede van Transvaal, dog anders as die meeste ander grootkapitaliste, nie deelgeneem aan die agitasie teen die regering nie. Inteendeel, sy blad, The Press Weekly het die Transvaalse regering getrou probeer steun, en Robinson het dan ook die agting en vriendskap van pres. Kruger en die Boerevolk geniet.

Na die val van die Republieke het hy die vriend van die Boere gebly en geen geringe deel bygedra tot die rehabilitasie van die bevolking in Transvaal en die Vrystaat nie.

Tot met sy heengaan in 1929 het hy sy belangstelling vir die volk van Suid-Afrika bly behou, soos blyk uit die laaste gedagtes wat hy neergeskryf het. Dit lui as volg: “Suid-Afrika is my vaderland. Aan hom klem ek vas met die hartstog van ’n patriotisme wat geen hoër strewe ken as om hom vreedsaam en tevrede, welvarend en verenig te sien nie, sonder om van enige verskil bewus te wees wat vervreemding tussen die een ras en die ander kan veroorsaak.”

Suid-Afrika is my vaderland. Aan hom klem ek vas …

Bron: Aucamp, G. (red.). 1947. Suid-Afrikaanse Heldegalery. Kaapstad: M. Rieck.