JRR TOLKIEN (1892-1973)

JRR Tolkien was ’n Engelse skrywer wat veral bekendheid verwerf het vir sy romantriologie Lord of the Rings.

John Ronald Reuel Tolkien is op 3 Januarie 1892 in Bloemfontein gebore. Sy pa, Arthur, was van Engelse herkoms, hoewel die Tolkien-stamvader (ene Toll-Kühn) in die agttiende eeu uit Sakse in Duitsland na Engeland verhuis het. Arthur Tolkien was ’n Britse bankbestuurder en het na Suid-Afrika gekom omdat hy gereken het dat sy kanse op bevordering beter sou wees. Hy het hom in Bloemfontein gevestig waar sy bruid, Mabel Suffield, ook van Engelse herkoms, haar by hom aangesluit het.

Tolkien het as volwassene min herinneringe aan sy kinderdae in Bloemfontein gehad maar die bietjie wat daar was, kon hy helder voor die gees roep, tot so ’n mate dat dit sy geskrifte op ’n manier beïnvloed het. Een van sy herinneringe was ’n ondervinding met ’n harige spinnekop. Sy verblyf in Bloemfontein, en ook in Suid-Afrika, was kortstondig omdat hy vier jaar oud was toe sy pa oorlede is. Dit het beteken dat hy, sy ma en sy boetie Hilary na Engeland moes terugkeer. Hulle het hulle mettertyd in Birmingham gevestig. In die 1990’s het lede van die Suid-Afrikaanse Tolkien-vereniging Arthur Tolkien se graf herontdek; dit lê in die Staatsakker waar sommige van Suid-Afrika se presidente begrawe is. Sy testament is ook in die argiewe ontdek.

Die vaderlose Tolkien-gesin het gesukkel om kop bo water te hou, veral toe Mabel die Katolieke geloof aangeneem het. Dit het haar heeltemal van haar familie vervreem; Ronald en Hilary is egter in hierdie geloof geskool en hulle het hul lewens lank stoere Katolieke gebly. In 1904 het ’n ramp die gesin getref toe diabetes by Mabel gediagnoseer is. Die geneesmiddels van vandag was toe nog nie beskikbaar nie en daarom was dit ’n doodsvonnis. Mabel is inderdaad oorlede, met die gevolg dat die twee seuns in uiterste armoede moes leef. Hul priester, Francis Morgan, wat half van Spaanse en half van Walliese herkoms was, het hom oor die seuns ontferm en vir hul verdere opvoeding gesorg.

In hierdie tyd het Tolkien al sy merkwaardige taalkundige talent ontdek. Hy het Grieks en Latyn bemeester en sy eie tale opgemaak net omdat dit vir hom lekker was. Hy het Edith Brad ontmoet toe hy sestien jaar oud was; sy was drie jaar ouer as hy maar hul verhouding het geleidelik verdiep. Vader Francis het hom verbied om haar te sien of selfs vir haar te skryf totdat hy 21 jaar oud was. Hy het na Exeter College gegaan waar hy hom tot in 1913 in klassieke tale verdiep het. Hy het die ou bande met Edith probeer vernuwe. Op die ou einde het hy haar hart verower en sy het self die Katolieke geloof aangeneem. Die Eerste Wêreldoorlog het in Augustus 1914 uitgebreek.

Anders as sy tydgenote het Tolkien hom nie dadelik by die leër aangesluit nie, maar eerder aan Oxford gaan studeer en in 1915 ’n graad in die eerste klas verwerf. Hy is uiteindelik gestuur om aktiewe diens aan die Westelike Front te verrig. Na vier maande in en uit die loopgrawe het hy ’n slagoffer van “loopgraafkoors”, ’n tifusagtige infeksie wat volop in onhigiëniese toestande voorkom, geword. Hy is gevolglik teruggestuur na Engeland, waar hy ’n maand in ’n hospitaal in Birmingham deurgebring het. Hy het daar sodanig herstel dat hy hom by Edith in Great Haywood, Staffordshire, kon aansluit. Die koors het hom dwarsdeur 1917 en 1918 weer beetgepak, maar hy was gesond genoeg om tuisdiens in verskillende kampe te verrig en tot die rang van luitenant bevorder te word. Toe hy by Hull gestasioneer is, het hy en Edith in die nabygeleë Roos in die woude gaan stap en sy het in ’n bos vir hom gedans. Dit het die inspirasie geword van die verhaal van Beren en Luthien, ’n herhalende tema in sy werk Legendarium, geword. Hy het aan haar as Luthien gedink en aan homself as Beren. Hul eerste seun, John, wat later ’n priester sou word, is op 16 November 1917 gebore.

Toe die wapenstilstand op 11 November 1918 onderteken is, was Tolkien reeds op soek na akademiese werk. Hy het ’n tyd lank vir die Oxford English Dictionary, wat toe nog in wording was, gewerk, en in die somer van 1920 is hy as adjunkprofessor in Engels by die Universiteit van Leeds aangestel. Nog twee seuns is in hierdie tyd gebore. In 1925 het hy ’n pos as professor aan Oxford ontvang. In 1929 het Edith die lewe geskenk aan hul jongste kind en hul enigste dogter, wat net soos die seuns ’n groot rol sou speel om sy vrugbare verbeelding te stimuleer. Hy het baie slaaptydstories vir sy kinders, wat later in boeke verewig is, vertel.

Dit was egter nie waar sy beheptheid met die Middelaarde begin het nie. Hy het self vertel hoedat hy een dag besig was om studente se eksamenvraestelle na te sien toe hy opgemerk het dat ’n student een bladsy van sy antwoordeboek blanko gelaat het. Hy het op hierdie bladsy geskryf: “In a hole in the ground there lived a Hobbit.” Tipies van hom het hy dadelik uitgevind wat ’n Hobbit is, in watter soort gat hy woon, en hoekom hy hom in ’n gat gaan tuismaak het. Hieruit het ’n storie begin groei wat hy vir sy kinders begin vertel het en waarvan ’n onvoltooide getikte manuskrip in 1936 in ’n uitgewer se hande beland het. Tolkien is gevra om die manuskrip te voltooi en die voorsitter van die uitgewersmaatskappy, Stanley Unwin, het dit aan sy tienjarige seun, Rayner, voorgelê. Nadat die kind ’n verslag van goedkeuring geskryf het, is dit in 1937 as The hobbit gepubliseer.

Die boek was dadelik ’n sukses en kinders het nog nooit opgehou om dit aan te beveel nie. Dit was so gewild dat Stanley sr. vir Tolkien gevra het of hy nie dalk soortgelyke geskrifte gehad het wat hy kon uitgee nie. Uiteindelik het dit ontwikkel tot iets meer as net ’n kinderverhaal, naamlik die komplekse sestienjarige geskiedenis van dit wat The Lord of the Rings sou word. Unwin het as volwassene diep betrokke geraak in die latere stadiums van die opus. Hy het op ’n uitmuntende manier saam met ’n talmende en temperamentele skrywer gewerk wat op ’n stadium die hele werk aan ’n mededingende uitgewer voorgelê het. Hierdie uitgewer het egter gou koue voete gekry toe hy die presiese aard en omvang van die hele werk besef het.

Dit was danksy Rayner Unwin se voorspraak dat The Lord of the Rings hoegenaamd gepubliseer is. Sy pa se firma het besluit om die moontlike verlies van ’n duisend Britse pond vir die werk te dra en dit in 1954 en 1955 in drie dele uit te gee. Dit was gou duidelik dat die skrywer en die uitgewer die gewildheid daarvan heeltemal onderskat het.

Tolkien het gemengde gevoelens oor sy roem ervaar. Aan die een kant het hy gevlei gevoel en tot sy verbasing ryk geword. Aan die ander kant het die feit dat sekere destydse dwelmslawe dit as ’n “great trip” beskou het om The Lord of the Rings saam met LSD te verteer, hom gewalg.

Nadat hy in 1969 afgetree het, het hy en sy vrou in Bournemouth gaan woon, waar Edith in November 1971 oorlede is. Hy het daarna na Oxford teruggekeer waar hy op 2 September 1973 oorlede is.

In 1997 was hy bo-aan drie groot meningspeilings waarin mense gevra is om vir die grootste boek van die twintigste eeu te stem. Die drie dele van The Lord of the Rings is ook verfilm en in drie dele tussen 2001 en 2003 vrygestel.

deur Daantjie Badenhorst