KAALVOETVROU NABY KERKENBERG

Die Boererepubliek van Natal wat in 1840 tot stand gekom het, het ’n kortstondige bestaan beleef. Op 15 Julie 1842 word ’n veelbewoë era in die geskiedenis van die Afrikanervolk, wat in 1836 met die Groot Trek begin het, beëindig toe die Volksraad ’n “Declaratie van onderwerping aan het gezag van die Britse koningin” onderteken het. Terwyl Britse gesag deur ’n deel van die Natalse burgers aanvaar is, en aangesien dit na urelange onderhandelings met kolonel Henry Cloete geblyk het dat Brittanje nie net in die Natalse kuslyn belangstel nie, het die mans die situasie geredelik aanvaar, maar nié die vroue van Pietermaritzburg nie. Onder leiding van mevrou Susanna smit, vrou van eerwaarde Erasmus Smit en suster van Gert Maritz, het ’n deputasie van vroue ’n onderhoud van ongeveer drie uur met die kolonel gevoer.

Hy is onder meer meegedeel dat die vroue van die Groot Trek die reg verkry het om oor die toekoms van hul land te praat, aangesien hulle aan die veldslae op die trek saam met hul mans deelgeneem het. Hulle het hom ook vertel van die bittere lyding en beproewinge van die trekpad, en die gesprek is afgesluit met ’n waarskuwing wat die Afrikaner-gebore offisier van die Britse mag ontstel het: Ons loop liewer kaalvoet terug oor die Drakensberg as om onder Britse juk te buig.

Langs die Retiefpas oor die Drakensberg het die Voortrekkerbeweging van die Oranje-Vrystaat ’n lewensgroot beeld van ’n kaalvoetvrou laat oprig, om die moed en die daadkrag van die Voortrekkers, en dan veral die onverskrokkenheid en deursettingsvermoë van die vroue, uit te beeld. Die beeld staan ongeveer 60 km van Harrismith, wes van die Sterkfonteindam. Ongelukkig is dit net bereikbaar met ’n vierwielaangedrewe voertuig en met die toestemming van die huidige eienaar van die plaas.

Die vrouebeeld met die Voortrekkerdrag van die tyd, is geskep deur Alfonso Smuts. Sy kyk terug oor die land wat met baie bloed gekoop is, maar wat nou weer verlaat word, omdat hul vryheidstrewe steeds nie bevredig is nie.

Op 12 Oktober 1977 is die beeld deur meneer Fanie Maree, toe eienaar van die plaas, onthul.

Bron: Van Heerden, M. 1989. Voortrekkervroue. In Afrikanerbakens, Aucklandpark: FAK, pp. 256–258.