
KLIPSTAPEL: DIE SANDRIVIER-KONVENSIE, DIST. WINBURG
Omtrent 30 km noord van die ou Voortrekkerdorpie Winburg loop die nasionale pad oor golwende heuwels tussen die bouvalle van Leghojakrale deur en daal dan skielik af na die Sandrivier. Net anderkant die brug aan die oostekant van die pad is daar ’n knoppie agter doringbome. Op hierdie knoppie, omring deur die oorblyfsels van die fondamente van ’n ou plaashuisie, staan ’n klipstapel met ’n bronsplaat daarop wat die plek se betekenis aandui. Dit is hier waar die soewereine onafhanklikheid van die Transvaal op 16 Januarie 1852 erken is deur die ondertekening van die Sandrivierkonvensie deur die Britse assistent-kommissarisse W.S. Hogge en C.M. Owen aan die een kant en die Boeregeneraal A.W.J. Pretorius aan die ander kant.
Deur hierdie konvensie is die bestaan van ’n onafhanklike Boererepubliek in die noorde vir die eerste keer deur die Britse regering offisieel erken. Talle faktore het tot hierdie frontverandering in die Britse beleid bygedra.
Allereers, die Industriële Revolusie het Engeland in ’n industriële staat omgeskep, en dié se eerste belang was handel. Kolonies wat nie ’n direkte bydrae daartoe gelewer het nie, is beskou as ’n Ias. So ‘n Ias was die Suid-Afrikaanse kolonies, want aan die Oosgrens van die Kaapkolonie in Natal en in die Oranjerivier-Soewereiniteit is die Britse gesag deur die Bantoe bedreig en dit het groot koste vir die staatskas meegebring. Bowendien was die groot belangstelling vir die welvaart van die Bantoe in Engeland aan afneem. Gevolglik was daar in die Britse parlement ‘n kragtige beweging ten gunste van die opgee van die koloniale gebiede in Suid-Afrika.
En dit was juis in hierdie tyd dat toestande in die Soewereiniteit ellendig was en nog verder versleg is deur die inmenging van genl. A.W.J. Pretorius van die Transvaal aan die kant van Boere en Mosjesj. Gevolglik was daar ’n gunstige reaksie op Pretorius se versoek dat ’n Britse kommissie aangestel moes word om die betrekkinge tussen Transvaal en die Britse owerheid in Suid-Afrika te ondersoek. Die Kommissarisse Hogge en Owen is na die Soewereiniteit gestuur. Hulle het Pretorius by die Sandrivier ontmoet. Die byeenkoms het groot belangstelling dwarsdeur die Soewereiniteit gewek en uit alle oorde het die Boere daar aangekom om die onderhandeling by te woon. Ongeveer vyftig waens was hier in ’n laer getrek en saam met die groot Transvaalse kommando wat Pretorius vergesel het, was daar om en by die vyfhonderd Boere.
Die byeenkoms het op ’n dramatiese wyse aangevang. Hogge en Owen en twee van hul lansiers het probeer om die perdedief, Adriaan van der Colff, wat ook hier opgedaag het, te arresteer. Maar hy het ontsnap agtervolg deur ’n paar Boere en ’n paar lansiers. Hierna het ’n klompie republikeinsgesinde Winburgers onrus probeer stook, maar die nege artikels van die traktaat is sonder veel moeite opgestel en deur albei partye onderteken. Daarvolgens het Groot-Brittanje die soewereine onafhanklikheid van Transvaal formeel erken en onderneem om geen verdrae met die nie-blanke stamme ten noorde van die Vaalrivier te sluit nie.
So is hier op Vrystaatse bodem die grondslag vir die latere Zuid-Afrikaansche Republiek gelê.
(Bronsplaat 1958)
Bron: Oberholster, J.J. 1972. Die Historiese Monumente van Suid-Afrika. Kaapstad: Die Kultuurstigting Rembrandt van Rijn, pp. 223.